Die minister van mynbou en energie, Tom Alweendo. Foto verskaf
Die minister van mynbou en energie, Tom Alweendo. Foto verskaf

Mynbou vra byna N$200 miljoen

Kragaanleg en -opwekking ‘n prioriteit
Die ministerie van myne en energie het ses teikengebiede voorgestel waarvoor die begroting geoormerk is.
Iréne-Mari van der Walt
Die minister van myne en energie, mnr. Tom Alweendo, het onlangs ’n begroting van meer as N$194 miljoen in die Nasionale Vergadering (NV) ter tafel gelê.

Alweendo het ook die beplande doelwitte vir plaaslike opwekking van elektrisiteit en ‘n toekoms in groenwaterstofenergie voorgelê.

Die ministerie se mikpunt is om vanjaar werk te maak van planne om 70% van die elektrisiteit wat plaaslike verbruik word, self op te wek.

Alweendo het ses teikengebiede voorgestel waarvoor die begroting geoormerk is.

Beleidskoördineering en ondersteuningsdienste neem die grootste stuk van die begrotingskoek met N$57,2 miljoen wat gedeeltelik vir ‘n rampherstelplan bestem is. Die opgradering en instandhouding van streekkantore is ook ‘n prioriteit. Altesaam N$49,4 miljoen is vir navorsing van geologiese hulpbronne geoormerk.

“Die beskikbaarheid van geowetenskaplike data en inligting sal na verwagting belangstelling en beleggings na die teikenstreke lok, aangesien dit die nodige inligting aan die bedryf verskaf,” sê hy.

Die ||Kharas- en Kunenestreek se mynpotensiaal moet volgens die minister ook verken word.

Van die N$42,8 miljoen wat Alweendo vir elektrisiteitsvoorsiening begroot het, sal N$20,5 miljoen vir die voorsiening van krag aan 67 publieke instansies en ongeveer 70 huishoudings gebruik word.

Die ministerie sal ook in die volgende maande die sonkragaanleg naby Usakos verwelkom.

Alweendo hoop om in sy begroting N$22,9 miljoen te gebruik vir die bevordering van beleggingsgeleenthede asook die voltooiing van die mynbou- en diamantwette.

In 2020 het die mynbousektor 10,1 % tot die bruto binnelandse produk bygedra en die doelwit om elektrisiteit aan 3 000 huishoudings en publieke instansies te verskaf, is in die 2021-’22-boekjaar oorskry.

Die ministerie kon volgens Alweendo daarin slaag om gedurende dié periode elekstrisiteit aan 4 350 huishoudings en publieke instellings te voorsien.

In die voorgestelde begroting word N$11,1 miljoen geoormerk om voorsiening te maak vir Namibië se toekoms met groenwaterstofenergie en die oliebronne wat onlangs teen Namibië se kus ontdek is.

Altesaam N$10,4 miljoen is bestem vir Namibië se deelname aan die Kimberley Proses, wat verseker dat konflikdiamante nie op wêreldmarkte verkoop word nie. Dié bedrag sal ook aangewend word om Namibiese diamante op wêreldmarkte te bevorder.

Die Omburu 20 MW-sonkragaanleg wat naby Omaruru geleë is, sal ook in Maart vanjaar met die nasionale kragnetwerk verbind word.

In 2020 het die ministerie onderneem om die mynbou-, diamant- en petroleumbedryf te hersien. Alweendo sê die konsultasieprosesse sal gedurende die huidige finansiële jaar voltooi word en voorstelle sal aan die betrokke owerhede voorgelê word. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2022-12-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer