Om die ‘ander’ in ’n nuwe lig te sien

Lewe, lig en outisme
Die multimedia-produksie ‘Conversations with Michael’ volg die verhouding tussen ’n nie-verbale outistiese tiener en sy tutor en is op ’n ware verhaal gebaseer.
Henriette Lamprecht

Tydens die Covid-19-pandemie het die bekroonde regisseur en dramaturg Sandy Rudd daaraan begin dink om ’n toneelstuk te skep wat die vooroordele ondersoek wat mense het teenoor diegene wat hulle anders as hulself beskou. 

Rigiede oortuigings in godsdiens, filosofie en politiek kan ons leer om verskille as ’n bedreiging te sien, sê Sandy. In plaas daarvan om dit te omarm, vrees ons dit, of haat dit selfs. 

“Maar waarom kies ons, as ’n samelewing wat in wese liefdevol is, vrees en haat bo vriendelikheid, deernis en empatie? Ek wou daardie vraag ondersoek.”

Sandy werk sedert 1975 aan verskeie projekte met outistiese kinders. Toe sy vir Veronica ontmoet en sy haar vertel van haar werk met Mike – haar outistiese leerling wat nie praat nie – het die idee werklik begin vorm aanneem.

“Hier was iemand wie se ervarings grootliks verskil van dié van die meeste mense om hom en wie se verhaal ons kan uitnooi om ons eie aannames te bevraagteken. Ek het geweet ek wil sy verhaal vertel.”

Sandy het toe The Reason I Jump deur Naoki Higashida gelees, ’n outistiese seun wat nie praat nie en die boek op die ouderdom van slegs 13 jaar geskryf het. Deur middel van lewendige beskrywings en kortverhale vertel hy hoe sensasies en emosies sy daaglikse lewe vorm. Die boek het haar gefassineer.

Om met Mike te werk en sy innerlike wêreld te verken en te ontdek, was ’n absolute voorreg vir die akteurs en die produksiespan, sê Sandy. 

“Dit was uiters aangrypend en het ons oë oopgemaak. Ek wil hê die gehoor moet daardie selfde ervaring hê.”

Teater kan ons persepsies uitdaag, sê sy. 

“Dit kan verborge waarhede aan die lig bring en ons inspireer om van denke te verander. 

“Dit kan ons help om die ‘ander’ in ’n nuwe lig te sien, wat lei tot groter begrip en aanvaarding. Wanneer ons sien hoe iemand se verhaal op die verhoog tot lewe gebring word, kan dit ons help om nie so vinnig te wees om te oordeel nie.”

Sandy erken Conversations with Michael is die moeilikste toneelstuk waaraan sy nog ooit gewerk het. Die grootste uitdaging was om die verhaal van ’n werklike persoon met diepgaande outisme te vertel – met behoud van waardigheid, respek en liefde – sonder om in sentimentaliteit te verval, verduidelik sy.

Mense met outisme is neurodivergent; dit beteken dat hul breine inligting anders verwerk en daarop reageer as wat as tipies beskou word. 

Ongelukkig word hulle dikwels bejeën met jammerte, vrees of agterdog, of selfs met ’n houding van meerderwaardigheid, sê Sandy. 

“Ons moes versigtig wees om nie daardie gesindhede na die verhoog te bring nie, maar eerder vir Michael uit te beeld as ’n mens met sy eie gedagtes, gevoelens en begeertes.”

Om hierdie uitdaging die hoof te bied, was ’n gesamentlike poging, waartydens elke lid van die span en die rolverdeling hul eie idees en kreatiewe sterkpunte tot die werk bygedra het. 

Roya Diehl se deeglike navorsing en toewyding as skrywer het gehelp om die moeilike, komplekse onderwerp te omskep in ’n pragtige, teer verhaal oor hoop en menslike verbondenheid.

Volgens Sandy beskik die multimedia-toneelstuk van 45 minute oor al die elemente om die gehoor te boei en te bekoor, terwyl dit hulle ook stof tot nadenke gee. 

“Die kern daarvan is Mike se ervaring dat hy uiteindelik kan deel wat in sy gedagtes aangaan. As ’n persoon met outisme wat nie praat nie, het hy vir die grootste deel van sy lewe geen betroubare manier gehad om dit te doen nie.”

Mike het onlangs 19 geword. Sowat drie jaar gelede het Veronica hom bekend gestel aan die letterbord, wat hy gebruik om sy gedagtes en gevoelens uit te spel. 

“Hierdie metode het sy gesin ’n blik op sy innerlike lewe gegee, nadat hulle jare lank net kon raai. Stel jou voor hoe dit moet voel!”

Vir Sandy is dit niks minder as ’n wonderwerk nie. Daarom wil sy hê die gehoor moet daardie selfde gevoel van verwondering ervaar, terwyl hulle terselfdertyd bewus bly van die vrae wat rondom die letterbord-metode bestaan. 

“Hierdie produksie verskil van enigiets wat ek al voorheen op die verhoog gebring het. Ek glo dit sal die gehoor bybly, lank nadat hulle die teater verlaat het.”

Conversations with Michael het ’n “uiters indrukwekkende rolverdeling”, bestaande uit die bekroonde akteurs Ndino Ndilula en Lize Ehlers, saam met die belowende nuwe talent Othello Joseph. 

Sandy het die voorreg gehad om in die verlede met elkeen van hulle te werk en om hulle vir hierdie projek bymekaar te bring, is ’n droom wat waar geword het.

“Ek het die grootste respek vir hierdie kunstenaars, wie se onverdeelde toewyding aan hierdie veeleisende rolle die emosionele diepte van die verhaal tot lewe bring. Othello vertolk die rol van Michael met nuanse en sensitiwiteit, sonder om ooit in ’n karikatuur te verval. 

Ndino se vertolking van die tutor kombineer warmte met ’n ingetoë waardigheid, terwyl Lize moeiteloos wissel tussen die tutor se innerlike stem, die verteller en ’n Griekse koor.” 

Om met sulke wêreldklas-talent te werk, is ’n seldsame en pragtige ervaring, sê Sandy. 

“Hierdie is werklik ’n droomspan. Die allerbestes.”

Buiten vir die blik wat die gehoor in Conversations with Michael kry op die hegte band gekenmerk deur omgee en respek wat later tussen hom en sy tutor ontwikkel, verken die toneelstuk ook die debat rondom “spelling to communicate”. 

Dit ondersoek vrae oor outeurskap en die moontlike invloed van ’n kommunikasievennoot, sowel as die hoop wat praktisyns en gesinne in die metode stel. 

– [email protected]


*Conversations with Michael is op 29 en 30 Oktober om 18:00 in die Nasionale Teater van Namibië (NTN) op die planke. Kaartjies is by Webtickets beskikbaar. Die toneelstuk word ook tydens die sesde Wêreld Outisme-kongres opgevoer wat vir die eerste keer in Namibië en wel in Windhoek van 3 tot 5 November plaasvind. Die konferensie is ’n historiese eerste vir Namibië en bring outistiese individue, ouers, navorsers, klinici, opvoeders en voorspraakmakers van oraloor die wêreld in die hoofstad bymekaar.

Kommentaar

Republikein 2026-10-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer