'Moenie sloer met toekoms van olie'
Namibië kan die vertroue van beleggers ondermyn en miljarde dollars se olie- en gasbeleggings vertraag indien voorgestelde wysigings aan die Petroleumwet (Eksplorasie en Produksie) No. 2 van 1991 nie sonder versuim aanvaar en geïmplementeer word nie.
Dit is die waarskuwing van die energie-, olie- en gasprokureur, Shakwa Nyambe, wat die besturende vennoot by SNC Incorporated is.
Hy het die wetsontwerp ontleed en voer aan dat die hervormings noodsaaklik is om Namibië voor te berei vir ’n oorgang van ’n eksplorasie- na ’n volwaardige petroleumproduserende land.
Kern tot die wysigings is die vestiging van ’n nuwe Upstream Petroleum-eenheid in die kantoor van die president, tesame met ’n verreikende herverdeling van bevoegdhede weg van die minister van myne, energie en nywerheidsontwikkeling.
Volgens die ontleding was die bestaande bestuursraamwerk “werkbaar gedurende dekades van beskeie eksplorasie-aktiwiteit”, maar dit dien nie meer sy doel in die konteks waar Namibië, ná groot aflandige ontdekkings, met “veelvuldige grootskaalse projekte” te doen het nie.
Nyambe dui aan dat ministeriële beheer oor lisensiëring, goedkeurings en toesig kwesbaar is vir burokratiese vertragings en politieke druk, veral namate die sektor in omvang en kompleksiteit groei.
“Die konsepwet volg hierdie benadering deur die meeste operasionele bevoegdhede van die minister na die nuwe direkteur-generaal van die Upstream Petroleum-eenheid oor te dra,” lui die ontleding.
“Die minister, wat steeds algeheel vir myne- en energiebeleid verantwoordelik bly, doen dus afstand van die daaglikse lisensiëringsbevoegdheid, wat enige persepsie wegneem dat politieke oorwegings tegniese meriete in besluitneming kan oorheers.”
Onder die voorgestelde raamwerk word die direkteur-generaal van die Upstream Petroleum-eenheid die primêre besluitnemer oor tegniese en kommersiële regulatoriese aangeleenthede, ondersteun deur ’n adjunk-direkteur-generaal wat effektief die huidige petroleumkommissaris vervang.
Nyambe beklemtoon dat dit nie ’n magsvergryp deur die presidensie is nie, maar ’n strukturele skeiding tussen beleid, politiek en regulering.
“Die direkteur-generaal, as hoof van die Upstream Petroleum-eenheid, sal ’n gespesialiseerde tegnokraat wees wat vir kundigheid en integriteit aangestel word, met die taak om die petroleumwette en -beleide objektief toe te pas,” voer die ontleding aan.
Strategiese toesig sou egter na die hoogste vlak van die regering verhef word.
Om die eenheid in die presidensie te huisves, is bedoel om belyning met nasionale prioriteite soos inkomste-bestuur, nywerheidsontwikkeling, omgewingsbeskerming en internasionale betrekkinge te verseker.
Olie- en gasontwikkeling, benadruk Nyambe, “raak baie nasionale belange soos finansies, ekonomiese beplanning, nywerheidsontwikkeling, omgewingsbestuur en selfs internasionale betrekkinge”, wat die president se mag om rolspelers byeen te bring, ’n praktiese noodsaaklikheid maak, eerder as ’n politieke toegeeflikheid.
PARALELLE
Die ontleding trek parallele met lande soos Senegal, Sierra Leone, Ghana en Nigerië, waar bestuurstrukture vir olie en gas ná kommersiële ontdekkings hervorm is.
“Namibië weerspieël in wese fasette van modelle wat in lande soos die Verenigde Arabiese Emirate, Sierra Leone, Ghana en Nigerië gesien word,” skryf Nyambe.
Hy voer aan dat die onderliggende beginsel konsekwent is: Om ’n toegewyde reguleerder te bemagtig terwyl aanspreeklikheid binne die staat behou word.
Benewens institusionele hervorming word die wysigings as ’n beskerming teen die sogenaamde hulpbronvloek beskryf.
Nyambe waarsku dat petroleumrykdom ontwrigtend kan word indien deursigtigheid en aanspreeklikheid nie integreer word voordat produksie begin nie.
“Groot petroleumseserwes, hoewel potensieel transformerend, dra ook risiko’s in wat die wanbestuur van inkomste, korrupsie, ongelykheid en die bekende ‘hulpbronvloek’ insluit wat sommige olieryke lande geteister het,” lui die ontleding.
Gesag oor tantième sal van die minister na die president verskuif, ’n stap wat Nyambe beskryf as ’n verhoging van aanspreeklikheid eerder as ’n verpersoonliking van beheer.
“Dit moet beklemtoon word dat die toekenning van aanstellingsbevoegdhede aan die president nie is om beheer te verpersoonlik nie, maar om die toesig na die hoogste amp te verhef as beskerming in die openbare belang,” lui die ontleding.
Dit voeg by dat die president se rol “soortgelyk aan dié van ’n trustee van die nasie se petroleumrykdom” sou wees.
Die Upstream Petroleum-eenheid sou ook ’n statutêre mandaat hê om plaaslike inhoud en deelname te bevorder, ondersteun deur die verpligtinge van rapportering wat die openbare jaarverslae oor Upstream-aktiwiteite vereis.
Nyambe voer aan dat die integrering van hierdie pligte in die wet verseker dat indiensneming, oordrag van vaardighede en deelname van burgers nie as bykomende byvoegings behandel word nie.
VERKLARING VAN BATES
Meganismes vir aanspreeklikheid strek ook tot die leierskap van die nuwe eenheid. Die direkteur-generaal en adjunk-direkteur-generaal sal verplig wees om hul bates en finansiële belange te verklaar en kan deur die president verwyder word indien hulle nie integriteit handhaaf nie.
Volgens die ontleding is dit ontwerp om “botsings van belange aan die toppunt van die regulatoriese liggaam te voorkom en te verseker dat dié wat met besluite van lisensiëring vertrou word, geen verborge belange in bedryfsrolspelers het nie”.
Beleggers, veral internasionale oliemaatskappye met wêreldwye portefeuljes, gee prioriteit aan regulatoriese sekerheid en doeltreffendheid.
“Met verskeie hoëwaarde petroleumontwikkelings op die spel, kan enige dubbelsinnigheid of traagheid in Namibië se institusionele raamwerk buitelandse beleggers afskrik, vertroue wegkalwe en uiteindelik die land se vermoë in gevaar stel om op sy olie-ontdekkings te kapitaliseer,” maan die ontleding.
Vertragings kan ook die momentum met lisensiëring laat stagneer en inkomste uitstel wat in werksgeleenthede en ontwikkeling omgesit te word.
“Elke maand en jaar se vertraging om eerste by olie uit te kom, kan direk geleenthede vir Namibië kos,” skryf Nyambe.
Hy waarsku dat langdurige onsekerheid openbare frustrasie en politieke risiko kan aanwakker.
Nyambe doen ’n beroep op die parlement om die konsepwet as ’n nasionale prioriteit te hanteer eerder as ’n tegniese aanpassing.
“Namibië kan nie vertraging of besluiteloosheid bekostig nie,” lui die ontleding.
Dit waarsku dat versuim om die wysigings aan te neem finale beleggingsbesluite kan vertraag, insluitend oor die Venus-ontdekking.
Die aanvaarding van die wetsontwerp, voer hy aan, sal ’n duidelike boodskap stuur dat Namibië gereed is om sy petroleumhulpbronne “wys en proaktief vir die voorspoed van huidige en toekomstige geslagte” te bestuur.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie