Seredine Jacobs, die aanklaer op Eenhana, sê sy is verlede week in haar huis op die dorp aangeval. FOTO KENYA KAMBOWE
Seredine Jacobs, die aanklaer op Eenhana, sê sy is verlede week in haar huis op die dorp aangeval. FOTO KENYA KAMBOWE

Aanklaer sê sy vrees vir haar lewe

Derde poging tot huisbraak
Senior polisiebeamptes beweer die aanval is georkestreer, omdat sy glo nie meer op Eenhana wil bly nie.
Kenya Kambowe
Die staatsaanklaer by die landdroshof op Eenhana, sê sy vrees vir haar lewe nadat sy verlede week ’n mesaanval in haar huis op die dorp oorleef het.

Volgens Seredine Jacobs was dit die derde poging om by haar staatsverblyf, waar sy sedert Mei woon, in te breek.

In ’n onderhoud met Network Media Hub (NMH) het sy gesê sy het omstreeks 23:00 wakker geword van skurke met balaklawas wat aanhoudend aan die traliedeur gehamer het.

Toe Jacobs wou seker maak dat die traliedeur gesluit was, het een van die skurke glo haar pols gesny met wat sy vermoed ’n mes was. Sy het vir hulp gebel, wat die oortreders op die vlug laat slaan het.

Hierdie aanval kom te midde van ’n sloerstaking deur landdroste en hofbeamptes landswyd oor kwessies rakende vergoeding en hul veiligheid by die werk en hul huise.

Tydens haar onderhoud met NMH het Jacobs ’n verband om haar linkerarm gehad. Met verwysing na haar ervaring het sy gesê dit is waaraan hofbeamptes blootgestel word en dat hul veiligheid nie gewaarborg kan word nie.

Sy het ook kommer uitgespreek oor die feit dat die polisie nie die toneel ondersoek het nie.

“Die polisie was hier, maar hulle het nie die voetspore gevolg wat selfs die oggend nog sigbaar was nie. Hulle het ook nie vingerafdrukke geneem nie.

“Hulle het my net gevra wat gebeur het en dit was dit,” het Jacobs gesê.

Volgens haar was sy die teiken en nie haar eiendom nie, want geen poging is aangewend om haar luukse voertuig, wat buite geparkeer was, te steel nie.

“As ek nie die teiken was nie en dit was om my te beroof, waarom is daar nie by die motor ingebreek nie?”

Jacobs praktiseer sedert 2001 en sê die lewens van staatsaanklaers word nog altyd bedreig, hetsy in die hof of op straat.

Sy het verwys na ’n saak waarin sy die staatsaanklaer op Hentiesbaai was, waartydens die beskuldigde uit die hofbank gespring en die hofsaal se deur geblokkeer het en gesê het niemand mag die hof verlaat nie.

“As iemand wat nie nonsens duld nie en myself kan verdedig, het ek vir myself opgestaan en myself daar uitgekry. Sulke voorvalle gebeur baie.

“Diegene wat my ken, ken my karakter. Ek word nie maklik geboelie nie, maar dit beteken nie ek en my kollegas moet aan ons eie lot oorgelaat word om onsself te verdedig nie. Ons het ten alle tye beskerming nodig,” het Jacobs gesê.

Die aanval op haar volg net weke nadat ’n beheeraanklaer op Ongwediva geskiet en met suur gegooi is.

‘GEORKESTREER’

Verskeie hooggeplaaste polisiebeamptes het by navraag deur NMH egter beweer dat Jacobs die aanval en die poging tot roof georkestreer het.

“Sy het net voordeel uit die situasie getrek. Sy is nie gelukkig in Eenhana nie en wil by haar familie gaan woon,” het ’n senior polisiebeampte gesê.

Aanklaers het ’n eed afgelê wat die aanklaer-generaal toelaat om hulle na enige streek oor te plaas sonder om ’n sê in die besluit te hê.

Pogings om kommentaar van Ohangwena se polisiebevelvoerder, kommissaris Otillie Kashuupulwa, oor die voorval te kry, was teen druktyd onsuksesvol. Kashuupulwa was een van die wetstoepassers wat Jacobs se huis ná die beweerde aanval besoek het.

Jacobs het op haar beurt gesê sy is geskok oor die polisie se bewerings oor die voorval.

“Ek was verbaas hoe mense, insluitend die polisie, kan dink dat iemand wat sedert 2001 na alle uithoeke van die land verplaas is, in staat is om ’n inbraak te pleeg en hul eie pols te sny,” het sy gesê.

“Waarom sal ek myself en my familie deur so iets sit? Wag hulle dat ek doodgemaak word en ’n statistiek word?

“Hoe verwag jy aanklaers oraloor die land moet voel wanneer hulle hoor ons kan nie vertrou word nie, terwyl ons altyd in vrees moet leef? Dis baie hartseer om die minste te sê.” – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-02-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer