Ons het baie belangrike projekte verloor, sê NNN
President Netumbo Nandi-Ndaitwah het erken Namibië het groot beleggingsprojekte weens burokrasie aan die kant van die regering verloor.
Dit beklemtoon ’n jarelange probleem wat veroorsaak het dat potensiële beleggings ter waarde van miljarde dollars nie verwesenlik kon word nie.
Nandi-Ndaitwah se erkenning kom teen ’n agtergrond waar beleggingsprojekte ter waarde van N$15 miljard met administratiewe en regulatoriese struikelblokke te kampe het.
Die Namibiese raad vir die bevordering van beleggings en ontwikkelings (NIPDB) het vroeër potensiële beleggings ter waarde van N$224,7 miljard geïdentifiseer wat sukkel weens beleidsonsekerheid, uitgerekte goedkeuringsprosesse en uitdagings met betrekking tot toegang tot grond.
In Oktober het die minister van internasionale betrekkinge en handel, Selma Ashipala-Musavyi, bekend gemaak 15 beleggingsprojekte staar struikelblokke in die gesig wat verband hou met toegang tot grond, omgewingsgoedkeurings, visums en ander regulatoriese vereistes.
Nog 94 projekte is in die beleggingspyplyn, met die potensiaal om ongeveer 22 000 werksgeleenthede te skep.
Nandi-Ndaitwah se erkenning tydens die bekendstelling van die Dangote-projek vir ’n brandstofbergingsfasiliteit en streekpypleiding by Walvisbaai, het hernieude aandag op die jarelange struikelblokke gevestig, wat reeds herhaaldelik deur staatsamptenare as bedreigings vir belegging en werkskepping geïdentifiseer is .
“As minister van internasionale betrekkinge en samewerking, het ek gesien hoe talle ernstige beleggers in Namibië wou belê, maar gefrustreerd geraak het deur ons burokratiese stelsels – met die gevolg dat ons baie belangrike projekte verloor het,” het Nandi-Ndaitwah gesê.
Tydens die bekendstelling van die Nigeriese miljardêr Aliko Dangote se projek Woensdag op Walvisbaai, het die president erken beleggers wat ’n skeepswerf in Erongo wou vestig, het die projek ná vier jaar se vertragings laat vaar.
“Die beleggers was ernstig en wou vorentoe beweeg. Ná vier jaar moes hulle egter onttrek,” het sy gesê.
Nandi-Ndaitwah het verdere erken burokratiese struikelblokke het ook Dangote se belegging bedreig, wat haar genoodsaak het om persoonlik in te gryp en hom te oorreed om steeds tot Namibië verbind te bly.
“Ek moes mnr. Dangote skakel en by hom pleit: ‘Hou asseblief vas. Ek sal sorg dat dit werk’.”
Sy het die projek daarna onder toesig van die kantoor van die president geplaas, met die direkteur-generaal van die Nasionale Beplanningskommissie, Kaire Mbuende, wat die taak gekry het om die implementering daarvan te koördineer.
MINISTER VAN HANDEL
’n Maand voor die bekendstelling van die Dangote-projek, het Ashipala-Musavyi soortgelyke kommer uitgespreek oor beleggers wat belangstelling weens langdurige vertragings verloor het.
Tydens ’n inligtingsessie met eerste minister Elijah Ngurare op 5 Oktober, het sy gesê die regering werk daaraan om beleggingsprojekte ter waarde van N$15 miljard te ontsluit.
Sy het gewaarsku “wanneer ’n belegger vir ’n jaar of twee moet wag, verloor hulle belangstelling”.
Tydens die sessie het dit ook aan die lig gekom 27 beleggingsprojekte, wat deur NIPDB gefasiliteer is, oor die voorafgaande drie jaar in werking getree het. Dit het ongeveer 6 600 werksgeleenthede geskep.
Ngurare het gevolgelik regeringsinstellings opdrag gegee om praktiese oplossings vir knelpunte te identifiseer en koördinasie te verbeter ten einde vertragings wat verhoed kan word, te voorkom.
In Mei verlede jaar is berig die voormalige uitvoerende hoof van NIPDB, Nangula Nelulu Uaandja, het gewaarsku potensiële beleggingsprojekte ter waarde van N$224,7 miljard sukkel om te realiseer. Beleidsonsekerheid, stadige goedkeuringsprosesse en probleme met toegang tot grond is as die redes uitgewys.
’n Verslag oor direkte buitelandse belegging waarna NIPDB verwys het, identifiseer onduidelike beleggingsaansporings en beleide oor databeskerming, vertragings in die verwerking van permitte en lisensies, sowel as beperkte toegang tot grond, as groot struikelblokke.
“Ons het ’n toevloei van beleggingsprojekte gesien wat die potensiaal het om beduidende werksgeleenthede te skep. Baie van hierdie projekte sukkel egter om weens verskeie uitdagings te realiseer,” lui die verslag.
Die beleggingspyplyn van N$224,7 miljard strek oor verskeie sektore van die ekonomie, wat toon dat die probleme nie net tot mynbou- of petroleumontwikkelings beperk is nie.
Landbou en voedselverwerking is 27,23%, gevolg deur hernubare energie met 26,24%, en metale, mynbou en verwante bedrywe met 13,37%.
Toerisme, gasvryheid en vermaak verteenwoordig 7,43%, net soos digitale en globale sakedienste, terwyl olie en gas slegs 2,9% uitmaak.
Uaandja het gewaarsku dit is nie genoeg om beleggers te lok as regeringsinstellings nie die nodige goedkeuring en sekerheid kan verskaf wat projekte nodig het om voort te gaan nie.
“Om hierdie beleggings te verwesenlik en werksgeleenthede te ontsluit, moet Namibië aandag gee aan grondbeskikbaarheid, relevante beleide en aansporings finaliseer en om die uitreiking van permitte en visums te stroomlyn om vinnige beleggingsfasilitering te verseker,” lui die verslag.
Sy het ’n prestasiestelsel met gespesifiseerde afhandelingstye vir staatsdienste aanbeveel, tesame met beter koördinasie tussen instellings wat verantwoordelik vir die goedkeuring van beleggings is.
“Daar moet ook ’n inter-institusionele komitee vir die bevordering van sakegemak en mededingendheid wees, asook ’n sperdatum vir die implementering van die voorgestelde wetlike en beleidsveranderinge.”
Dié bekommernisse is ook op internasionale vlak geopper, met die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) wat in sy beoordeling van Namibië se ekonomie ’n beroep gedoen het vir hervorming om knellende regulasies en beleidsonsekerheid te verminder. Dit sluit in vertragings in die aanvaarding van wetgewing in wat daarop gemik is om die beleggingsklimaat te verbeter.
Die fonds het die noodsaaklikheid uitgewys om groei in die private sektor en werkskepping te versterk en gewaarsku dat Namibië se afhanklikheid van mynbou en die openbare sektor nie voldoende werksgeleenthede geskep het nie.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie