’n Boekstawing van mymeringe

Melankoliese verhoudingsroman
Hy skryf omdat dit vir hom lekker is en omdat hy "relatief goed is daarmee". Dit laat hom beter voel as hy besig is om iets te skep, sy lewe meer sinvol te laat voel en hom te help om vrede te maak met die dinge wat hom pla.
Henriette Lamprecht
Om te skryf help hom om weer daardie gevoel te kry wat hy as kind gehad het toe hulle in die veld gaan piekniek hou het, het die skrywer Zirk van den Berg eens sy passie verwoord.

Zirk is op 14 Julie 1960 op Walvisbaai gebore, maar het in die Kaap grootgeword. Nogtans bly Namibië ’n belangrike tema in sy historiese romans soos met sy jongste roman Hemel en Aarde en ons en wat hy ook tydens besoeke aan sy geboorteland en in sy gesprekke in Windhoek bevestig het.

Marianne Zappen-Thomson wat vanaand die Krit-gesprek oor Hemel en Aarde en ons gaan lei, beskryf sy belangstelling en passie vir Namibië as baie besonders, aangesien hy al jare met sy gesin in Nieu-Seeland woon. Dit is ook die rede hoekom hy sommige van sy boeke in Afrikaans en Engels skryf, soos byvoorbeeld ’n Ander mens wat oorspronklik as Nobody Dies verskyn het. Sy boeke is met verskillende pryse bekroon, onder andere die kykNET-Rapportprys in die filmkategorie vir ’n Ander mens, die WA Hofmeyrprys en die kykNET-Rapportprys vir fiksie, Ek wens, ek wens. Die Engelse weergawe I wish, I wish het die kortlys vir die 2021 NZ Booklovers Fiction Awards gehaal.

In ’n gesprek met Naomi Meyer wat in Julie 2023 in LitNet verskyn het, vertel Zirk dat hy sedert die 1990’s grotendeels in Engels leef en skryf.

“Heelparty van my Afrikaanse boeke is my eie vertalings van goed wat ek eers in Engels geskryf het. [. . .] Ek vind dat die boeke se toonaard verskil afhangend van die taal waarin ek werk. Afrikaans lê my nader aan die hart en ek geniet dit meer om met die medium self te speel, die woordspelings en poëtiese moontlikhede. [. . .] In Engels is dit vir my makliker om ’n internasionale aanslag te hê. Ek meen my Duitswes-boeke sou byvoorbeeld in Engels of ’n Europese taal kon werk, hoewel niemand oorsee nog juis belangstelling daarin getoon het nie.” (Geheim van die gruwelsand deur Zirk van den Berg: ’n onderhoud – LitNet)

Wat vir baie besonders aan Zirk van den Berg se boeke is, sê Zappen-Thomson, is dat hy in verskillende genres skryf, soos byvoorbeeld sprokies, kortverhale, misdaadromans en historiese romans.

“In sy historiese romans slaag hy daarin om geskiedkundige feite met ’n moderne perspektief te vervleg, wat daartoe bydra dat sy boeke ‘tydloos’ is.”

Dit is ook so in die roman Hemel en aarde en ons. Die ruimte is Kolmanskop, destyds ’n ryk myndorp met hope diamante, net voor die Eerste Wêreldoorlog.

“Weereens kry Zirk van den Berg dit reg om ’n boeiende roman te skryf wat sowel historiese feite as ook ’n misdaadelement bevat,” sê Zappen-Thomson. Inderdaad soos dit op die flapteks beskryf word as ’n “veelvlakkige whodunit met ’n konseptuele kinkel, ’n verkenning van identiteit, bewussyn, en vergetelheid.”

Die gesprek oor Van den Berg se roman vind vandag om 18:30 by die Windhoek-Oos NG Kerk plaas. ’n Toegangsfooi van N$50 word gevra en ’n glas wyn en ’n happie word verskaf.

Enige persoon wat lief is vir Afrikaans en vir lees, is altyd welkom by Krit en jy kan vir Susan Alexander skakel by 081 272 0459 oor wanneer en oor wie die volgende boekbespreking plaasvind.



*BLOKKIE:

Dat die dokter wat mynbaas Hans-Peter Kranz aangestel het al die tyd ’n vrou is, het die dorpenaars op Kolmanskop vroeg in die twintigste eeu heeltemal oorhoops. Dokter Alexandra Stackelberg kom om die X straalmasjien by die diamantmyn te bedryf – hoofsaaklik om diamantdiewe vas te trek. Soos Kolmanskop se mense deur die sand sif na diamante, so sif een van hulle later jare deur herinneringe, op soek na sekerheid en die waarheid agter een van hulle se dood.



Uittreksel uit ’n resensie deur Jonathan Amid op Litnet:

Sentraal staan die aankoms van ’n vroulike dokter op die dorp en die bedryf van ’n X-straalmasjien, die eerste in die Suidelike Halfrond, deur die dokter self op die myn. Dit hoofsaaklik, let wel hoofsaaklik, om diamantdiewe vas te trek. Staan jy vir ’n oomblik terug, besef jy gou dat die skrywer hier vroeg reeds besonder vindingryk te werk gaan om die X-straalmasjien simbolies aan te wend om verskillende ambisies, belangstellings, vrese, konflikte en vraagstukke te help belig. Iewers moet die narratiewe masjien dit uitlig wat individue eerder nie wil verklap of wil sien nie, dit wat diep binne of diep begrawe sit. Die kinkels. Die afdraaipaaie. Die sluimerende onheil en gevaar. Daar mag dalk vooruitgang in die mediese wetenskap en tegnologie wees, maar die mens bly altyd bloot die mens ... Die volgehoue spel tussen oppervlak en dieptes, dit wat ooglopend of voor die hand liggend is en dit wat moeilik is om te peil en te verstaan, wat afspeel op Duits-Suidwes-Afrika voor dit Namibië word.

Mynbaas Hans-Peter Kranz, die ene invloed, mag en ambisie, is die teks se ooglopende antagonis en boosaard, en die een wat dokter Alexandra Stackelberg ontbied om die röntgenmasjien te gebruik. Kranz se bombastiese houding en selfvertroue ken skynbaar geen einde nie – hoewel hy met Mathilde getroud is, vind hy dokter Stackelberg meer as net effens begeerlik. Stackelberg het op haar beurt om verstaanbare redes ’n weersin en groot wrewel in mans soos Kranz, en is ’n sterk, magnetiese skoonheid wat deurmekaar raak met die Landespolizei se Dirk Wiegand. Wiegand is ’n enigmatiese, geheimsinnige geregsdienaar wie se betrokkenheid – of eerder onbetrokkenheid – by die myndorp se stygende intriges en konflikte deurgaans met ’n groot skeut ambivalensie belig word. Hoe pas die mynvoorman Andreas Blucher en sy mooie nooi Emilie in die prentjie? En wat van Paul Landsberg, die uitvinder, die avontuursoeker . . .?

Soos in die onlangse Siegfried Bock-trilogie wat ook in Suidwes-Afrika afspeel, ondersoek Van den Berg op sonderlinge wyse hoe plot, karakter en ruimtes inmekaarsteek. Nes die wye doek van die windverwaaide, sanderige landskap deur uiteenlopende karakters binnegedring word, word Hemel en aarde en ons se vertelling telkens onderbreek: In ’n vertelling so keurig en formeel-intelligent saamgestel uit onthullende of verbloemde fragmente en opdrifsels, uit korreltjies betekenis wat kantel, illustreer Van den Berg die suggestiewe “geweld” van onthou en die stryd om te vergeet.

Om verwyder te wees van jouself en jou storie, deur meer as bloot die ouderdom en die verloop van tyd, word hier beliggaam. Hierdie is ’n boekstawing van mymeringe, van letterlik tot verhaal kom, van flitse en flardes, van die “uitdoof van die flikkerende vlammetjie”. Uiteindelik word hierdie melankoliese verhoudingsroman ’n heel ander soort spanningsverhaal en, inderdaad, whodunit.

– Bron: litnet.co.za



Kliek hier vir ’n onderhoud van Susan Lombard en Quillerie met Zirk van den Berg oor Hemel en Aarde en ons: https://q.my.na/54QP

Kommentaar

Republikein 2025-08-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer