• Tuisblad
  • Mense
  • Plaaslike kunsgemeenskap onthou Freddie Philander
Wyle Freddie Philander Foto verskaf
Wyle Freddie Philander Foto verskaf

Plaaslike kunsgemeenskap onthou Freddie Philander

Michael Kayunde
Die Namibiese kunsgemeenskap is in rou oor die dood van die veteraan-dramaturg en kultuuraktivis Frederick Brian (Freddie) Philander wat die naweek in die ouderdom van 76 gesterf het.

Hy laat ’n groot leemte in die land se kreatiewe en kulturele landskap. Philander was meer as net ’n dramaturg. Vir talle was hy ’n mentor, ’n dryfkrag, ’n stem van protes en bowenal ’n storieverteller wat diep gewortel is in die Namibiese stryd om geregtigheid en waardigheid.

Vir meer as vier dekades gebruik Philander die pen en die verhoog as wapens teen onderdrukking, korrupsie en maatskaplike verval en sy kuns om op ’n beter, meer regverdige Namibië aan te dring.

“Die kunste is vandag soveel armer,” het Gordon Joseph, ’n joernalis wat Philander se werk bewonder het, gesê.

“Oom Freddie was ’n dramaturg by uitstek. ’n Briljante onderwyser en ’n toneelspeler deur en deur.

“Hy het ons alles gegee wat hy gehad het en niks teruggehou nie. Ek was baie lief vir oom Freddie. Wat ’n sagte reus.”

Philander se boeiende teenwoordigheid in teaterkringe – letterlik sowel as figuurlik – is sedert die 1990’s gevoel, waar hy ’n sentrale figuur in die evolusie van protesteater in Namibië geword het.

Kollegas onthou ’n man met ’n groot stem, wie se produksies altyd ’n dringendheid, ’n dryfkrag en ’n onmiskenbare deernis vir diegene van gemarginaliseerde gemeenskappe gehad het.

“Hy was ’n ongelooflike dramaturg en regisseur wie se loopbaan oor dekades gestrek het,” onthou Mathilda Joseph, ’n teaterpraktisyn.

“In sy satire het hy dikwels besin oor die stryd waarmee ons almal kan vereenselwig: hartseer, pyn, onderdrukking en wat korrupsie aan die samelewing doen. Sy werk was nie net gewortel in sy diep liefde vir die kunste nie, maar ook in hierdie land.”

Philander, wat bekend is vir werke soos Katutura ’59, was streng in sy toewyding om Namibiese stories te vertel – eerlik en sonder tierlantyntjies.

Sy samewerking met akteurs en regisseurs was bekend as intens maar lonend en het kunstenaars tot hul uiterste gedryf in die naam van outentieke storievertelling.

“Freddie het ’n groot rol in Namibiese teater gespeel,” het Lize Ehlers, tweemalige wenner van die Namibiese Film- en Teatertoekenning vir Beste Aktrise en ’n teaterregisseur, gesê.

Die veteraan-teatermaker, Sandy Rudd, het met lof van Philander gepraat en gesê sy het in verskeie van sy produksies gespeel.

Sy het hom as ’n taai maar kragtige regisseur beskryf en bygevoeg dat hy ’n man was wat nie daarvan gehou het om die euwels van die wêreld te sien nie en die verhoog as sy platform vir protes gebruik het.

“Hy het homself eerstens as ’n dramaturg voor ’n regisseur beskou. Ons sal sy passie en toewyding tot teater mis.

“Freddie sal onthou word as ’n storieverteller en doener. Die bedryf het ’n steunpilaar verloor, aangesien hy ’n groot man was met ’n groot passie en ’n groot toewyding tot protesteater,” het Rudd gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer