Die voormalige president van die Namibiese Raad vir Ingenieurswese, Sophie Belete-Tekie. Foto ECN
Die voormalige president van die Namibiese Raad vir Ingenieurswese, Sophie Belete-Tekie. Foto ECN

Herrie oor ontbinding van ingenieursraad

Raadslede glo nie in Staatskoerant gepubliseer
Die ministerie van werke en vervoer sê hy het die ingenieursraad weens onbillikheid in sy prosesse ontbind.
Iréne-Mari van der Walt
Die woordvoerder van die ministerie van werke en vervoer, Julius Ngweda, sê die ministerie het die Namibiese Raad vir Ingenieurswese (ECN) ontbind weens onregverdighede in sy prosesse, soos registrasieprosesse.

Dit nadat die raad se voormalige president, Sophie Belete-Tekie, die raad se registrateur, Charles Mukwaso, onder andere van korrupsie en bedrog beskuldig het en in ’n brief aan minister Veikko Nekundi gesê die ECN se dissiplinêre optrede teen Mukwaso het misluk weens die ministerie se versuim om raadslede in die Staatskoerant te publiseer.

Belete-Tekie het in ’n brief gedateer 27 Junie 2025 beweer die minister se besluit om die raad te ontbind is nie in ooreenstemming met die Wet op Ingenieursberoepe (No. 18 van 1986) nie.

“Die wet maak voorsiening vir ’n termyn van vier jaar, tensy dit deur die minister op aanbeveling van die raad verkort of verleng word. Geen sodanige aanbeveling is uitgereik nie.

“Die wet beskryf beperkte regsgronde vir ontslag, waarvan geeneen ingeroep is nie. Die ontbinding het plaasgevind sonder vooraf kennisgewing, behoorlike proses of kennisgewing in die Staatskoerant.”

Sy beweer die ontslagbriewe is deur die “omstrede” registrateur versprei en nie deur die ministerie nie.

“Die manier waarop die ministerie, deur die uitvoerende direkteur, die voorneme om die raad te ontbind, oorgedra het – deur die brief van die registrateur, wat van wangedrag beskuldig word, en hom toe te laat om dit in die openbaar op sosiale media te versprei – was nie net prosedureel gebrekkig nie, maar ook vernederend vir die raad,” skryf sy.



REGISTRATEUR

Die voormalige president van die raad skryf in haar brief dat die raad se dissiplinêre optrede teen Mukwaso nie op die meriete van die saak misluk het nie, maar eerder op tegniese aspekte – naamlik dat die ministerie nie die raadslede in die Staatskoerant gepubliseer het nie.

“Die besluit om die raad te ontbind sonder om die ernstige bewerings teen die registrateur behoorlik te ondersoek – bewerings wat deur agt uit tien raadslede ondersteun word en bevindinge van ’n verhoor wat oor ’n tydperk van 14 maande gestrek het – is nie net onregverdig nie, maar ondermyn ook die wettige voorsorgmaatreëls wat in die wet voorgeskryf word,” lui die brief.

In Belete-Tekie se brief sê sy dat daar bewerings van vervalsing teen Mukwaso is wat verband hou met sy registrasie as ’n professionele ingenieur.

Daar is ook bewerings van bedrog en korrupsie weens ’n faktuur wat glo vervals is om die raadslede te oortuig om die bedrag te betaal en nie die raad nie.

Mukwaso het glo ook ’n aanstellingskontrak vervals met veranderinge en voordele wat nie goedgekeur is nie, onwettig oortydbetaling van meer as N$101 000 geëis en drie keer sonder goedkeuring ’n salaris in Desember 2021 geëis.

“Ongelukkig, ten spyte van die deeglike proses en die raad se toewyding aan geregtigheid, was die besluit nie in sy guns nie, hoofsaaklik as gevolg van die ministerie se versuim om die raadslede in die Staatskoerant te publiseer en ander tegniese aspekte,” skryf Belete-Tekie.

Sy skryf dat haar brief nie bedoel is om die ministerie se gesag te bevraagteken nie, maar om deursigtigheid te bevorder en openbare belange te beskerm.

“Namibië kan nie regulatoriese kaping bekostig in ’n beroep wat so sentraal staan tot infrastruktuur, nywerheidsontwikkeling en die welstand van die publiek nie," sê Belete-Tekie.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-08-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer