Oorbevolkte polisieselle ’n chroniese toestand

Vinniger afhandeling van hofsake ‘die antwoord’
Die gesamentlike ingrypings van die regering, die prokureur-generaal en die regbank moet 'n oplossing bied.
Augetto Graig
Die Namibiese polisie (Nampol) het erken dat baie, indien nie alle, polisie-aanhoudingselle landswyd erg oorbevolk is nie.

“[Die] Inspekteur-generaal, luitenant-generaal Joseph Shikongo, het ook herhaaldelik in die openbaar kommer uitgespreek oor die omvang van oorbevolking in polisieselle oraloor die land,” het Nampol se hoofwoordvoerder, adjunk-kommissaris Kauna Shikwambi, gesê.

Dit is in reaksie op statistieke wat onlangs aan die lig gekom het rakende verdagtes in polisie-aanhouding landswyd, danksy ’n aantal parlementêre besoeke vroeër vanjaar.

Tussen Januarie en Februarie vanjaar het Nampol ’n voorlegging aan politici gedoen, waarin onder meer die bevolking van die polisieselle op Gobabis as 224 verdagtes aangeteken is, terwyl die kapasiteit van die selle slegs 60 is. Die situasie op Katima Mulilo was egter meer beroerd met 262 verdagtes in selle wat slegs vir 60 mense ontwerp is. Byna 3 000 verdagtes, insluitend buitelanders, was tussen Januarie en Februarie in polisieaanhouding.

“Die syfers wissel gereeld, soos arrestasies gemaak word, borgtog betaal word en hofuitslae gefinaliseer word. Daarom weerspieël dit [syfers bygevoeg] moontlik nie die huidige situasie ten volle nie,” het Shikwambi verduidelik.

“Sedert die parlementêre besoeke het ons verskeie maatreëls ingestel om die kwessie te takel.”

’n Gesamentlike ingryping van die ministerie van binnelandse sake, immigrasie, veiligheid en sekuriteit, die prokureur-generaal en die regbank word verwag om 'n volhoubare, onderling ooreengekome oplossing te vind.

“Daarbenewens, vir die howe om die finalisering van sake te bespoedig en die aantal individue in aanhoudingselle te verminder,” het Shikwami ​​gesê.

“Oorbevolking in polisie-aanhoudingselle oraloor die land bly ’n ernstige nasionale bron van kommer, met beperkte ruimte wat druk op beide aangehoudenes en polisiehulpbronne plaas.

“Om verhoorafwagtendes in oorvol selle te bestuur, is uiters uitdagend.

“Ons beamptes doen egter steeds hul bes, prioritiseer die voorsiening van maaltye soos voorgeskryf, verseker hofbywoning, die toegang tot mediese behandeling en fasiliteer daaglikse kliniek- of hospitaalbesoeke vir diegene wat sorg of chroniese medikasie benodig,” sê sy.

Shikwambi ​​voer aan dat “riglyne geïmplementeer is om te verseker dat gevangenes menslik behandel word,” en ook dat “elke aanhoudingsel met ablusiegeriewe toegerus is vir die gebruik van aangehoudenes.”

Sy erken dat jeugdiges soms saam met volwassenes aangehou word, hoewel sê sy “in die meeste [polisie]stasies word jeugdiges nie saam met volwassenes aangehou nie. Afsonderlike reëlings word getref om hul veiligheid te verseker”.

“In gevalle waar ’n stasie [se selle] erg oorvol is, word sommige gevangenes na ander aanhoudingselle verskuif om tydelik die opeenhoping in spesifieke selle te verlig.

“Soos reeds genoem, is riglyne geïmplementeer om te verhoed dat verskillende kategorieë aangehoudenes (bv. jeugdiges en volwassenes) saam aangehou word, maar situasies verskil,” het sy uitgebrei.

Planne vir nuwe polisiekantore sluit aanhoudingselle in.

“Die uitbreiding van bestaande aanhoudingselle word nie as ’n volhoubare oplossing beskou nie.

“Die langtermynoplossing lê in doeltreffende misdaadvoorkoming en gemeenskapsvennootskap,” het Shikwambi gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-02-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer