Sjef Elizabeth wil die wêreld wys
Sy het teen sjefs van die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) meegeding wat elke dag in sewesterhotelle se kombuise werk.
Hierdie klein meisie het teen monsters opgestaan en gewen, sê die bekende Namibiese sjef Sanet Prinsloo oor Namibië se sjef Elizabeth Isai (25) wat stof in die oë van sjefs van oraloor Afrika en die Midde-Ooste geskop het.
Elizabeth het so deurgedring om van 16 tot 19 Mei in Newport, Wallis, in die finale van die World Chefs Challenge om die wêreldtitel mee te ding.
Die sjefs wie se spreekwoordelike pap sy verbrand en hul melk laat oorkook het om uiteindelik as wenner in die streekkompetisie aangewys te word, was verstom, vertel Sanet.
“Hulle was ontsteld, het nie met ons gepraat nie en was groen van jaloesie, nou ondersteun hulle haar,” het sy tydens ’n geldinsameling en galadinee by die Namibië Universiteit van Wetenskap en Tegnologie (Nust) se hotelskool gesê.
Elizabeth het N$210 000 nodig om in Wallis deel te neem, waarvan N$100 000 reeds ingesamel is.
“Sy het regtig haarself oortref. Julle moet verstaan sy gaan nou teen lande soos Noorweë, Swede, Kanada en Amerika deelneem wat met vragmotors soos in F1 met 12 koelbokse met kos opdaag. Hulle het miljoene dollar om hulle te ondersteun,” vertel Sanet.
Elizabeth en Sanet daag met ’n tas op en gaan na die plaaslike mark waar hulle hul bestanddele koop “en ons skop gat”, sê Sanet wat ’n lid van die Namibiese Sjefsvereniging (NamChefs) is.
Elizabeth het ’n effens aangepaste weergawe van die spyskaart wat sy vir die kompetisie voorberei het by die galadinee bedien. Sy sê haar passie as sjef is aangevuur deur haar stiefpa, wat ook ’n sjef is.
Sy onthou hoe sy van die ouderdom van 12 jaar saam met hom begin kosmaak het en haar besluit om ná skool ’n sertifikaat in kulinêre kunste te verwerf.
Met die ondersteuning en leiding van sjef Ralph Herrgot, ’n dosent by Nust en een van haar mentors, het Elizabeth haar eenjaarsjefsertifikaat en verskeie kort kursusse voltooi. Sy beskryf haar eerste kompetisie as “’n nagmerrie”.
“Dit was die eerste kompetisie wat ek ooit in my lewe gehad het. Ek het nie geweet wat om te maak of wat om te doen nie. Maar sjef Ralph het gesê: ‘Moenie bekommerd wees nie, ek is hier. Ek kan jou altyd help. As jy iets nodig het, vra’.”
Kompetisies soos dié waaraan Elizabeth deelgeneem het en gaan deelneem, het ’n impak wat groter is as net die deelnemende sjef, sê Ralph op sy beurt.
“Vir die studente wat aan kompetisies deelneem, is dit lewensveranderend. Selfs vir ons as ’n leerinstelling het dit soveel geleer,” het hy gesê.
’n Back-a-Buddy-veldtog is van stapel gestuur om Elizabeth in Wallis te kry om die Namibiese vlag met trots te laat wapper.
Skandeer die QR-kode vir die veldtog se webtuiste.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie