Sjef Dagmar: Kos is ’n liefdestaal
Lank voordat sjef Dagmar Grüner deur die Namibiese Sjefsvereniging (NamChefs) as Namibië se sjef van die jaar aangewys is – en die kompetisie se eerste goue sertifikaat in meer as vyf jaar verower het – het sy ’n passie vir kook ontdek as ’n taal van liefde wat sy met haar pa en ouma gedeel het.
“Dit het begin toe ek klein was,” vertel Dagmar nadat sy Saterdagaand by die Namibië Universiteit van Wetenskap en Tegnologie (Nust) se hotelskool in Windhoek as wenner aangewys is.
“Ek het baie saam met my ouma en my pa gekook, so vir my is dit ’n leefstyl om ’n sjef te wees.”
Dagmar vertel haar belangstelling in kook het deur haar tienerjare tot ’n roeping ontwikkel, terwyl sy van tot bredies en kerries vir haar familie voorberei het.
“Dit het voortgeduur tot in hoërskool toe ek huishoudkunde as vak geneem het. Dis werklik waar ek met kos begin eksperimenteer het,” onthou sy.
Sy was nooit die kind wat daarvan gehou het om na skool by die huis te kom en net brood te eet nie, sê die topsjef. Sy het eerder gekyk wat tuis beskikbaar was en probeer om daarmee iets te maak.
Haar huishoudkundeklasse op hoërskool het haar die blootstelling gegee in wat later haar spesialiteit sou word – gebak en nageregte.
“Ek is mal oor gebak en nageregte is my gunsteling. Ek het voorheen in fyngebak by die Windhoek International Convention Centre klas gegee en was ’n fyngebaksjef by Gmundner Lodge. Ek sou graag spesifiek ’n kursus hierin wou loop.”
Dagmar is tans deel van die Nust-hotelskool se personeel. Ook hier is dit haar gunsteling en wil sy altyd nuwe dinge probeer.
Terugvoer oor haar driegangmaaltyd tydens die kompetisie was oorweldigend positief.
Beoordelaar en sjef Keanu Diergaardt het erken: “Ons het werklik na foute op hierdie borde gesoek, maar kon eenvoudig niks vind nie.”
“Ek dink ons is dikwels ons eie ergste kritici,” het Dagmar gesê.
SIEL
“Ek het probeer om my hele siel in die disse te stort en ek dink ek het dit gedoen. Ek wil daarom nie die besonderhede ontleed nie, want oor die algemeen is ek tevrede met wat ek op die borde opgeskep het,” sê sy.
Alles het egter nie seepglad in die kombuis tydens die kompetisie verloop nie.
“Daar was ’n stadium wat ek gedink het my deeg sou nie gaar genoeg wees nie, omdat ek onder tydsdruk was. Gelukkig volgens die terugvoer wat ek ontvang het, blyk dit nie die geval te wees nie.”
DIE VOLGENDE GESLAG
Hoewel Dagmar oop is vir die idee om in die toekoms haar eie besigheid te begin en op haar eie terme disse aan die publiek voor te sit, is sy tans tevrede om die leisels aan die volgende geslag sjefs by Nust te oorhandig.
“Ek het die bedryf in 2022 verlaat en die oorgang was skokkend, dit was werklik ’n groot kultuurskok. Ek voel dit wat ek hier doen is baie lonend en dra vrugte. Dit is wonderlik om te weet dat jy so ’n groot inspirasie vir die volgende geslag kan wees,” sê sy.
Haar werk met jong sjefs het ook ’n invloed gehad op die disse wat Dagmar tydens die kompetisie voorgesit het.
“Wat ek uit onderrig geleer het, is dat ek dinge tydens die kompetisie vanuit ’n ander perspektief beskou het. As ek jare gelede deelgeneem het, sou die uitkoms waarskynlik anders gewees het.
“Ek dink dit het my meer krities gemaak en my na my eie werk laat kyk wat van vroeër verskil. Ek dink ek kon dit met ’n studentementaliteit benader en kyk wat ek daaruit kon leer,” sê sy.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie