Twee maal vaarwel aan renosterbewaarder

Francoise Steynberg

Nuusredaksie

Daar sal twee afskeidsgeleenthede vir die geliefde renosterboer en -bewaarder, wyle Jaco Muller (53) wees wat verlede Saterdag in ’n girokopterongeluk op die plaas Chorab in die Outjo-distrik gesterf het.

“Ons nooi almal wat vir Jaco geken en liefgehad het, om saam met ons familie hom te onthou en sy lewe te vier. Of jy hom ’n leeftyd lank geken het, of net ’n klein stukkie van sy pad saam met hom gestap het, jy is welkom,” het die familie in ’n uitnodiging geskryf. 

Die eerste afskeidsgeleentheid, ’n viering van Muller se lewe word Saterdag om 11:30 by Yellowstone Trails in Windhoek gehou en sy begrafnisdiens en teraardebestelling vind op Saterdag 10 Oktober om 10:00 op die familie plaas in die Outjo-distrik plaas.  

“Jaco se lewe het mense van baie verskillende plekke byeengebring. Deur twee samekomste te hou, kry meer van dié wat vir hom lief was die geleentheid om saam te kom, hul herinneringe te deel, en te groet,” sê die familie. 

Vriende wat van die Suide, die kus, elders in Namibië en van oral in die wêreld af reis, kan in Windhoek byeenkom, ook vir dié wat nie die begrafnis sal kan bywoon nie. 

“Daar sal foto’s wees, stories, iets te ete en te drinke en tyd om hom saam te onthou. Dit is ’n viering van sy lewe,” lui die uitnodiging.

Bevestig jou teenwoordigheid vandag nog by jacomuller.fodiora.com.    

“Op Saterdag 10 Oktober kom ons byeen vir sy begrafnis en teraardebestelling op die plaas waarvoor hy lief was. Hier sal sy familie, vriende, bure, kollegas en die gemeenskap wat sy alledaagse lewe gedeel het, hom onder ’n mopanieboom ter ruste lê, net soos hy dit wou hê. 

“Daarna bly ons saam vir ’n braai, iets om te drink en nog stories van die man vir wie ons lief was.”

Bevestig jou teenwoordigheid voor Maandag 5 Oktober by jacomuller.fodiora.com.  

Die Muller-familie beskryf die stigter van die Rhino Momma Project, eienaar van die Kifaru Luxury Lodge & Bush Camp en voorsitter van Help our Rhinos Now Namibia (HoRN), as ’n natuurbewaarder, ’n entrepreneur ’n man, ’n pa, ’n oupa, ’n seun, ’n broer en ’n vriend vir so baie. 

“Hy was die soort mens wat sy hemp sou uittrek en vir jou gee. Vrygewig met wat hy gehad het en altyd gereed om te help, het hy lewens oraloor Namibië en verder aangeraak.” 

Die Mullers sê of hy nou ’n buurman gehelp het, tyd saam met sy gesin deurgebring het, of ’n drankie saam met vriende gedeel het, “Jaco was iemand op wie jy kon staatmaak, altyd gereed om ’n hand by te sit en van homself te gee.” 

Vir dié wat hom geken en liefgehad het, was hy eenvoudig net Jaco. 

“Plat op die aarde, die gelukkigste in sy kortbroek en plakkies en altyd homself. 

“Sommige het hom deur die sakewêreld geken, ander deur bewaring en baie was eenvoudig bevoorreg genoeg om hom ’n vriend te kon noem.

"Ons gaan sy geselskap mis, sy vriendelikheid en die alledaagse oomblikke wat ons gedink het ons nog sou hê.”

Muller word deur sy vrou Cher, dogter Paige, seun Tristan, skoondogter Amber-Lee, twee kleinkinders, ouers Koos en Yvonne en suster Leilani oorleef. 

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-09-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer