DIe ministerie van inligting en kommunikasietegnologie beplan 'n toep om Namibiërs beter in te lig. Foto MTC
DIe ministerie van inligting en kommunikasietegnologie beplan 'n toep om Namibiërs beter in te lig. Foto MTC

Groot geld vir inligting, kommunikasie

Minister motiveer N$521,8 miljoen se begroting
Die oorgrote meerderheid van die begroting word vir oudiovisuele media en streekkantore geoormerk.
Augetto Graig
Die minister van inligting en kommunikasietegnologie (ICT), dr. Peya Mushelenga, het Donderdag dié ministerie se jaarlikse begroting van N$521,8 miljoen vir die 2022-’23-boekjaar in die parlement ter tafel gelê.

Die oorgrote meerderheid van die begroting word vir oudiovisuele media en streekkantore geoormerk. Die regering se inligtingsentrum (GIC) wat met die uitbreking van Covid-19 gestig is, val onder meer hieronder.

Meer as N$434,46 miljoen word toegeken om die reeks paneelbesprekings op NBC se televisiekanale en radiostasies, asook op sosialemediaplatforms voort te sit.

“Gedurende die finansiële jaar sal die ministerie die GIC se dienste uitbrei deur ’n aanlyn toepassing (toep) te ontwikkel om as ’n nasionale inligtingspoort te dien. Dié toep sal die publiek in staat stel om maklike en eenvoudige toegang toe enige regeringsinligting van alle kantore, ministeries en agentskappe te verkry,” het die minister uitgebrei.

“Die toep sal ook as ’n nasionale hulpmiddel vir aanspreeklikheid aan sy burgers dien en as ’n katalisator vir navorsing en ontwikkeling,” het hy gesê.

Die ministerie se streekkantore sal nuus en dokumentêre programme oor streekontwikkeling en inligting en kommunikasietegnologie met landelike burgers deel.

“Streekkantore sal aanhou om inligtingverspreiding oor nasionale regeringsveldtogte te dryf,” sê hy.

Verder beoog die minister om N$9 610 623 op die ontwikkeling van inligting en kommunikasietegnologie te bestee.

Die geld sal onder meer gebruik word om wetgewing rakende inligting en kommunikasietegnologie te skryf, te hersien en aanpassings te maak, waar nodig.

Die ministerie wil spesifiek die wetsontwerp op kubermisdaad en die wetsontwerp op die beskerming van data finaliseer. Uitgebreide konsultasie is daarvoor nodig, het hy gesê.

Die nasionale inligting en kommunikasiebeleid moet ook afgehandel word, asook wysigings aan die kommunikasiewet.

“Die belangrikste is die bestuursraad vir elektroniese inligtingstelsels wat aangestel sal word om die implementering van die wet op elektroniese transaksies te monitor. Die nasionale digitale strategie sal gedurende hierdie finansiële jaar gefinaliseer word. Die nasionale kuberveiligheidstrategie en bewusmakingsplan wat die kabinet onlangs goedgekeur het, sal geïmplementeer word,” sê Mushelenga.

Altesaam N$30 miljoen sal op gedrukte media bestee word om die verspreiding van staatsinligting te bevorder, om die Windhoek+30-deklarasie van 2021 toe te pas, en om ’n raamwerk vir gemeenskapsmedia te finaliseer vir implementering voor die einde van die jaar. Veral gemeenskapsradio sal voorkeur geniet, volgens die minister.

Verder beplan die ministerie om ’n opname te doen oor toegang tot inligting. Dit is in aanleiding tot die implementering van die verwagte toegang tot inligtingwetgewing.

Die regering se kommunikasieriglyne sal ook geïmplementeer word om regeringswoordvoerders toe te laat om vinnig op navrae te reageer, terwyl die ministerie stamgebondenheid, vandalisme, geslaggebaseerde geweld en ander maatskaplike euwels deur ’n nasionale veldtog sal bekamp.

Die staat se koerant New Era ontvang N$10 miljoen, die Namibiese persagentskap Nampa N$15 miljoen en die Namibiese Filmkommissie (NFC) N$4 miljoen.

Mushelenga sê Namibië is in die topvyf-filmbestemmings in Afrika met 89 buitelandse films wat teen ’n koste van N$74 miljoen verlede jaar hier vervaardig is.

Nouer samewerking met veral Suid-Afrika en Nigerië sal bevorder word en die Afrika-filmkommissienetwerk wat volgende maand afskop, sal gebruik word om volhoubare geleenthede vir vrye handel in Afrika te skep.

Die nasionale uitsaaier, NBC, kry bietjie meer as N$343 miljoen vir operasionele bedrywighede en N$27 miljoen vir ontwikkeling. Dié begroting is aansienlik meer as verlede jaar.

Die ministerie se eie bedrywighede sal N$39,3 miljoen beloop, terwyl nog N$8 miljoen vir die konstruksie van die ministerie se Hardap-streekkantoor geoormerk is. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2022-12-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer