Otavi se wyn in Franse museum

Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht - Van ’n klein wingerd in die mooie Otavi-vallei in Namibië tot ’n hipermoderne wynmuseum gehuisves in ’n aluminium-en glasmuseum in een van Frankryk se mees gesogte wynprovinsies.

Dit is die wynsprokie van Boshoff Family Wines, wat met twee wyne in die roemryke Cité du Vin-museum in Bordeaux kan spog waar van uitstallings tot vertonings en akademiese seminare alles met natuurlik wyn as tema gehou word.

Die Cité du Vin is in Junie 2017 geopen en in Mei 2024 was daar al byna drie miljoen besoekers deur sy deure.

Anouk Legendre en Nicholas Desmazières van die XTU Agency was verantwoordelik vir die ontwerp van die gebou in die vorm van ’n glaskaraf – ’n glashouer waarin wyn geleidelik gegooi word om te verhoed dat die sediment versteur word en dan word dit laat staan.

Die argitekte beskryf die ontwerp as “’n ruimte-ontwerp gevorm deur simbole van identiteit: ’n geknoopte wingerdstok, wyn wat in ’n glas kolk, werwels op die Garonne. Elke detail van die argitektuur roep wyn se siel en vloeibare aard op: naatlose rondheid, ontasbaar en sensueel”.

’n Jaar voor die opening van die unieke wynmuseum het die totale koste van die konstruksie op ’n geraamde 81,1 miljoen euro gestaan, belasting uitgesluit.

Uit die duisende wyne in die wêreld is ons kelder gekies om twee bottels uit te stal, skryf Gilmar en Tamara Boshoff op hul Facebookblad.

“Dit is twee stories van toewyding, terrior en die passie van ons klein, maar magtige span wat nou langs die grotes sit.”

Red Catholic is sedert 2018 saam met die witwyn in produksie, met die produksie van 600 bottels.

Met verloop van tyd het die samestelling van die versnit verdiep na gelang van die oes en het die huidige oesjaar Syrah, Mourvèdre, Tempranillo, Barbera en ’n bietjie Viognier.

Die wit versnit White Catholic is sedert Boshoff Family Wines se eerste oes in 2018 op die mark, met net 300 bottels wat toe geproduseer is. Mettertyd het die kwaliteit verhoog danksy die kelder se nuwe pneumatiese membraanpers wat toe is en oksidasie tydens die parsproses verminde

Boshoff Family Wines ryg reeds 2020 die internasionale goue toekennings in met die Syrah wat tydens die Michelangelo Internasionale Wyn en Spiritualieë-toekennings met ’n goud bekroon is. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer