Radioman se stem is stil

Frikkie Wallis sterf in Kaapstad
Huldeblyke en boodskappe van medelye het van heinde en verre ingestroom wat beide by die SAUK en destydse SWAUK uitgesaai het.
Francoise Steynberg

Radioman Frikkie Wallis (74) se stem is stil. 

Hy is Sondagaand in die Blaauwberg Netcare-hospitaal in Kaapstad knap voor sy 75ste verjaardag op 25 Junie oorlede. Volgens ’n oudkollega het hy longontsteking en hartprobleme gehad.

Huldeblyke en boodskappe van medelye het van heinde en verre ingestroom en die Wallis-egpaar, Frikkie en Maria, word as ’n gedugte radiospan beskryf.

Kolie van Coller, stigter van die plaaslike radiostasie Kosmos 94.1 en sameroeper van die Vereniging van Uitsaaiveterane het aan Republikein gesê lede van die vereniging is baie hartseer oor Frikkie se heengaan.

“Hy was ’n besondere vriend en kollega. Sy heengaan laat beslis ’n leemte in die Afrikaanse media,” het Van Coller gesê.

“Ons innige meegevoel aan sy vrou Maria en die familie. Ons rou saam met familie en vriende. Mag sy siel in ewige vrede rus.”

Frikkie se uitsaailoopbaan het op 1 Junie 1972 in Bloemfontein afgeskop waarna hy by die voormalige Suidwes-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SWAUK) in Windhoek gewerk het waar hy sy toekomstige vrou, Maria Davel, ook bekend in radiokringe, ontmoet het.  

Hulle het later na Suid-Afrika teruggekeer waar hulle in Johannesburg by die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SAUK) betrokke gebly het. Namibië het hulle weer teruggeroep waar die egpaar op Swakopmund gebly het. Wallis het nuusbulletins vir Kanaal 7 saamgestel.

Oor sy ontmoeting met Maria het Frikkie in 2022 op Facebook in sy gewilde daaglikse dagboekinskrywing geskryf:

“Ek dink nie ek óf Maria het op 2 Januarie 1986 geglo dat ons onverwagse eerste middagete by Fürstenhof in Windhoek ooit sou uitloop op waar ons 36 jaar later is nie.

“Daardie oggend het ek by die SWAUK in Pettenkofferstraat ingestap waar Gerrie Kriek die bestuurder van die Afrikaanse diens was. Hy het my aan al die kollegas voorgestel, onder andere ook Maria Davel wat my met haar lang bos donker hare en spierwit rok twee keer laat kyk het,” het hy geskryf. 

“Ek moes heel uit plek gelyk het in Windhoek in die warm Januarie waar ek die enigste een van die mans was wat ’n baadjie en das aangehad het. Die kortmou- en oopslaanhemde was ná die SAUK-jare nogal vreemd, maar ek het vinnig besef dat my dasdra-dae verby was! 

“Later die oggend het die dierbare Jeannette Hanekom (Grobler) vir my gevra of ek nie saam met haar wil gaan eet nie. Later jare gehoor dat sy baie ongemaklik was om die ‘jonge man’ te nooi, maar dat sy dit vir die base gedoen het wat haar gevra het om haar oor my te ontferm en ‘tuis’ in die vreemde te laat voel! 

“Ek het haar by die ingang van die SWAUK gekry toe Maria verbygesing kom en Jeannette haar summier voorgekeer en vriendelik verplig het om saam met ons te gaan.  

“Later het Maria natuurlik gesê dat sy nooit wou saamgaan nie. Nog minder wou sy voor in die Granada langs my sit wat die heel oggend in die warm son gestaan het. . .” 

Die egpaar is net meer as ses maande later in die Christuskirche in die hoofstad getroud met ’n “bibberkoue” onthaal by Daan Viljoen se Es.

Frikkie het twee keer met die louere weggestap en die gesogte radioprys van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns gewen. Wallis het boonop in 2000, Nuusdagboek: Feite en Fratse oor 1000 Jaar, gepubliseer. 

Hy word deur Maria, hul kinders en uitgebreide familie oorleef.

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-06-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer