Nuwe egskeidingwet sal ‘groot las op laer howe’ plaas

Regskenner gee mening oor wetsontwerp
Egskeidings kan moontlik meer kos omdat landdroshowe waarskynlik langer sal neem om verrigtinge af te handel.
Kristien Kruger
“Ons landdroshowe is tans nie bekend vir hul doeltreffendheid nie. Deur egskeidingsake by hul reeds bestaande oorlading van siviele en strafregtelike sake by te voeg, is baie gevra.”

Dit was die mening van ’n groep regskenners wat genader is oor die minister van justisie, Yvonne Dausab, se voorgestelde wetsontwerp met betrekking tot die egskeidingswet.

Dausab het die wetsontwerp op 11 Junie aan die Nasionale Vergadering (NV) voorgelê.

Een van die wysigings wat sy poog om aan te bring, is om die jurisdiksie vir egskeidingsake te verbreed sodat dit ook landdroshowe insluit en nie slegs die hoërhof nie.

“Die wetsontwerp sluit nodige wysigings aan die Hoërhofwet van 1990 en die Landdroshofwet van 1944 in.

“Hierdie wysigings is bedoel om jurisdiksie aan landdroshowe te verleen om egskeidingsverrigtinge te hanteer en sodoende die proses meer toeganklik en doeltreffend vir alle Namibiërs te maak,” lui Dausab se motivering.

Sy wys op die feit dat dit sal beteken dat mense nie lang afstande hoef te reis om toegang tot howe te verkry nie, aangesien hulle die hof sal bywoon in die landdrosdistrikte waarin hulle woon.

Die regskenners meen dat die toekenning van jurisdiksie aan landdroshowe ’n groot las op laer howe sal plaas, maar gee toe dat dit makliker en geriefliker sal wees vir partye om te skei.

“En miskien is dit op sigself genoeg rede vir hierdie wetsontwerp om aanvaar te word.”

KOSTE: MINDER OF MEER?

In Dausab se motivering voer sy aan dat egskeidingsverrigtinge tans tussen N$10 000 en N$30 000 kos.

“Dit het daartoe gelei dat soveel mense tot die dood getroud bly, al woon hulle nie meer saam nie. Hierdie scenario het dikwels verwoestende nagevolge vir gesinne en kinders,” meen sy.

Die regskenners wys egter daarop dat die laer howe soms minder doeltreffend as die hoërhof is en dit kan lei tot uitgerekte verrigtinge wat op die ou einde meer kostes tot gevolg kan hê.

“Dit is te betwyfel of ’n egskeiding in werklikheid ’n kliënt eksponensieel minder sal kos omdat vertragings in die landdroshowe na alle waarskynlikheid daartoe kan lei dat kostes oor ’n langer tydperk aangegaan word,” meen hulle.

Hulle is ook van die mening dat die wysiging nie verder ’n groot impak op die regsektor sal hê nie.

“Die kwessie is nie die regsproses nie, die grootste struikelblok in egskeidingsverrigtinge is die partye self en vir beide partye om by ’n punt te kom waar hulle saamstem oor die verdeling van hul gemeenskaplike boedel en toesigreëlings ten opsigte van die kinders wat uit die huwelik gebore is.”

Hulle voorspel egter dat mense wat dit kan bekostig om egskeidingsake in die hoërhof in te stel, sal voortgaan om dit te doen weens die doeltreffendheid daarvan.

“Partye met ’n kleiner inkomste sal waarskynlik hul egskeidingsverrigtinge in die landdroshowe in hul dorpe voer, maar hulle kan moontlik meer vertragings ondervind om ’n finale bevel van egskeiding te verkry,” meen die groep kenners, wat bygevoeg het dat die hoërhof tans egskeidingsake op ’n doeltreffende en toeganklike wyse hanteer.

Volgens hulle is vertragings in die hoërhof selde aan die hof te wyte, maar meer weens vertragings wat deur die partye veroorsaak word.

Op die vraag of landdroste in ’n posisie is om egskeidingsake te hanteer, het die groep bevestig dat hulle wel bevoeg is.

“Ja, landdroste is bevoeg – die regsproses en oorwegings ten opsigte daarvan is eenvoudig, dit is die bestuur van die eise van partye tot ’n egskeiding wat ’n saak ingewikkeld maak.”

BESKIKBAARHEID VAN INLIGTING

Dausab beoog verder om die publiek se toegang tot egskeidingsake te beperk.

“Die wetsontwerp beperk toegang tot en die publikasie van sekere egskeidingsverrigtinge, om te verseker dat vertroulikheid en die waardigheid van die partye gehandhaaf word,” lui haar motivering.

Die groep regskenners meen egter dat die beginsel van ’n oop hof ’n erkende ideaal van geregtigheid is met die doel om aanspreeklikheid in die regstelsel te illustreer.

“In ’n skuldgegronde egskeidingstelsel is dit belangrik om ’n saak in die ope hof te laat aanhoor aangesien die bewering daarvan en die geleentheid om dit te betwis in die ope hof gemaak word.

“Of ’n party getroud of geskei is, het ’n regsimpak in die samelewing en kontraktueel is dit uiters relevant as ’n mens binne gemeenskap van goedere getroud is.”

Die groep wys verder daarop dat alle verrigtinge oor die algemeen in die ope hof aangehoor word, tensy die saak sensitief van aard is en dit dan in camera gehou word.

“Oorweeg dit – hoekom sal ons as ’n samelewing meer beskermend teenoor skuld in ’n huwelik wees as wat ons teenoor ’n verkragtingslagoffer sou wees?” het die groep in die algemeen gevra.

‘NIE OM GESINNE OP TE BREEK’

In Dausab se motivering vir die wetsontwerp het sy daarop gewys dat die bedoeling daarvan nie is om gesinne op te breek nie.

“Dit is bedoel om gesinne bymekaar te hou wat saam wil wees.”

Sy verduidelik verder dat mense ’n grondwetlike reg het of hulle in ’n huwelik wil bly of nie.

“Geen geloof, morele geloofstelsel of wet behoort mense te dwing om getroud te bly nie,” meen Dausab.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer