Versorger, vryheidsvegter, mentor
Namibië het met die afsterwe van die voormalige presidentsvrou, Penehupifo ‘Penny’ Pohamba, een van die vroue verloor wat gehelp het om sy geskiedenis ná onafhanklikwording te vorm.
Uit alle geledere van die samelewing het mense wat oor haar heengaan treur haar beskryf as ’n versorger, ’n vryheidsvegter en ’n vertroude stem agter die skerms van die land se hoogste amp.
Pohamba wat Saterdag oorlede is, was van 2005 tot 2015 tydens die ampstermyn van die voormalige staatshoof Hifikepunya Pohamba as presidentsvrou aan sy sy.
Haar dood is deur die minister in die presidensie, Charles Mubita, namens president Netumbo Nandi-Ndaitwah en die regering aangekondig wat ook hul medelye met haar man, hul kinders, kleinkinders en die res van die familie betuig het.
Mubita het haar dood as ‘n beduidende oomblik vir die land beskryf en gesê dit is die eerste keer sedert onafhanklikwording in 1990 wat Namibië oor die afsterwe van ’n vrou treur wat as eerste dame gedien het. Benewens die nasionale rou, het Mubita gesê haar afsterwe is in die eerste plek ’n persoonlike tragedie vir die Pohamba-familie.
“Hoewel dit ’n oomblik van hartseer vir ons nasie is, moet ons in gedagte hou dat dit, bo alles, ’n diep persoonlike verlies vir die familie is. Kom ons gun hulle die ruimte om in vrede te rou, omring deur die liefde en ondersteuning van diegene wat die naaste aan hulle is,” het Mubita gesê.
Die voormalige presidentsvrou Monica Geingos het op haar beurt gesê Pohamba het gehelp om die rol as eerste dame te herdefinieer. Geingos het haar beskryf as ‘n vertroude mentor wie se wysheid, vrygewigheid en leiding gehelp het om haar eie ampstermyn vorm te gee.
Sy het verwys na Pohomba se verwelkoming toe sy in 2015 die rol as presidentsvrou oorgeneem het.
“Meekulu het met grasie, nederigheid en standvastige toewyding as eerste dame gedien. Sy het my beskouing verruim van wat as presidentsvrou moontlik is,” het Geingos gister in ’n verklaring gesê.
Volgens haar het Pohamba verseker dat die oorgang tussen die twee ampstermyne met grasie en betekenisvol verloop. Dit het die grondslag gelê vir ’n verhouding wat lank ná die oorhandiging van haar leisels aan Geingos voortgeduur het.
Volgens Geingos was Pohamba een van die mense wat sy die meeste vertrou het.
“Sy het – soos min ander mense kan – die besondere gewig en kompleksiteit verstaan van ’n rol waarvoor daar geen formele mandaat bestaan nie. Sy het my gehelp om dit te kan verduidelik en te kan dra,” het Geingos gesê.
Geingos het ook vertel hoe haar oorlede man en voormalige president Hage Geingob, haar aangemoedig het om Pohamba se raad te vra wanneer sy swaar getrek het.
Geingos het gesê sy sal altyd dankbaar bly vir Pohamba se geduld, eerlikheid en bereidwilligheid om openhartige raad te gee. Volgens haar het die voormalige eerste dame haar deur middel van die adviesraad vir die presidentsvrou, beide formeel en informeel, ondersteun het.
REIS
Penehupifo, gebore op 16 Junie 1948, was ’n opgeleide verpleegkundige en vroedvrou en haar diens aan Namibië het veel verder gestrek as net die jare wat sy in Staatshuis deurgebring het.
Voordat sy die openbare verantwoordelikhede van ’n eerste dame op haar geneem het, was sy in gesondheidsorg werksaam en het sy haar daaraan toegewy om vir ander te sorg. Laasgenoemde was onder meer tydens Namibië se bevrydingstryd en die jare in ballingskap.
Haar werk het ook tot buite Namibië se grense gestrek. Sy het van 2011 tot 2013 as president van die organisasie van van presidentsvroue van Afrika teen MIV/Vigs gedien. Tydens haar ampstermyn het sy gehelp om die organisasie se sekretariaat in Addis Abeba, Ethiopië, te vestig.
Pohamba was ook ‘n sterk stem vir moeder- en kindergesondheid, die stryd teen MIV/vigs, die voorkoming van kanker, en die bemagtiging van vroue.
Geingos het in ‘n direkte boodskap aan oudpresident Pohamba, hul kinders en familie gesê “daar is aanvanklik ’n gevoelloosheid wat die rou pyn van die verlies van ’n lewensmaat verdof, maar die pyn verdwyn nooit heeltemal nie”.
“Tatekulu, mag die Here naby u gebroke hart wees; weet asseblief dat ons u en u familie in ons gebede dra.” - [email protected]


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie