Johan en Magda Spannenberg van Grootfontein moes weer trou om dit die keer op die regte boeke van binnelandse sake te kry.
Johan en Magda Spannenberg van Grootfontein moes weer trou om dit die keer op die regte boeke van binnelandse sake te kry.

Ou getroudes 'moet trou'

-
-
Henriette Lamprecht

Dit was maar ongemaklik om te weet die regering erken nie hul huwelik van vyf dekades nie. 

So erken ’n inwoner van Grootfontein wat heel toevallig tydens ’n besoek aan binnelandse sake moes ontdek hy en sy vrou word elkeen as enkellopend op rekords aangedui. 

Johan (70) en Magda (67) Spannenberg was inderdaad reeds 50 jaar getroud nadat hulle amptelik en volgens hul huweliksertifikaat op 15 Januarie 1976 in die Eros-kerk in Windhoek in die huwelik bevestig is. Dié boodskap van meneer en mevrou Spannenberg het egter glad nie by Namibië se ministerie van binnelandse sake uitgekom nie.

“Daar was geen rekords nie,” vertel Johan wat verduidelik hul huweliksertifikaat is aangebring in hul Suid-Afrikaanse identiteitsboekies. Om die saak te beredder en te verseker voortaan is hulle wettig in die eg verbind en man en vrou, is Johan en Magda weer op hul eerste troudatum van 15 Januarie getroud – dié keer in die NG Kerk op Grootfontein waar hulle deur ds. Dirk de Vos in die huwelik bevestig is. En ja, sê hy, daar was mense en presente! 

 

REGSMENING

’n Regspraktisyn wat naamloos wou bly, het gemaan oor die regsimplikasies wat dit vir naasbestaandes kan inhou sou hulle na veral die afsterwe van ’n eggenoot moet ontdek die huwelik is nooit wettig geregistreer nie.

“Hulle is nie wettig getroud nie,” het die bron gemaan, “selfs al was daar ’n troue of ’n seremonie, het hulle vir jare saamgewoon, hulself as man en vrou voorgestel en het die gemeenskap as getroud beskou”.

As die huwelik nooit by binnelandse sake geregistreer is nie, bestaan daar volgens die regspraktisyn “geen geldige siviele huwelik in die reg nie”. Regsimplikasies sluit in geen outomatiese regte van ’n eggenoot nie, omdat die huwelik nie erken word nie. 

Ook het die eggenoot geen outomatiese reg op erfenis-, pensioen-, mediesfonds- of sterftevoordele nie, terwyl die outomatiese reg as eggenoot op onderhoud ook nie erken word nie. Tensy anders bewys kan word, is daar ook geen gemeenskap van goedere nie en word die paartjie volgens die regspraktisyn in die oë van die reg as ongetroude lewensmaats beskou. 

Met verwysing na eiendom en bates is dit dikwels waar die grootste probleme begin, maan die regspraktisyn.

“Eiendom word nie outomaties gedeel nie,” het die bron beklemtoon.

Die menseregteprokureur Norman Tjombe sê egter ’n huwelik se geldigheid word bepaal deur die huweliksbeampte wat dit voltrek het. 

“Dit is soos as jy nie ’n geboortesertifikaat het nie – net omdat jy nie een het nie, beteken dit nie jy is nooit gebore nie,” verduidelik hy. 

Volgens Tjombe behoort onder meer burgerskappe wat uit langdurige huwelike voortspruit steeds geldig te wees. 

“Dit kan nie ongeldig wees net omdat binnelandse sake dit nie geregistreer het nie,” het hy gesê. 

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-07-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer