Truter los nalatenskap van diens

Henriette Lamprecht
Ons elkeen is op ‘n besondere tyd op ‘n besondere plek geplaas met ‘n doel – die Here het dit so bepaal. So skryf die man wat voor en na Namibië se onafhanklikwording diep spore oraloor die land as onder meer landdros en later hooflanddros vir laer howe getrap het in sy onthou’s van ‘n nederige begin tot een van die land se voorste regskenners. Die veteraan landdros Frikkie Truter is Maandag in die ouderdom van 90 jaar in ‘n versorgingsoord op Hentiesbaai dood. Truter se lewensfilosofie van dien en dat “ons elkeen ‘n taak het om te vervul, al is dit soms baie klein en onbenullig”, het hom oraloor Namibië geneem waar hy homself as landdrosklerk opgewerk het en saam met sy gesin in 14 verskillende dorpe gewoon en gewerk het. Sy jongste dogter Yulanda Marais, vertel tong in die kies “op elke dorp het Pa gestraf en Ma gelag”, met ma Anne wat in 1964 die biblioteek op Omaruru begin het. Truter bou Uis as projek en jag self volstruise en gemsbokke in die Namib om die span van 80 werkers daagliks vleis te gee.

‘n Groot verlies vir die Truter-gesin was die dood van hul oudste dogter Sandra wat in 1969 aan breinkanker gesterf en op Tsumeb begrawe is. In 1970 word Truter landdros vir Karibib en Usakos en vanaf 1974 tot 1976 dien hy op Kimberly in Suid-Afrika as junior landdros. Sy vrou Anne werk in hierdie tyd as ‘n klerk in die hof vir kindersake.

Die gesin keer in 1976 weer terug na Namibië en die keer na Mariental waar hy vir die eerste keer sy eie kantoor as landdros het. In 1979 ry Truter saam met die polisie en weermag na elke plaas in Namibië om ‘n kaart te skep van plase en dorpsgrense in die land. In 1982 word hy as streekslanddros van die suide aangestel en besoek alle howe saam met die latere ombudsman John Walters as junior aanklaer. In 1985 word hy as hooflanddros in Windhoek aangestel.

Truter ontwerp saam met wyle stigterspresident Sam Nujoma en Namibië se eerste minister van justisie, Ngarikutuke Ernest Tjiriange, ‘n onafhanklike regstruktuur vir die land ná sy onafhanklikwording.

Vanaf 1990 tot 1995 bevestig hy onder meer die voormalige regter Peter Shivute en sy vrou in die huwelik, gee opleiding aan die Zambiese skadukabinet en lei ook landdroste op in die Namibiese Grondwet en die Romeinse reg. Reg deur die negentigs werk Truter met elke stamhoof in Namibië om die mure tussen stam- en magistraatswette af te breek. Die doel was om vertroue by die land se wette by stamhoofde te skep om swaarder strafoortredings eerder aan die gereg te oorhandig as om die reg in eie hande te neem. Truter was in sy luisterryke loopbaan ook nou betrokke by die hersiening van wette, die stigting van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC), asook onderhandelinge met die Verenigde Volke (VN) se vredesmag Untag.

Ná sy amptelike aftrede op 31 Mei 1996 het hy nog vir 13 jaar as konsultant vir die departement van justisie gewerk waar hy nou betrokke was by die stigting van die Mededingingskommissie asook die versterking van die kantoor van die ombudsman saam met advokaat John Walters. Walters was ‘n eertydse junior kollega wat in die middel tagtigs saam met Truter as jong aanklaer elke dorp in die Suide se howe gefassiliteer het. Ná sy amptelike aftrede op 31 Mei 1996 het hy nog vir 13 jaar as konsultant vir die departement van justisie gewerk en namens die minister onder meer Washington en Duitsland besoek om landdrosstelsels te verbeter.

“Sy vingerafdrukke is op elke vorm, liaseerstelsel en werksprosedure in die regstelsel in Namibië,” sê Yulanda.

“Sy menswees het ander loopbane gevorm, gementor en tot nuwe hoogtes geneem in sy nederige ondersteuning van almal om hom. Hy het hom lewenslank teen onbeskaafheid en onverdraagsaamheid uitgespreek. Hy het geglo dat ons op aarde geplaas is deur God om aan ander dienstig te wees. Om mekaar te aanvaar. Om as grootmense in jou ouers se voetspore te volg en die regte ding te doen. Hy het gelewe soos hy geglo het - 'as n klein rat nie draai in die samelewing nie, kom die hele masjien tot stillstand.”

Hy word oorleef deur sy drie kinders, Hentie Truter, Antasha Brits, Yulanda Marais, asook sy kleinkinders, Pieter Brits, Nadia Vivier, Frikkie Truter (Jnr) en Luzaan Janse Van Rensburg en hul kinders. Sy roudiens vind op 2 Januarie 2026 in Hentiesbaai se NG Kerk plaas. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-12-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer