Stefan se nuwe lied
Vir Stefan Ludik is die lewe vandag heelwat anders as tydens sy dae van musiek, televisie en die vermaaklikheidsbedryf. Die man wat eens onder meer aan Big Brother Africa deelgeneem het, woon nou saam met sy vrou en twee kinders in Otjiwarongo, waar hy in die kleinhandel werk.
Ludik sê baie het verander sedert sy tyd in die vermaaklikheidsbedryf. Hy het musiek gemaak en op verskeie Afrikaanse sepies verskyn, albums vrygestel en hy was ook deel van die musiekgroep Elvis se Seun.
“Musiek was my droom en my loopbaan. Ek het ook toneelwerk gedoen. Die musiek, wat ek weet my groot passie was, het ek toe ’n bietjie laat vaar.”
Die besluit om na Namibië terug te keer, het egter ’n nuwe hoofstuk in sy lewe ingelui. Toe hy sy vrou ontmoet en hulle besluit om met ’n gesin te begin, het hulle besluit om hul lewe in Johannesburg agter te laat en terug na sy geboorteland te verhuis.
“Ek het my CV uitgestuur en was bereid om enigiets te doen net om terug te kom. My vrou het ook haar loopbaan opgegee. Dit was die opoffering wat ons gemaak het om ons kinders hier in Namibië te kan grootmaak.”
Vir Ludik is een van die grootste voorregte van sy nuwe lewe om ’n pa te wees. Sy seun, Leonard, is agt jaar oud, terwyl sy dogter, Abigail, ses is.
“Dit is die grootste voorreg om ’n pa en om ’n familieman te wees. Dit is heel anders as wat ek op die pad was en musiek en toneelspel gedoen het en basies vir myself geleef het. Nou het ek twee kindertjies om na te kyk.”
Die gesin geniet die rustiger lewe in Otjiwarongo. Hulle kuier saam met vriende, gaan op uitstappies en spandeer tyd op hul plot, waar die kinders ruimte het om buite te speel. “Ons het diere en spasie. Die kinders speel in die modder en die grond, hulle ry fiets en hulle speel. Dit is wat ons wou hê – om hulle nie in die stad in ’n klein woonstelletjie te laat grootword nie.”
Vir hom is veiligheid en ’n goeie omgewing vir sy kinders belangrik.
DIE GROOT PASSIE
Hoewel Ludik se loopbaan ’n ander rigting ingeslaan het, het hy nooit sy liefde vir musiek heeltemal agtergelaat nie. Wanneer hy nie by die werk is nie, tree hy soms by troues, lodges en geleenthede op. Hy beskik oor sy eie klanktoerusting en gebruik die geleenthede om weer op die verhoog te wees.
“Dan gaan ek weer terug in my ou rol as musikant. Ek geniet dit om’n bietjie die aspekte van musiekmaak te beleef en mense deur musiek te kan vermaak.”
Hy werk ook steeds aan nuwe musiek. As Stefan Ludik het hy onlangs weer liedjies vrygestel, terwyl hy ook sy Engelse musiek laat herleef en onder die naam Elvis se Seun aan remixes en nuwe musiek werk.
“Dit is lekker. Ek kry my musiek uit en vir ’n paar weke kan ek weer ’n bietjie wegraak en myself verloor in die musiek.”
Vir hom is daar ’n belangrike balans tussen sy werk, familie en kreatiewe kant.
KINDERS MOET SELF KAN KIES
Hoewel musiek ’n groot deel van sy lewe is, wil Ludik nie hê sy kinders moet voel dat hulle sy loopbaan moet volg nie. Hy wil hulle eerder aan soveel moontlik geleenthede blootstel en hulle toelaat om self te ontdek waarvan hulle hou.
Sy kinders doen goed op skool en is volgens hom baie leergierig. Leonard het selfs onlangs vir ’n talentkompetisie by sy skool ingeskryf en een van sy pa se liedjies gekies om te sing. “Ek wil hom nie dwing om musiek te maak of my loopbaan te volg nie. Ons probeer hulle iets van alles te laat doen en kyk waarvan hulle hou en waarin hulle goed is.”
Musiek is egter steeds deel van die gesin se lewe. Die kinders speel ’n bietjie klavier en neem klavierlesse. Wanneer die gesin oor naweke op die stoep sit, braai en na musiek luister, sing en dans die kinders graag.
VAN SPORT TOT LEUENVERKLIKKER
Ludik se loopbaanpad was nog altyd uiteenlopend. Musiek was van jongs af sy passie, maar daar was volgens hom nie baie geleenthede vir musiek toe hy op skool was nie. Hy het daarom op sport gefokus en rugby, krieket en atletiek beoefen.
Ná skool het hy konstruksiewerk gedoen en geld gespaar voordat hy ’n kursus in poligrafie voltooi het. “My pa het my altyd in ’n rigting gelei of raad gegee.”
Hy het later sy eie besigheid begin en tussen drie en vier jaar poligraaftoetse in Namibië gedoen vir onder meer versekeringsmaatskappye, sekuriteitsmaatskappye en ander besighede.
Maar die vlam vir musiek het weer begin brand.
“Die passie wat ek vir musiek gehad het, het weer gebrand. Ek het toe elke kans aangegryp. As daar ’n talentkompetisie of enige ander geleentheid was, het ek probeer inskryf.”
Dit het hom uiteindelik ook na die Big Brother Africa-oudisies gelei.
DIE BROOD EN BOTTER
Vandag is Ludik in die kleinhandelbedryf, ’n sektor wat hy as uitdagend beskryf. “Retail is ’n ander besigheid. Dit is ’n moeilike besigheid. Die ekonomie maak dit ook moeilik. Jou winsmarges is klein en dit is soms moeilik om produkte en voorraad te kry.”
As bestuurder het hy personeel, voorraad, syfers en bestellings om te hanteer. “Dit is lang ure.”
Maar selfs daar het hy ’n uitlaatklep gevind. Wanneer die werksdag verby is, kan hy terugkeer na musiek. “Dit is ook my uitlaatklep.”
In hierdie fase van sy lewe sê Ludik hy fokus toenemend op sy eie geestelike en fisiese welstand. Hy oefen, luister na motiverende inhoud en volg onder meer die werk van Neville Goddard.
Hy sê die verantwoordelikheid vir ’n mens se welstand lê uiteindelik by jouself. “ As mens is die verantwoordelikheid by jouself – jou geestelike gesondheid, jou fisiese gesondheid.”
Vir hom is selfontwikkeling nie net persoonlik nie. Dit beïnvloed ook hoe hy sy rol as eggenoot, pa en mens vervul. “Want as ek daaraan werk, kan ek ’n beter man vir my vrou, ’n beter pa vir my kinders en ’n beter mens wees.”
Hy glo ook dat ’n mens se wêreld grootliks ’n weerspieëling is van wat binne-in jou aangaan. “So, ek probeer aandag gee om goed aan myself te werk en na positiewe uitkomste te kyk.”
Bo alles sê Ludik hy is dankbaar vir waar die lewe hom gebring het. “Ek is baie dankbaar vir wat ek nou het, wat ek al gedoen en bereik het, en waar ek nou is.”
Vir iemand wat al verskeie loopbane, stede en lewenshoofstukke deurloop het, lyk sy huidige balans eenvoudig: familie, werk, musiek – en die ruimte om steeds homself te wees.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie