Verdediging ontvang N$5,8 miljard

Jong soldate word benodig
Minister Frans Kapofi sê dié reusebedrag is nodig om die land teen onder meer terrorisme en seerowery te beskerm.
Augetto Graig
Die minister van verdediging en veterane sake, mnr. Frans Kapofi, het Dinsdag voor die parlement die begroting vir sy ministerie vir die 2022-’23-boekjaar gemotiveer.

Die ministerie verantwoordelik vir die land se weermag (NDF) ontvang vanjaar sowat N$37 miljoen minder as verlede jaar. Kapofi vra spesifiek vir N$5 847 695 000.

Dié reusebedrag is volgens hom nodig om die land teen onder meer terrorisme en seerowery te beskerm.

“Die bedreiging van terrorisme en gewelddadige ekstremiste het sy lelike kop in Afrika uitgesteek, soos in Oos- en Wes-Afrika, asook in die Horing van Afrika, die Demokratiese Republiek van Kongo (DRK) en Mosambiek. Terrorisme is lewend as gevolg van die bestaan van kriminele sindikate wat hul bedrywighede finansier. Terrorisme floreer in 'n omgewing waar verdediging- en sekuriteitstelsels gekompromitteer of ondoeltreffend is,” sê die minister.

Hy sê Namibië se seebodemdiamante en die oliebronne wat onlangs ontdek is, mag seerowers lok.

“Nie net sou die seerowers die werkers, vaartuie en installasies op see teiken nie, hulle sal ook ons grondgebied wil gebruik om ons bure aan te val. Ons lei dus ons militêre personeel op om gereed te wees en te verseker dat ons grondgebied onaantasbaar is. Sulke voorbereidings, agbare lede, kom nie goedkoop nie,” sê hy.

“Ons moet die toesig- en reaksievermoë van die weermag verbeter. Ons moet op dieselfde trant ons kapasiteit om beskerming aan strategiese ekonomiese beleggings in alle sektore van ons ekonomie en nasionale sleutelpunte te bied, verbeter. Ons moet verseker dat ons territoriale ruimte nooit as 'n lanseringspunt gebruik word vir die destabilisering van ons buurlande se veiligheid nie,” dring hy aan.

Volgens Kapofi gee die begroting die ministerie en die weermag die nodige buigsaamheid daarvoor.

Verder is dit nodig om meer jong mense na die weermag te lok.

“Die afgelope jare het 'n ongekende omset van geharde en ervare soldate, matrose en vlieëniers uit die NDF gesien, sodanig dat al die voormalige vegters binne die volgende tien jaar hul aftree-ouderdom sou bereik het. 'n Dringendheid bestaan om jonger weermagslede aan te stel ten einde die generasiegaping te verklein en ook om ervaring en wysheid aan die jonger geslag oor te dra. Hierdie sou die werwing van opgevoede jong kaders vereis,” brei Kapofi uit.

Die minister sê die begroting sal ook gebruik word om die moniteringsvermoë op land, in die lug en op see te verbeter. Asook vir vinniger reaksie en wetstoepassing op see; om die verdedigingsbedryf te ontwikkel om onafhanklik te wees, en vir die verbetering van die weermag se gesondheidsdienste.

Die kapasiteit om noodhulp aan burgerlike owerhede te verskaf; en die verbetering van kapasiteit om aan streekverdedigings- en veiligheidsveldtogte deel te neem, sal ook 'n prioriteit wees, sê hy. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2022-12-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer