'n Gedenkdiens vir die held van Hentiesbaai, Brian Alan Low, vind Saterdag op die dorp plaas. FOTO ARGIEF
'n Gedenkdiens vir die held van Hentiesbaai, Brian Alan Low, vind Saterdag op die dorp plaas. FOTO ARGIEF

'Ware held' Brian se lewe gevier

Ewig in harte, geskiedenis van Hentiesbaai
'n Spesiale konvooi vanaf Swakopmund na Hentiesbaai is een van die maniere waarop die lewe van noodreaksiebeampte gevier sal word.
Adam Hartman
Hentiesbaai kom Saterdag vir ‘n wyle tot stilstand wanneer die lewe gevier word van ‘n man wat die dorp en sy mense tot die einde van sy lewe onbaatsugtig gedien het. Die veteran-nooddiensbeampte Brian Alan Low (59) se gedenkdiens volg nadat hy drie tienerseuns se lewens gered het wat in ‘n stoom langs die vakansiedorp se kuslyn beland het. Low se lewensviering vind Saterdag om 10:00 by die Lukzet-gesinsvermaaklikheidsentrum plaas, met noodpersoneel en gemeenskapslede wat na verwagting in groot getalle die diens sal bywoon om vir oulaas hulde aan Hentiesbaai se held te bring. Kollegas van Low sal hom ook voor die diens vereer met ‘n konvooi wat die oggend uit Swakopmund na Hentiesbaai in ‘n laaste rit sal vertrek. Low se dood het wyd tot verskeie huldeblyke gelei. Erongo se goewerneur Nathalia /Goagoses het gesê die streek het “met diepe hartseer” van sy afsterwe verneem en hom beskryf as "'n toegewyde noodhulpverlener wat sy lewe verloor het terwyl hy dapper probeer het om drie jong seuns te red wat in 'n stroom langs ons kus vasgevang is."

Namens haar kantoor en die mense van Erongo het die goewerneur meegevoel betuig aan "sy vrou, die Low-familie, sy kollegas by LifeLink en almal wat hom geken en liefgehad het." Sy het gesê Low het sy gemeenskap met "onwrikbare toewyding" gedien en dat "sy toewyding om lewens te red verder as sy plig strek gestrek het”. “Dit was 'n roeping waarvolgens hy geleef het."

Hentiesbaai se munisipaliteit het in ‘n verklaring gesê Low het gesterf terwyl hy dapper drie jong mans van verdrinking gered het. Die munisipaliteit was vol lof vir sy vrywillige noodlenigingswerk wat hy gratis aan die dorp en die munisipale raad gelewer het.

"Hentiesbaai vereer mnr. Brian Alan Low as 'n ware held," het die raad gesê. "Sy moed, vrygewigheid en uiteindelike opoffering sal vir ewig in ons harte en in die geskiedenis van ons dorp geëts bly."

Low wat op 24 April 1966 gebore is, was vir etlike jare ‘n bekende en betroubare figuur by noodlenigingsoperasies waar by LifeLink Emergency Services aan die kus en ook in die streek betrokke was. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-02-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer