Gert en Ronel van der Walt op hul troudag in 2009. Foto Facebook
Gert en Ronel van der Walt op hul troudag in 2009. Foto Facebook

Professionele jagter sterf tragies

Francoise Steynberg
Die professionele Namibiese jagter wat Maandagmiddag tydens ’n wettige jagtog in die Tsandi-omgewing in die Omusatistreek deur ’n olifantbul doodgetrap is, is as die 46-jarige Gert Andres Jacobus van der Walt geïdentifiseer.

Hy het ’n jagter van Bahrein vergesel wat die olifant gekwes het. Drie olifantbulle het sedert April amok in die Omugulugwombashe-omgewing gesaai en landerye en heinings van gemeenskappe beskadig waarna dié olifantbul as ’n probleemdier verklaar is. Die jag is uitgevoer onder die permitnommer 213656 wat die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme uitgereik het.

Volgens die professionele jagter Jofie Lamprecht het ’n spoorsnyer en Van der Walt die gekweste bul gaan soek wat hom omstreeks 13:00 bestorm en getrap het.

Van der Walt het glo op die toneel aan sy beserings beswyk.

Lamprecht wat 20 jaar gelede sy grootwildjagterseksamen saam met Van der Walt geskryf het, het gesê Van der Walt se seun, Jeremy, het hom op die jagtog vergesel.

Reëlings is gister getref dat Jeremy van Kamanjab na Swakopmund teruggeneem word waar die gesin woonagtig is. Toe het hy nog nie van sy pa se dood geweet nie.

NAPHA GESKOK

Intussen het die Namibiese Professionele Jagtersvereniging (Napha) in ’n verklaring hul diepe hartseer oor die tragiese dood van nóg ’n professionele jagter uitgespreek.

Napha se president, Axel Cramer, het beklemtoon dat die jagtog tydens ’n wettig goedgekeurde probleemdier-beheerjag plaasgevind het.

“Die bewerings dat dit ’n onwettige of geheimsinnige jagtog was, is nie waar nie. In die lig van hierdie tragedie is Napha diep ontsteld deur die onsensitiewe reaksies op sosiale media. Ons erken dat baie werk oorbly om die Namibiese bevolking te leer oor die aansienlike bydraes van trofeejag tot ons gemeenskap,” het Cramer gesê.

Napha spreek hul dankbaarheid uit teenoor die wildwagter wat dapper opgetree het om alle ander betrokke individue te beskerm.

“’n Familie treur, insluitend kinders wat ’n geliefde pa verloor het.”

Napha sê die organisasie is daartoe verbind om etiese en volhoubare jagpraktyke te bevorder. Trofeejag speel ’n deurslaggewende rol in bewaringspogings en ondersteun plaaslike gemeenskappe.

“Ons doen ’n beroep op die publiek om hierdie sensitiewe saak met deernis en respek te benader, met die bedroefde familie en die breër gevolge van hierdie tragedie in gedagte,” pleit Cramer.

Die polisie in die Omusatistreek ondersoek die voorval en Van der Walt se liggaam is na die Okahao-polisielykshuis vir ’n nadoodse ondersoek geneem.

Hy word oorleef deur sy vrou Ronel, Jeremy en ’n tienerdogter, Arizhia, wat ’n talentvolle hoogspringatleet is.

Van der Walt is die vierde professionele jagter wat vanjaar gesterf het. In Februarie is Royston Wright deur weerlig op sy plaas in die Windhoek-distrik doodgeslaan en die jong Johan Nolte is aan kanker oorlede.

In April is Felix Marnewecke in Kameroen oorlede nadat hy 'n tropiese siekte opgedoen het.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer