Otji se gesigte
Elke dorp se grootste trots is bekendes wat hier hul eerste treë gegee het en raakvatters met diep wortels in die plaaslike gemeenskap.
Die stories van Otjiwarongo se boorlinge weerspieël waardes waarvoor die dorp bekend is: deursettingsvermoë, nederigheid en 'n sterk gemeenskapsgees.
OMAKE!
Die bekendste naam is sonder twyfel dr. Hage Geingob, Namibië se eerste premier en derde president. Hoewel hy naby Grootfontein gebore is, het hy sy kinderjare in Otjiwarongo deurgebring, waar hy sy liefde vir sport en gemeenskapslewe ontwikkel het. Sy nalatenskap bly onlosmaaklik met die dorp verbind.
Nog 'n bekende is Dan Craven. Die voormalige Olimpiese fietsryer dien steeds as ambassadeur vir Namibiese fietsry. Hy is op Omaruru gebore maar het in Otjiwarongo Hoërskool sy liefde en passie vir hierdie sport ontwikkel. Die langpad tussen die twee dorpe was vir hom 'n belangrike oefenroete.
SPORT IS IN DIÉ WATER
Die dorp kan ook spog met Maike Diekmann, Namibië se eerste Olimpiese roeier. Sy het op 'n plaas buite Otjiwarongo grootgeword en op die dorp skoolgegaan. Haar deursettingsvermoë en internasionale prestasies het haar 'n inspirasie vir jong sportlui gemaak.
Op die atletiekbaan was Agnes Samaria een van Namibië se beste middelafstandatlete. Sy het die land by internasionale kampioenskappe verteenwoordig en talle jong atlete aangemoedig om groot drome na te jaag.
DIE REG EN POLITIEK
Vekuii Rukoro, oud-prokureur-generaal, was 'n gerespekteerde regsgeleerde en gemeenskapsleier wat hom sterk vir geregtigheid en die belange van Namibiërs beywer het. Oud-minister Calle Schlettwein het op sy beurt oor baie jare 'n belangrike rol in die land se ekonomiese ontwikkeling en openbare diens gespeel.
Otjiwarongo onthou ook wyle Theo Borstlap, voormalige eienaar van die bekende Spar op die dorp, vir sy ruim ondersteuning van skole, sport, kerke en talle gemeenskapsprojekte. Sy diensbaarheid het só 'n indruk gemaak dat 'n straat later na hom vernoem is.
KANSE SKEP SUKSES
Maar die ware krag lê nie in bekende name nie. Skole, sportklubs, ondernemings en plase skep steeds kanse vir jong mense om hul talente te ontwikkel. Geleenthede, harde werk en gemeenskapsgees lewer mense op wat hul merk in Namibië – en wêreldwyd – kan maak.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie