Shishani bou hoop deur kuns

Kreatiewe ontwikkeling lê haar na aan die hart
’n Bekroonde Belgies-Namibiese kunstenaar gebruik haar internasionale prysgeld om ’n kunsskool in Havana in Windhoek te help voltooi.
Annemarie du Toit

Vir die meeste kunstenaars beteken internasionale erkenning ’n groter verhoog, meer optredes of selfs finansiële stabiliteit. 

Vir Shishani Vranckx, beter bekend as Shishani, ’n Belgies-Namibiese jazzsangeres, liedjieskrywer en kitaarspeler, het dit egter iets anders beteken – ’n geleentheid om terug te ploeg in ’n gemeenskap waar talent dikwels volop is, maar die geleenthede min is.

Nadat sy die Beyond Music Social Impact-toekenning ingepalm het vir haar jarelange betrokkenheid by maatskaplike aktivisme en gemeenskapsontwikkeling, het Shishani besluit om die prysgeld te gebruik om die voltooiing van ’n kunsskool in Havana in Windhoek, te ondersteun.

Sy sê die toekenning het nie net erkenning gebring nie, maar ook nuwe motivering.

“Om die toekenning vir maatskaplike aktivisme te wen, het vir my ’n goeie gevoel van erkenning gegee, aangesien ek die afgelope 15 jaar by verskeie inisiatiewe betrokke was wat gemarginaliseerde gemeenskappe ondersteun. 

“Daardie erkenning het my die vuur gegee om met hierdie werk voort te gaan,” sê Shishani.

Die idee is gebore nadat sy haar vriend en kollega, Vetunjona (West) Uarije, in Havana besoek het, waar sy eerstehands gesien hoe beperk toegang tot kuns en kultuur vir talle jong Namibiërs is.

“Dit het duidelik geword dat geleenthede vir kuns en kultuur nie eweredig in ons land versprei is nie, veral in gebiede waar basiese lewensomstandighede reeds groot uitdagings skep. 

“Baie mense het eenvoudig nie die middele om kunsskole by te woon nie. Tog is daar ’n oorvloed talent,” sê Shishani.

Vir haar gaan die projek oor veel meer as net musiek of visuele kuns. Shishani glo kreatiwiteit speel ’n belangrike rol in persoonlike ontwikkeling, genesing en selfuitdrukking.

“Al word kuns en kultuur dikwels as ’n luuksheid gesien, vorm dit die fondament van wie ons as mense is. Toegang beteken alles. 

“Ons kan nie net voorsiening maak vir mense wat reeds die middele het nie – ons werk is ook om geleenthede te skep vir diegene wat dit nie het nie,” sê sy.

Shishani beskryf jongmense in gemeenskappe soos Havana as “ongeslypte diamante” en glo kreatiewe ontwikkeling ondersteun nie net toekomstige kunstenaars nie, maar ook jongmense se vermoë om saam te werk, probleme op te los en hulself uit te druk.

Die pad was egter nie sonder uitdagings nie. Kort nadat die inisiatief bekend gemaak is, is materiaal by die kunsskool gesteel.

“Een van die grootste uitdagings was inbrake. Die dag nadat ek gedeel het dat ons hierdie projek begin, is materiaal by die kunsskool gesteel. Maar ons het by die visie gehou en aangegaan,” vertel sy.

Vandag word die kunsskool reeds deur jongmense gebruik wat daar bymekaarkom om te leer, te skep en hul gevoelens uit te druk.

“Soms is al wat nodig is net ’n veilige ruimte waar mense saam kan kom en skep. 

“Baie jongmense wat in moeilike omstandighede grootword, het nêrens om hul gevoelens uit te druk nie. Hierdie ruimte gee hulle daardie geleentheid.”

Vir Shishani is kuns ’n manier om genesing en dialoog moontlik te maak.

“Dis belangrik om ’n manier te hê om uiting te gee aan wie ons is en waar ons vandaan kom. Kuns skep ’n ruimte van magie waar mense se denke verbreed kan word. 

“Die enigste manier waarop ons kan genees, is deur ware dialoog. Kuns bied daardie ruimte vir gesprek en leer.”

Sy voeg by dat mense moet leer om na mekaar te luister en tyd vir mekaar te maak.

“Om te genees, moet ons na mekaar kan luister. Ons moet tyd vir mekaar kan maak. Daarom voel hierdie projek vir my so sterk in lyn met my waardes en my reis as kunstenaar.”

Een van die emosioneelste oomblikke vir haar was om video’s te ontvang van jongmense wat die kunsskool geniet.

“Wanneer ek video’s ontvang van jongmense wat daar leer en skep, bring dit vir my ongelooflike vreugde. Dit bevestig waarom hierdie projek so belangrik is.”

Hoewel die projek nog in sy vroeë fases is, droom Shishani reeds groter. Sy hoop om uiteindelik ten volle funksionele kunsskole te sien waar jongmense toegang tot klasse in dans, visuele kuns, musiek, teater en rolprentvervaardiging het.

“My grootste droom is om ten volle operasionele skole te hê waar verskillende klasse aangebied word – dans, visuele kunste, musiek, teater en film.”

“Ons het soveel talent in Namibië. Kuns is nie ’n luuksheid nie. Dit dra tot die skoonheid van ons samelewing by en help ons genees.”

Vir jong Namibiërs wat voel hul omstandighede beperk hulle, het sy ook ’n eenvoudige maar kragtige boodskap.

“Kreatiwiteit is reeds deel van jou. Niemand hoef dit vir jou te gee nie. Dit bestaan reeds binne jou. 

“Glo in jouself, streef jou drome na en hou aan, ten spyte van die uitdagings. Jy sal jou pad vind.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-05-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer