Stories uit ’n boerhart

Van droogte en kaiings tot kreefdae
Hester Steenkamp se skryfwerk het lesers van Hakieshart laat saamleef met die lief en leed van ’n boervrou, haar boerman Johnnie en hul plaaslewe in die Suide.
Henriette Lamprecht

In Hester Steenkamp se boek Kreef en Kaiings, ’n versameling kort sketse uit Hakieshart, kry intieme, plattelandse ervarings van die plaas nou ’n nuwe tuiste.

Die titel sê alles.

Kreef en kaiings verteenwoordig vir Hester die twee kante van die lewe. Kreefdae is die uitskieterdae – wanneer ’n mens jou lippe rooi maak, parfuum aansit en die luuksheid geniet wat oor jou pad kom. Kaiingdae is die hartseerdae, wanneer jy terugverlang na jou komvandaan. “Ons het mos bietjie van al twee nodig,” sê sy. “Dit anker jou.”

Die boek is gebore uit jare se droogtestryd, maar ook uit die klein oomblikke van plaaslewe: lammers bottelvoed, kinders grootmaak, tradisies, diere en natuur. Hester skryf nie net oor wat swaar is nie, maar oor ’n lewe waarin ’n mens aanhou leef, liefhê en droom.


’N NOODGEDWONGE OMPAD

Die droogte het Hester en Johnnie diep geraak. Ná sowat 30 jaar se saamstry om hul plaas en lewe aanmekaar te hou, moes Hester in Januarie 2025 die plaas verlaat om in die Kaap te gaan werk en geld in te bring.

Die Kaap het intussen nuwe deure oopgemaak. ’n Vreemdeling, Petro Swanepoel, het haar oortuig dat haar stories in ’n boek hoort. Petro het aangebied om die publikasie vooruit te finansier. Kort daarna het ’n uitgewer Hester gekontak – en Kreef en Kaiings was op pad.


WOORDE WAT REIS

Die boek het Hester se stem verder gedra.

In 2025 het sy groot by die ATKV Pluimpies gewen: Kreef en Kaiings en die ongepubliseerde digbundel Stof en Sterre het haar twee Veertjies en die gesogte Oswald Rall Theart-prys besorg. Sy het ook die Ink in Afrikaans-kompetisie se goue kategorie met Leonardville gewen, asook die nasionale kompetisie met Weerkaatsings.

In Maart 2026 is Kreef en Kaiings tydens die FNB Windhoek Woordfees bespreek. Sy het ook voortgegaan om te skryf. In Junie 2026 het sy met Hardapstreek en die gedig Onder Hardap se son erkenning in INK se streek/omgewingsprojek gekry.

Hester se hart bly by die plaas. Ná reën kan die droë aarde weer lewe gee, en selfs onverwags verskyn nege rooibeenelsies in ’n klein pannetjie. Vir haar is dit hoop. Sy en haar Boerman bid vir opvolgreën – vir die veld, diere, mense en ’n terugkeer huis toe. “Ons glo,” sê sy.



Kommentaar

Republikein 2026-09-09

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer