Die minister van justisie en arbeidsverhoudinge, Wise Immanuel. FOTO ARGIEF
Die minister van justisie en arbeidsverhoudinge, Wise Immanuel. FOTO ARGIEF

Hof toe vir dié wat nie minimum loon betaal

1 Januarie 2025 reeds in werking getree
Werkgewers in die sekuriteits-, landbou- en huishoudelike sektore moet teen 1 Januarie 2027 aan die minimum loon van N$18 per uur voldoen.
Nikanor Nangolo
Die regering sal nie huiwer om teen werkgewers op te tree wat voortgaan om hul werknemers uit te buit nie.

Die minister van justisie en arbeidsverhoudinge, Wise Immanuel, het werkgewers gewaarsku om aan die vereistes van die goedgekeurde minimumloonbevel te voldoen wat op 1 Januarie vanjaar in werking getree het.

“Met ingang 1 Januarie 2025 word van elke werkgewer, buiten diegene in die sekuriteits-, landbou- en huishoudelike sektore, vereis om die minimum loon in fases te implementeer.

“Daar word verwag dat hierdie vrygestelde sektore teen 1 Januarie 2027 ten volle aan die vereistes sal voldoen,” het hy gesê.

Die minister het beklemtoon geen werkgewer vir alle ander sektore word toegelaat om enige werker minder as N$18 per uur te betaal nie. Volgens Immanuel is daar egter steeds voorvalle waar werkgewers nie aan die wet voldoen nie.

“In reaksie hierop is ons in gesprek met hierdie werkgewers om hulle in te lig oor wat van hulle verwag word. Die wet, in sy huidige vorm, bemagtig die ministerie om werkgewers wat nie die wet nakom nie, hof toe te vat,” het hy gewaarsku.

“Alhoewel ons nog nie daardie stadium bereik het nie, sal ons dit op ’n gepaste tyd doen om die volle nakoming van die wet te verseker,” het Immanuel gesê.

Met verwysing na die Openbare-Private-Forum waar hy aan die woord was, het hy gesê dit dien as die ideale platform om nakoming onder werkgewers te bepleit, omdat die meeste afgevaardigdes werkverskaffers is.

Volgens hom strek die regering se verantwoordelikheid om ordentlike en volhoubare werk te skep verder as net die skep van werksgeleenthede.

“Die regering is net so bekommerd oor werksekerheid, en nie net oor die skep van werksgeleenthede nie, maar oor die versekering van ’n lang lewensduur en stabiliteit,” het Immanuel gesê.

Ten spyte hiervan voldoen slegs tweederdes van Namibiese werkgewers aan die nasionale minimumloonwet, wat duisende werkers kwesbaar laat vir onderbetaling ondanks die bevel wat in Januarie vanjaar in werking getree het.

Hy het vroeër aan die Nasionale Vergadering gesê 67% van besighede waar inspeksies gedoen is, het aan die vereistes voldoen, maar ’n beduidende 33% oortree steeds die wet.

Dié syfers het aan die lig gekom in reaksie op ’n vraag deur die Swapo-parlementslid Justina Jonas oor die afdwing van die nuwe minimum loon.

Volgens Immanuel is inspeksies sedert die begin van 2025 by 716 werkplekke oraloor die land uitgevoer. Hiervan het 481 ten volle aan die vereistes voldoen, terwyl 235 nie aan die minimum loon van N$18 per uur voldoen het wat deur die wet bepaal word nie.

“Ons sien goeie vordering,” het die minister gesê.

“Maar die nie-nakomingsyfer van 33% is kommerwekkend en moet dringend getakel word.”

Immanuel sê die ministerie het 69 nakomingsbevele aan besighede uitgereik wat die wet oortree het. Die meerderheid was in die groot- en kleinhandelsektor met 42 voorvalle. Die sekuriteitsbedryf het gevolg met 25, terwyl minder voorvalle in konstruksie en gasvryheid aangeteken is.

Hy het tydens die forum die belangrikheid beklemtoon om werkers se regte en sakevolhoubaarheid te balanseer.

“Ons is bekommerd oor die volhoubaarheid van instellings en werkgewers. Daarom volg ons, in die afdwinging van arbeidswette, altyd ’n gebalanseerde benadering, een wat ordentlike werk en billike lone vir werkers bevorder, terwyl ons bedag bly op die volhoubaarheid van besighede.”

Immanuel het gesê die regering hou lank reeds vol dat harmonieuse arbeidsverhoudinge van ’n “drieledige vergelyking” afhang, wat alle belangrike belanghebbendes betrek.

“Namens die regering het ons konsekwent beklemtoon dat daar binne die drieledige raamwerk ’n bewuste regering, ’n redelike werkgewer en ’n verantwoordelike werker moet wees.

“Dit is die enigste manier om te verseker dat die drieledige verhouding wat nodig is vir harmonieuse arbeidsverhoudinge gehandhaaf word,” het Immanuel beklemtoon. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-05-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer