NaTIS stel nuwe, mobiele dienste bekend

Onthul moderne eenstopgeriewe
Die ‘NaTIS op wiele’-inisiatief is van stapel gestuur om toegang en dienslewering te verbeter.
Aurelia Afrikaner

Die minister van werke en vervoer, Veikko Nekundi, het Woensdag sooi gespit vir die oprigting van ’n NaTIS-sentrum in Wanaheda in Windhoek.

Dit is ’n belangrike stap om toegang tot noodsaaklike vervoerdienste vir gemeenskappe in en om Katutura te verbeter.

Nekundi het tydens die geleentheid gesê die projek verteenwoordig “’n nuwe bladsy wat omgeslaan word in hoe dienste aan die mense van Namibië gelewer word”.

Hy het voorts die regering se verbintenis beklemtoon om dienste nader aan onderbediende gemeenskappe te bring.

Die besluit om die sentrum in Wanaheda te bou volg op ’n verrassingsbesoek deur die minister aan die bestaande NaTIS-geriewe in die noordelike nywerheidsgebied in April 2025, waar hy die toestande as “betreurenswaardig” beskryf het.

“Die geriewe was oorvol en dit het dienslewering in gedrang gebring,” het hy gesê. 

“Daar was min waardering vir die feit dat die geriewe minderbevoorregtes bedien, wat lang afstande moet aflê net om basiese dienste te ontvang.”


EENSTOPGERIEWE, MOBIELE EENHEDE

Die nuwe sentrum sal volwaardige, moderne eenstopgeriewe wees wat leerling- en bestuurstoetse, padwaardigheidstoetse vir ligte en swaar voertuie en ’n permitkantoor onder een dak bied. 

Dit sal ook ’n intelligente stelstel vir bestuurstoetse insluit wat daarop gemik is om billikheid, konsekwentheid en doeltreffendheid te verbeter.

Tydens dieselfde geleentheid het Nekundi die bekendstelling van ’n mobiele diensinisiatief, “NaTIS on Wheels”, bevestig wat dienste na landelike gebiede sal neem.

“Die mobiele eenhede sal oor-die-toonbank NaTIS-dienste aan landelike gemeenskappe kan lewer,” het hy gesê. 

“Elke streek sal ’n eenheid ontvang, sodat diegene wat nie lang afstande kan reis nie, steeds toegang tot hierdie noodsaaklike dienste het.”

Volgens Franzelle de Klerk, ’n bedryfsingenieur, sal elke mobiele eenheid tot agt leerders op ’n slag kan akkommodeer, wat beteken ongeveer 40 individue kan daagliks gehelp word, teen ’n koste van sowat N$4,2 miljoen per mobiele eenheid.


LAS VERLIG

Die uitvoerende hoof van die Paaieowerheid (RA), Hippy Tjivikua, het gesê die projek sal die las van reiskoste aansienlik verminder.

“Deur hierdie sentrum in Wanaheda te vestig, binne ’n kort afstand vir baie van ons mense, verbind ons ons daartoe om die las wat met vervoer- en brandstofkoste gepaardgaan, te beperk,” het hy gesê.

Die boukontrak is aan August 26 Construction, in vennootskap met vyf klein- en mediumgrootte ondernemings en ontluikende besighede toegeken.

Nekundi het bygevoeg dat die projek na verwagting ongeveer 200 werksgeleenthede sal skep, met die klem op die indiensneming van plaaslike gemeenskapslede en die bevordering van plaaslike besteding om ekonomiese bedrywighede aan te wakker.

“Ons praat nie net van ekonomiese insluiting nie; ons moet dit uitleef,” het die minister gesê.

Die grond vir die projek is deur die minister van landbou, visserye, water en grondhervorming, Inge Zaamwani, beskikbaar gestel – ’n stap wat, volgens Nekundi, interregering-samewerking weerspieël.

Benewens Wanaheda het die regering planne uiteengesit om NaTIS-geriewe in dorpe soos Walvisbaai, Oranjemund, Oshakati, Nkurenkuru en Mariental op te gradeer as deel van ’n breër nasionale visie om infrastruktuur te moderniseer en billike dienslewering te verseker.

Nekundi het ook aangekondig dat opgraderings aan die NaTIS-stelsel byna voltooi is, insluitend die uitrol van e-besprekings- en e-betalingsplatforms, gerekenariseerde toetsing vir leerlinglisensies, digitale bestuurslisensies en intelligente toetsstelsels.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-05-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer