Wyle Kobus Roux (middel agter) saam met sy familie. Foto Facebook
Wyle Kobus Roux (middel agter) saam met sy familie. Foto Facebook

Otji-boer sterf in Kaapstad

Francoise Steynberg
Kobus Roux, die boer van Otjiwarongo wat op 15 Maart ernstige brandwonde opgedoen het in ‘n gasstoofontploffing, het gisteroggend in Kaapstad gesterf.

'n Familielid van wyle Roux het aan Namibia Media Hub (NMH) bevestig dat hy Dinsdag ‘n terugslag in die brandeenheid in ‘n Kaapstadse hospitaal gehad het, nadat hy aanvanklik goed herstel het.

Roux het dieselfde tragiese pad geloop as sy swaer, die bekende sakeman en filantroop van Otjiwarongo, Theo Borstlap, wat in Mei verlede jaar ernstige brandwonde op sy plot buite die dorp opgedoen het. Borstlap (68), die eienaar van Theo’s Spar, het op 6 Junie 2023 in die Milpark-hospitaal in Johannesburg gesterf.

Roux se vrou Lientjie, is wyle Borstlap se suster.

Roux het ernstige brandwonde opgedoen nadat ’n gasstoof op die plaas Gemsbok, sowat 20 km noord van Otjiwarongo, ontplof het.

Die gasstoof het vermoedelik gelek en die egpaar het die gas geruik. Toe Roux ondersoek instel en die oonddeur oopgemaak het, het dit ontplof. Die huis is beskadig, maar niemand anders is in die voorval beseer nie.

Henriette Le Grange van Droogtehulp Namibië het haar medelye met Roux se familie uitgespreek.

Buiten sy vrou, word Roux oorleef deur sy seun Kobus, dogter dr. Patricia Classens, skoonseun dr. Gavin Classens, twee kleindogters en een kleinseun, en sy skoonma Pat Borstlap.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer