Boete vir wraak teen hokaairoepers

Of tronkstraf van tot 15 jaar
Dis belangrik om sterk wette te implementeer om individue aan te moedig om enige verkeerde optrede sonder vrees vir vergelding of viktimisering aan te meld.
Elizabeth Kheibes
Individue wat wraak neem teen hokaairoepers wat korrupsie of wangedrag blootlê, kan binnekort boetes van tot N$75 000 of ’n maksimum van 15 jaar tronkstraf opgelê word.

Die kriminalisering van vergelding teen hokaairoepers sal ’n werklikheid word wanneer die beskermingswet vir hokaairoepers ten volle geïmplementeer is en in werking tree. Laasgenoemde was ’n sleutelfokus van die TAIEX-slypskool oor die bevordering van die beskerming van hokaairoepers wat vandeesweek in Windhoek plaasgevind het.

Die geleentheid wat deur die Europese Unie (EU) in samewerking met die ministerie van justisie aangebied is, het regskenners, beleidsmakers en verteenwoordigers van die burgerlike samelewing bymekaargebring om maniere te bespreek om beskerming op te skerp.

Die EU se ambassadeur in Namibië, Beatriz Martins, het die belangrikheid van die implementering van sterk wette beklemtoon om individue aan te moedig om enige verkeerde optrede sonder vrees vir vergelding of viktimisering aan te meld.

“Vir mense om na vore te kom, moet hulle verseker wees van beskerming teen vergelding. Die slypskool stel ons in staat om beste praktyke en digitale toerusting te ondersoek om die anonimiteit van hokaairoepers te beskerm,” het sy gesê.



GROOT EN KLEIN

Die minister van justisie, Yvonne Dausab, het Namibië se verbintenis tot die bekamping van korrupsie op alle vlakke beklemtoon, insluitend die versterking van die mandaat van die Teenkorrupsiekommissie van Namibië (ACC).

“Ons fokus dikwels op grootskaalse korrupsie en vergeet hoe kleinskaalse diefstal in die staatsdiens bydra tot ’n kultuur van wangedrag,” het Dausab gesê.

“Die voormalige staatshoof Hage Geingob se pogings teen korrupsie het die grondslag van ons regsraamwerk gelê en vandag gaan ons voort om stappe te neem – klein en groot – om korrupsie te takel,” het sy beklemtoon.

Die minister het ook ’n beroep op beroepslui gedoen om voorstanders van integriteit te wees, voordat hulle dit van die publiek verwag.

Dausab het verwys na korrupsie op voetsoolvlak soos hospitaalpersoneel wat “pasiënte se kos steel” en die publiek se vertroue in staatsinstellings uitwis.



’N KULTUUR VAN INTEGRITEIT

Dausab het erken talle individue huiwer om korrupsie aan te meld weens ’n vrees vir sosiale stigma of ander moontlike gevolge.

“Sommige vermy om iets te sê uit vrees om uitgesonder of geïsoleer te word. Selfs die term hokaairoeper dra dikwels ’n negatiewe konnotasie. As ’n regering moet ons hierdie uitdaging takel,” het die minister gemaan.

Dausab sê planne is ook onderweg om ’n getuiebeskermingsprogram te vestig, hoewel die volle implementering daarvan tyd sal neem.

“Hokaairoepers hoef nie hul lewens te verander omdat hulle die regte ding gedoen het nie. Ons moet daarop fokus om ’n kultuur van integriteit te koester,” het sy beklemtoon.



TOEGANG TOT INLIGTING

Die slypskool het ook die verband tussen die beskerming van hokaairoepers en die wet op toegang tot inligting beklemtoon, wat die publiek se reg verseker om inligting van staatsinstellings te versoek.

Kenners het daarop gewys dat dié twee regsraamwerke mekaar aanvul om deursigtigheid en verantwoordbaarheid te bevorder.

“Hoewel elkeen verskillende doelwitte het, werk beide die wet op die beskerming van hokaairoepers en toegang van inligting saam om te verseker wangedrag word aangemeld en dat die publiek toegang tot noodsaaklike inligting het,” het Martins verduidelik. Namibië se wet op die toegang van inligting is in 2012 bekragtig en word ondersteun deur ’n onafhanklike inligtingskommissaris wat verantwoordelik is om te verseker dat alle staatsinstellings daaraan voldoen.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-06-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer