Stilsit of niksdoen is nie ’n oorweging
Speelgoed uit hout sy nuutste passie
Jare ná die dubbele amputasie van sy bene is Kobus van Wyk nog lus vir die lewe.
“Die laagste punt in my lewe was toe ek moes ophou werk nadat ek my bene verloor het. Dit was moeilik om by die huis te sit en niks te doen nie.
“Gelukkig het ek hierdie ongelooflike vrou wat my elke dag opgebeur het. Elke dag het sy gesê: Kom-kom Kobus, doen iets. Dan het ek maar opgestaan en in my rolstoel die tuin natgemaak of iets gedoen en dit het my aan die gang gehou – haar inspirasie en geloof in my,” vertel Kobus van Wyk (76), ’n dubbele geamputeerde wat op Usakos woon.
Hy is in Omaruru gebore, maar het die grootste gedeelte van sy lewe in Grootfontein grootgeword. Hy het daar skoolgegaan en klaargemaak.
“My skoolloopbaan was nie baie opwindend nie. Ek was nie heel onnosel nie en het goed in klas gevaar, maar ek het baie van sport gehou, veral atletiek. Ek was baie vinnig en fiks. Ek het byvoorbeeld niks daarvan gedink om oor ’n naweek by die koshuis uit te glip en sommer gou-gou na my ouers in Tsumeb toe te hardloop nie.”
Die gevangenis was reg oorkant die skool en Kobus het gedurende pousetye vol planne daarna gekyk.
“Ek het altyd van die skool af vir oom Charles Keet, die hoof van die gevangenis, dopgehou en ek was mal oor die uniform. Ek wou so graag daai mooi uniform dra. Ek kon nie wag om met skool klaar te maak nie.”
Ná skool het hy by korrektiewe dienste aansoek gedoen en die werk gekry. Hy het vir opleiding gegaan en by die gevangenis op Grootfontein begin werk.
“Ná ’n tyd is ek die wêreld vol verplaas en het toe in Windhoek aangekom waar ek die hoof van logistiek geword het. Dit was ’n redelike hoë pos, maar ek het bedank om by Namdeb aan te sluit en ek het vir sowat tien jaar vir hulle gewerk.
“Korrektiewe dienste het my toe genader en gevra ek moet terugkom. Hulle het my selfs ’n hoër amp aangebied. Ek het teruggegaan en daar gebly totdat ek afgetree en op Noordoewer gaan bly het.”
Op Noordoewer het Kobus verveeld geraak met die rondsittery en hy het weer begin werk soek. Hy het by ’n veiligheidsmaatskappy op Rosh Pinah werk gekry.
“Ek het as ’n veiligheidswag heel onder begin werk. Later is ek na Karibib as voorman by die Navachabmyn oorgeplaas. Ek het tien jaar lank vir hulle gewerk totdat ek my bene verloor het. Hulle moes eers my linkerbeen en ’n tydjie later ook my regterbeen amputeer terwyl ek by hulle in diens was.”
AMPUTASIE
Volgens Kobus het sy dokters gesê sy bene moet weens die effek van sy rookgewoontes geamputeer word en hoewel hy tot vandag steeds lief vir sy pyp is, glo hy dit was ’n twakstorie.
“Nadat ek my bene verloor het, het hulle gesê ek kan nie meer vir hulle werk nie. Ek het van mening verskil, omdat ek nog my hande, arms en verstand gehad het. Ek kan nog beweeg. Ek beweeg in hierdie rolstoel asof ek deel van ’n resies is, so vinnig ry ek hom.”
Kobus sê aan die begin kon hy dit nie glo toe die dokters vir hom sê hulle sy been moet afsit nie.
“Dit was baie moeilik aan die begin en ’n baie groot aanpassing. Jy het geen balans nie en ek moet van voor af leer om te balanseer en te keer dat ek die hele tyd vorentoe wil val. Ek het aangehou en geleer en vandag kan ek met trots sê ek het ’n balans wat skrik vir niks nie.”
Hy het ’n voertuig gekoop en dit aangepas sodat hy dit kan bestuur, want niemand bestuur vir hom nie.
Hy en sy verloofde Jackie het in November 2021 ná die operasie Usakos toe getrek.
HOOGTEPUNT EN SPEELGOED
Kobus beskryf die dag wat hy vir Jackie ontmoet het as een van sy hoogtepunte.
“Toe ons ontmoet was daar nie lang liefdestories nie. Dit was sommer baie gou en toe is ons vrek verlief. My tweede hoogtepunt was toe my dogtertjie Anne-Jay gebore is en dit nog op my verjaarsdag ook.
“Dis ook my vrou wat my elke dag laat opstaan en my positief gehou het. Die een dag wat ek weer so in die tuin besig was, het ’n vrou, Karin, aangestap gekom en met my begin gesels. Sy het gevra of ek nie speelgoed uit hout kan maak nie, omdat daar ’n groot tekort aan speelgoed in Usakos en die omliggende dorpe is.
“Ek het dit nog nooit tevore gedoen nie en ook nie eintlik die regte toerusting gehad nie. Ek het ’n boor, slypmasjien en ’n klein figuursaag gehad. Ek het gereken kom ek probeer; ek het niks om te verloor nie.
“Ek het my heel eerste speelding met dié drie stukke toerusting gemaak. Dit was ’n helikopter en die eindproduk was nie te sleg nie. Ek het besef ek kan dit doen en van daar af maak en speelgoed sonder einde.”
Volgens Kobus is sy treine die gewildste van sy skepsels.
“Bykans van die eerste trein wat ek gemaak het, het mense daarvan gehou. Ek maak nog steeds treine sonder einde. Ek is eintlik al ’n bietjie moeg om treine te maak, maar ek sal nooit kla nie; dit hou my besig en ek is nie meer so gefrustreerd met die rondsit en niksdoen nie.
“Ek het ’n motorhuis waarin ek kan sit en werk. Ek geniet dit en al het ek nooit geleer om houtwerk te doen nie, leer ek elke dag en die speelgoed lyk elke dag beter en mooier. Ek is mal oor my nuwe werk.”
Kobus maak nie net speelgoed nie. Hy maak ook wynrakke en allerhande ander goedjies uit hout uit.
“Ek is gereed om enigiets te probeer maak. Mense kan met hul voorstelle kom en ek sal probeer maak. My vrou is baie oulik en help my met die speelgoed verf as ek besig raak. Ann-Jay, my dogtertjie, is ook gedurig by my in die motorhuis. Hoewel sy nog so jonk is, gee sy my soms baie komieklike idees van goed wat ek moet maak. Sy maak ook haar eie goed en sy help my.”
RAAD
“Met enige situasie waarin jy jouself bevind hang dit heeltemal van jouself af wat jy met jou lewe gaan doen.
“Jy moet vir jouself besluit, wil jy sit en doodgaan of wil jy opstaan en aangaan? Net jy kan dit vir jouself besluit. Ek is nog jonk en ek wil aangaan met my lewe; ek ruik dan nog na babapoeier,” sê hy laggend.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie