Wêreldverhoog wink vir Namibiese sjef

Aurelia Afrikaner

Die 25-jarige sjef Elizabeth Isai het onlangs na die finale van die gesogte Worldchefs Global Chefs Challenge deurgedring, wat van 16 tot 19 Mei 2026 in Newport, Wallis, sal plaasvind. 

Isai het haar plek op die wêreldverhoog verseker nadat sy die eerste plek in die Afrika/Midde-Ooste-halfeindronde van die kompetisie ingepalm het, wat haar die geleentheid bied om teen die wêreld se beste sjefs mee te ding.

Sy is afkomstig van Windhoek en het haar sjefsertifisering in 2020 aan die Namibië Universiteit vir Wetenskap en Tegnologie (Nust) voltooi. Daarna het Isai haar vaardighede verder verskerp deur bykomende kulinêre opleiding by plaaslike instellings te voltooi. Só het sy geleidelik ’n beeld van uitnemendheid en vernuwing opgebou.

In 2022 was sy ’n deelnemer en gouemedaljewenner met die hoogste puntetelling uit meer as 100 professionele persone by die WorldSkills Africa-kompetisie wat in Swakopmund aangebied is.

Later daardie jaar het sy internasionaal aan die WorldSkills Special Edition-kompetisie in Switserland deelgeneem, waar sy 17de uit 30 deelnemers geëindig het.

Op tuisbodem het Isai ook haar stempel by die Namibiese Sjefsvereniging se Sjef van die Jaar-kompetisie afgedruk.

Sy het in 2022 die eerste plek in die junior kategorie behaal, gevolg deur ’n tweede plek in 2023. In 2024 het sy die mylpaal bereik om as senior sjef van die jaar aangewys te word – ’n prestasie wat as merkwaardig beskou word vir iemand van haar ouderdom.

Haar pad na die Global Chefs Challenge-eindstryd het in 2023 begin, toe sy ’n bronsmedalje in die junior halfeindronde in die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) gewen het. Sy het in 2025 sterker teruggekeer en ’n silwermedalje in die senior kategorie verower, voordat sy uiteindelik die eerste plek in die senior halfeindronde ingepalm het – ’n oorwinning wat haar ’n kaartjie na Wallis verseker het.

Ter voorbereiding vir die komende eindstryd sal die Namibiese Sjefsvereniging op 26 Maart 2026 om 18:30 ’n geldsinsamelingsgeleentheid by die Nust-hotelskool aanbied met die titel, ’n Aand by die Sjef se Tafel: ’n Gala van Kulinêre Uitmuntendheid. 

By die gala wat as “’n onvergeetlike aand van smaak en elegansie” beskryf word, sal Isai haar kulinêre kuns en viergangete vir die kompetisie vir gaste saam met gepaste wyne opdis. Kaartjies beloop N$1 000 per persoon of N$9 500 vir ’n tafel van tien persone.

Die vereniging het ’n beroep op korporatiewe vennote en die publiek gedoen om hul ondersteuning te gee en daarop gewys dat deelname aan internasionale kompetisies van hierdie kaliber aansienlike koste meebring.

Vir verdere navrae, kontak sjef Sanet Prinsloo by +264 81 124 0623 of sanet@namibianchefs.com.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-05-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer