'Ou Berries' op Mariental begrawe

Henriette Lamprecht
Die oorskot van wyle Bernhardt Hoandi !Gaeb, ’n voormalige joernalis by Die Republikein en NBC-werknemer, is oor die naweek op Mariental ter ruste gelê. Die 65-jarige !Gaeb, ook bekend as Ou Berries, is op 14 November aan nierversaking dood.

Gebore op 28 Julie 1958, Bernhardt Hoandi !Gaeb, het hy sy kinderjare in Katutura deurgebring en soos op daardie tydstip die gebruik was, sou hy gedwing gewees het om skool in Khorixas te voltooi, as gevolg van die gesegregeerde stelsel wat destyds in plek was. Hy het egter dié stelsel trotseer en gekies om by die Hoërskool Augustinium in Windhoek skool te gaan waar hy spoedig weens politieke aktivisme geskors is. Hy is Gibeon toe waar hy standerd 8 of graad 10 aan die Privaatskool Spall Meyer voltooi het, voordat aktivisme hom weer uit die skoolomgewing gestoot het.

Op die ouderdom van 21, in 1978, het hy by Die Joernaal, ’n Afrikaanse koerant, begin werk. Hy was drie tale magtig, sy moedertaal Khoekhoegowab, Engels en Afrikaans, maar Afrikaans is die taal waarin hy hom meesterlik uitgedruk het.

Hy het by die sportlessenaar by Die Joernaal begin, daarna by Die Republikein waar hy in 1980 begin werk en in 1987 val hy in by die destydse Suidwes-Afrikaanse Uitsaaikorporasie, die huidige NBC, onder leiding van Gaob Johannes Isaak.

Immanuel Howoseb, ’n voormalige kollega, het jare lank saam met wyle !Gaeb gewerk. Howoseb was ook die streekbestuurder by die NBC-tak in Otjiwarongo.

“Bernhardt sou drie name vir my hê. As hy my bel, sal hy een van die drie gebruik – Ou Hakkie, Eidab of God met my, want my naam is Immanuel wat beteken God met ons.”

Toe hy alles aan die beroep van joernalistiek gegee het, het hy openbare betrekkinge aangedurf en gewerk as die woordvoerder van die spoormaatskappy, TransNamib en kort daarna het hy en sy vrou, Mina, met wie hy in 1984 getroud is, voltyds kommersiële boerdery in die Mariental-omgewing betree voordat hulle ’n gastehuis in die dorp oopgemaak het.

Sy gesondheid het agteruitgegaan toe hy probleme met sy niere ontwikkel het. Dit het vererger en in sy laaste dae sou hy twee keer per week in Windhoek vir dialise gaan. Een van sy dogters, Bernadette, is as ’n nierskenker geïdentifiseer, maar getrou aan sy onbaatsugtige aard het hy geweier en gesê elkeen het sy of haar eie lewe om te leef.

Esegiel !Gaeb, sy broer, vertel toe hulle hom daaroor uitgevra het, het hy gesê: “Nee, laat elkeen van ons voortgaan met die lewe soos gewoonlik, ek sal voortgaan met dialise. . .”

Pastoor Gert Beukes van die Evangeliese Lutherse Kerk in Mariental se Aimablaagte het !Gaeb se lewe gevier. “God sal ons lei na vryheid van watter omstandighede ons ons ook al bevind. Mag nou die vrede van God, wat onbegryplik is, julle harte en sintuie beskerm en by julle en ons almal wees. Amen.”

Na afloop van die kerkdiens in die stoïsynse klipgebou van die Ebenhaeser-gemeente, het roubeklaers die diens verlaat tevrede oor ’n lewe wat goed geleef is.

Die Mariental-begraafplaas het die laaste rusplek geword vir die oorskot van wyle !Gaeb waar hy tydens ’n waardige seremonie en met die klanke van die Ebenhaeser-koperblaasorkes begrawe is.

!Gaeb word oorleef deur sy vrou, Mina, ses kinders, familie en vriende.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer