Minister Lucia Iipumbu het genooide gaste en die publiek Donderdag toegespreek. Foto Iréne-Mari van der Walt
Minister Lucia Iipumbu het genooide gaste en die publiek Donderdag toegespreek. Foto Iréne-Mari van der Walt

Publiek se insette gevra vir e-ID’s

Bekendstelling beoog vir volgende jaar
Dit sal nie meer nodig wees vir burgers wat 'n e-ID het om afskrifte van identiteitsdokumente te hê wanneer hulle van staatsdienste gebruik maak nie, volgens minister Lucia Iipumbu.
Iréne-Mari van der Walt
Die ministerie van binnelandse sake, immigrasie, veiligheid en sekuriteit moedig kenners en lede van die publiek aan om hul insette te lewer oor die ontwikkeling van die elektroniese identiteitsdokumente (e-ID’s) deur ’n e-pos na [email protected] te stuur.

Die ministerie beoog om e-ID’s teen die middel van volgende jaar bekend te stel.

Dié soort tegnologie is nog nie aan die publiek beskikbaar nie en ontwikkeling is in sy kinderskoene.

Festus Abiator, ’n administratiewe beheerbeampte in die ministerie, het Donderdag tydens die bekendstelling van die ministerie se bewusmakingsveldtog vir e-ID’s verduidelik ’n e-ID is ’n identiteitskaart met ’n tegnologiese skyfie wat geskandeer kan word. ’n Vingerafdruk word dan gebruik om die persoon se identiteit te verifieer.

“Ons kan in ’n latere stadium kyk na hoe ons die tegnologie kan uitbrei om ander dienste soos byvoorbeeld gesondheidsdienste in te sluit,” het hy aan Network Media Hub (NMH).

Abiator is egter bewus van moontlike uitdagings wat hieruit kan voortspruit.

“Elke soort tegnologie het sy voor- en nadele, maar met ’n e-ID kan ons na doeltreffende dienslewering streef,” het hy aan teenwoordigers gesê, wat lede van die publiek ingesluit het.

Die ministerie het die publiek na die informele geleentheid (unconference) genooi om “duidelike, deursigtige antwoorde” vir hulself te kry. Abiator het ook gesê dié tegnologie kan in verskeie rigtings uitgebrei word, afhangende van die publiek se aanvraag.

Minister Lucia Iipumbu het by die geleentheid gesê dit sal nie nodig wees vir burgers wat ’n e-ID het om afskrifte van identiteitsdokumente te hê wanneer hulle van staatsdienste gebruik maak nie.

“Deesdae moet jy 20 afskrifte van jou ID hê – as jy NaTIS toe wil gaan, as jy jou troue wil registreer, as jy jou kind se geboorte wil registreer, as jy by skole wil registreer. . . Met ’n e-ID sal dit nie meer nodig wees om al daardie afskrifte saam te dra nie.

En as jy ’n boete wil ontduik, sal ons jou kry,” het sy geskerts.

Iipumbu het gesê die informele benadering tot die geleentheid is as gevolg van die nuwe regering.

“Die nuwe regering gaan nie voort soos gewoonlik nie. . . Hierdie informele benadering sê vir ons dat ons interaktief, deelnemend en innemend moet wees, wat beteken ek gaan nie hierheen kom en vir jou as die minister preek sonder om van jou te hoor nie.

“Ons is hier om idees te deel en te kommunikeer, sodat wanneer ons hierdie e-ID teen die middel van volgende jaar in werking stel, ons almal aan boord het,” sê sy.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-06-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer