Correctional facility clinics cannot provide essential medicine as they are not registered.
Correctional facility clinics cannot provide essential medicine as they are not registered.

Geen chroniese medikasie by ongeregistreerde klinieke

Net matige kwale behandel
Die klinieke by korrektiewe geriewe wat nie geregistreer is nie, beteken gevangenes word toegang tot medisyne geweier wat hulle dringend nodig het,
Eliot Ipinge
Klinieke by korrektiewe geriewe oraloor die land wat nie voldoende by die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste geregistreer is nie, ontvang geen medisyne van die staat nie.

Dit beteken gevangenes kry nie enige behandeling vir ernstige siektes soos MIV, tuberkulose en ander chroniese toestande nie.

Volgens die nasionale staande komitee oor sekuriteit en grondwetlike en wetlike aangeleenthede het korrektiewe geriewe in Windhoek en Walvisbaai mediese dokters. Hul besoeke aan geriewe in Hardap, Keetmanshoop, Gobabis, Swakopmund, Omaruru, Grootfontein, Divundu, Oluno en die Evalistus Shikongo- en Elizabeth Nepemba korrektiewe geriewe het gewys die meeste maak egter net staat op geregistreerde en ingeskrewe verpleegsters of gesondheidsassistente.

Klinieke ondersoek gevangenes wanneer hulle opgeneem of vrygelaat word, behandel matige kwale en verskaf inligting en onderrig oor chroniese toestande. Sonder registrasie, sê die komitee, het gevangenes egter geen toegang tot noodsaaklike medikasie nie.

Mobiele uitreikprogramme en hospitaalverwysings word gebruik om die gaping te vul, maar is volgens die komitee ongereeld en onvoldoende.

“Die klinieke is noodsaaklik vir sifting, behandeling en die onderrig van gevangenes, maar sonder voldoende registrasie word hulle toegang tot medisyne geweier wat dringend benodig word,” lui die komitee se verslag.

BORGTOG EN BENDES

Die komitee het ook bevind dat oorbevolking in korrektiewe geriewe in Namibië krisisvlakke bereik het, met gevangenes wat noodgedwonge vir weke of maande in aanhouding moet bly bloot omdat hulle nie borgtog kan bekostig nie.

In Katima Mulilo het ’n aanhoudingsel met ’n kapasiteit vir 60 gevangenes 262 gehuisves, Gobabis se selle met ’n kapasiteit van 60 het 224 tydens die komitee se besoek gehad en in Windhoek was daar 145 gevangenes in selle wat net 120 moet huisves.

Oorbevolking het bygedra tot ’n groeiende bedreiging van bendes, met georganiseerde werwingstelsels vir smokkelary, gevegte en seksuele aanranding. Pogings om die invloed van bendes te beperk deur leiers na ander geriewe oor te plaas, het grootliks misluk.

Volgens die komitee is dit veral jong gevangenes wat uiters kwesbaar in korrektiewe inrigtings is. Terwyl sommige fasiliteite minderjariges skei, word baie gedwing om met volwassenes te meng, wat internasionale standaarde onder die Nelson Mandela-reëls oortree. Regsverteenwoordiging is dikwels onvoldoende en hofvertragings verleng aanhouding.

VERVALLE INFRASTRUKTUUR

Die komitee het na afloop van hul besoek van drie weke ook bevind dat talle van die korrektiewe geriewe nog uit die koloniale era dateer en dringende opknappings- en herstelwerk nodig het.

Akkommodasie vir personeel is hopeloos te min, wat sommige getroude beamptes dwing om ongeskikte leefruimtes te deel. Dié geriewe is meestal onveilig en sluit toilette binne slaapvertrekke in, stilstaande water en ook gevaarlike kosmaakmetodes, soos die gebruik van gas of vuur.

Die kosstandaarde vir gevangenes wissel ook, met sommige geriewe wat voordeel trek uit landbouskemas wat mielies, koring, groente en vleis verskaf. Vir diegene wat nie hierdie hulpbronne en ondersteuning het nie, is gevangenes uitgelewer aan maaltye wat onder internasionale standaarde is.

Die komitee het gewaarsku dat ongeregistreerde klinieke, langdurige aanhouding weens die onvermoë om borgtog te betaal, oorbevolking, invloed van bendes en onveilige infrastruktuur die grootste kwessies was wat tydens hul besoeke waargeneem is.

Die verslag beveel dringende ingrypings aan, wat insluit die registrasie van klinieke met die nodige hulpbronne, die hervorming van borgtog, uitbreiding van aanhoudingsgeriewe, alternatiewe vonnisopleggingsprogramme en infrastruktuuropgraderings. Die aanbevelings is aan die ministerie van binnelandse sake, immigrasie, veiligheid en sekuriteit, asook die ministerie van justisie en arbeidsverhoudinge vir oorweging en implementering gerig.

Die komitee het die korrektiewe geriewe tussen 20 Januarie en 25 Februarie vanjaar as deel van sy jaarlikse plan vir die 2024-’25-boekjaar besoek.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-12-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer