Skep jou eie kans
Vir Martha Ngeve is hekelwerk veel meer as ’n stokperdjie. Dit is ’n vaardigheid waarmee sy vir haarself ’n inkomste probeer skep – en nou ook ander mense leer hoe om dieselfde te doen.
Martha, eienaar van Martha Crotchets op Rundu, se storie begin by haar ma. In ’n huishouding waar albei haar ouers werkloos was, het sy gesien hoe haar ma handgemaakte produkte gebruik het om die gesin te help onderhou.
“Dit het my gemotiveer om meer te leer en ook my eie hande te gebruik,” sê sy.
Sy het in 2019 met hekelwerk begin. Die eerste jaar was hoofsaaklik ’n tyd van leer en eksperimenteer, met min finansiële opbrengs. Maar sy het aangehou oefen en haar vaardighede uitgebrei.
HAND UIT DIE MOU
Ná sy in 2021 ’n honneursgraad in opvoedkunde aan die Universiteit van Namibië verwerf het, het sy gehoop om werk te kry. Toe dit nie gebeur nie, het sy besluit om ernstiger op haar handewerk te fokus.
“Ek het besef ek moet iets met my hande doen en vir myself geleenthede skep.”
Martha het klein begin. Sy het items gemaak, dit verkoop en die geld weer in materiaal belê. Met selfleer en aanlyn hulp het sy van eenvoudige hekelwerk na musse, sakke en klerestukke uitgebrei.
Die pad is egter nie maklik nie. Wol en ander materiaal word duurder, en sy kan nie altyd plaaslik die kleure en voorraad kry wat sy nodig het nie. Bestellings van ander dorpe bring weer ekstra vervoerkoste mee.
HOPE GEDULD
Daarby is dit moeilik om ’n billike prys vir handgemaakte produkte te vra. Hekelwerk verg ure se geduld en arbeid, maar klante is nie altyd bereid om daarvoor te betaal nie.
Tog kyk Martha verder as haar eie besigheid.
Sy bied hekelklasse aan mense in haar gemeenskap, omdat sy glo praktiese vaardighede kan ’n belangrike eerste stap na selfstandigheid wees.
“Nie almal gaan dadelik werk kry nie, maar vaardighede kan jou help om êrens te begin,” sê sy.
Vir haar gaan die klasse daarom oor meer as om net te leer hekel. Dit gaan oor geduld, kreatiwiteit en die vertroue om iets met jou eie hande te kan maak – en moontlik daaruit ’n inkomste te ontwikkel.
MOENIE SIT EN WAG
“Soms wag ons dat geleenthede na ons toe kom, maar ek wil hê mense moet weet dat hulle vir hulself iets kan skep deur ’n vaardigheid te leer.”
Haar volgende doelwit is ’n eie werkruimte waar mense haar produkte kan besigtig, bestellings kan plaas en klasse kan bywoon. Sy droom daarvan dat die plek uiteindelik ook ’n opleidingsentrum kan word waar meer mense ’n praktiese vaardigheid aanleer.
Martha se verhaal is dus nie net een van hekelwerk nie. Dit wys wat in ’n dorp kan gebeur wanneer mense begin met wat hulle het, leer wat hulle nie weet nie en hul vaardighede met ander deel.
Wanneer werk skaars is, hoef ’n mens nie noodwendig net te wag vir ’n geleentheid nie. Soms begin dit met ’n vaardigheid, ’n eenvoudige idee en die moed om self die eerste steek te maak.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie