Van stories was hy die moses
Oom Nico Robberts
20.12.1941 - 23.03.2025.
Sommige mense vertel stories. Ander mense ís stories. Oom Nico Robberts was een van laasgenoemdes.
Toe hy verlede jaar oorlede is, het Grootfontein, die breër boeregemeenskap en die land ’n man verloor wie se herinneringe ’n lewende venster op ’n ander Namibië was.
TREK-TREK TUSSEN TUISTES
Toe Uit & Tuis Namibië hom in Mei 2024 op sy plaas buite Grootfontein besoek het, was dit meer as ’n onderhoud. Dit was ’n ontmoeting met ’n man wat self deel van die geskiedenis was.
Robberts was van die eerste geslag Dorslandtrekkers se kinders wat in Namibië gebore is. Die Dorslandtrek verwys na die 1870’s en 1880’s se trekke van Afrikanergesinne vanaf Transvaal deur die dorre binneland na Angola.
Sy eie familie se pad terug suidwaarts was eweneens ’n verhaal van aanpassing. As jong seun het Nico saam met sy gesin te voet van Gobabis na Kamanjab getrek – met ’n donkiekar, beeste, skape, ’n bok en perde. Die reis het drie maande geduur.
In 1955 het nog ’n trek gevolg, dié keer van Kamanjab na Grootfontein, weens droogte.
’N LEWE DEUR DIK EN DUN
Nico het die Namibiese platteland geken soos min ander. Hy het in Kamanjab geboer en later buite Grootfontein gevestig. Hy het die goeie jare geken, maar ook droogtes waarin jy, soos hy vertel het, “elke klip kon tel” omdat daar nie eens ’n grassie onder ’n bos was nie.
Tog was daar geen bitterheid nie. Hy het eerder gepraat met die wysheid van iemand wat geleer het om aan te pas.
Hy het met beeste, wild en skape geboer en mielies geplant. Wanneer die oes nie wou maak nie, is dit in kuilvoer omskep. Boerdery was vir hom ’n manier van lewe, nie bloot ’n onderneming nie.
DIE LAG TUSSEN DIE HERINNERINGE
Maar miskien is dit juis sy stories wat mense hom die beste sal laat onthou.
Oor sy skooldae by Buurman en later Outjo kon hy vertel totdat die son sak – van onderwysers, vriende, straf en die kattekwaad van ’n jong seun.
Hy kon selfs ’n verhaal oor droogte of ’n familietrek onderbreek met ’n staaltjie wat almal laat skater.
Dit was Nico se besondere gawe: hy het geskiedenis nie soos ’n handboek vertel nie, maar soos ’n vriend wat jou saamneem op die pad.
En nou is hy self deel van daardie geskiedenis.
Maar, die stories bly.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie