Paulus Noa FOTO Argief
Paulus Noa FOTO Argief

Noa: Stop wetlike skuiwergate toe

Ondermyn Namibië se stryd teen korrupsie
Petrus Noa sê een van die kernprioriteite vir sy opvolger behoort te wees om die teenkorrupsiewet te wysig.
Nikanor Nangolo

Die uittredende direkteur-generaal van die Teenkorrupsiekommissie van Namibië (ACC), Paulus Noa, sê Namibië se stryd teen korrupsie word verswak deur wetlike skuiwergate wat rekenpligtige beamptes en senior staatsamptenare in staat stel om die kommissie se aanbevelings te ignoreer.

Dit gebeur sonder enige gevolge – selfs wanneer ondersoeke ernstige wangedrag en die verlies aan openbare fondse onthul.

In ’n onderhoud op Network Television (NTV) se The Agenda, wat Sondag op DStv (kanaal 285) en GOtv (kanaal 94) uitgesaai word, het Noa gesê een van die kernprioriteite vir sy opvolger behoort te wees om die teenkorrupsiewet te wysig om skuiwergate toe te stop wat aanspreeklikheid ondermyn.

Noa het gesê die huidige wet laat die ACC magteloos wanneer ondersoeke wangedrag uitwys wat nie op strafregtelike korrupsie neerkom nie, maar steeds dissiplinêre stappe regverdig.

“Ons het talle dossiere ondersoek omdat ons, toe die Teenkorrupsiekommissie bewerings ontvang het, oortuig was dat daar elemente van korrupsie teenwoordig was,” het Noa aan The Agenda gesê.

Hy het verduidelik dat sommige ondersoeke – ná maande of selfs jare – uiteindelik wangedrag of wanadministrasie aan die lig bring wat deur middel van interne dissiplinêre prosesse eerder as strafregtelike vervolging getakel behoort te word.

Hy het egter gesê dat talle instellings eenvoudig nie ag slaan op die ACC se aanbevelings nie.

“Baie van hierdie dossiere wat ons met aanbevelings ingedien het, is geïgnoreer, en ons kon niks doen nie. 

“Dit aangesien daar in die wet geen bepaling is wat die Teenkorrupsiekommissie die bevoegdheid gee om op te volg of selfs die administrateurs, die rekenpligtige beampte of hul toesighouers te vervolg vir hul versuim om op te tree ooreenkomstig die opdrag van die kommissie nie,” het Noa gesê.

Hy het voorgestel dat die wet gewysig word om te verseker dat rekenpligtige beamptes en senior amptenare nie die ACC se bevindinge sonder enige gevolge kan verontagsaam nie.

“Daar is ’n behoefte daaraan om dit strafbaar te maak as daar versuim word. . . om op aanbevelings of opdragte op te tree,” het Noa gesê. 

“Ek het gesien ander lande het dit al gedoen. Miskien sal die hele stelsel baie, baie doeltreffend word, want dit gaan nie net oor die persoon wat hom aan wangedrag skuldig gemaak het nie, maar ook oor die persoon wat sê hy gaan nie optree nie,” het hy bygevoeg.


WETLIKE SKUIWERGATE

Noa het ook gevra vir breër wysigings aan die teenkorrupsiewet, insluitend die kriminalisering van onregmatige verryking en die uitbreiding van die ACC se ondersoekbevoegdhede om oortredings in te sluit wat tans buite sy mandaat val.

As voorbeeld het hy verwys na ’n ondersoek na bewerings van ’n botsing van belange, waarin die betrokke amptenaar aangevoer het dat hy niks verkeerd gedoen het nie, aangesien sy instelling se beleid nie belangebotsings aangespreek het nie.

Toe Noa se span na die beleid gekyk het, het dit geblyk om waar te wees.

“Daar was eintlik niks daar nie. Hierdie persoon het gedink hulle doen iets wat deur die stelsel toegelaat word.”

Hy het gesê die instelling het later sy beleid gewysig om belangebotsings te verbied en van werknemers te vereis om hul belange te verklaar.

Oor wetgewende wysigings tydens sy ampstermyn, het Noa gesê dat wysigings aan die wet op die voorkoming van georganiseerde misdaad aan die einde van 2023 die ACC aansienlik versterk het deur aan die liggaam die bevoegdheid te verleen om selfstandige (stand-alone) oortredings van geldwassery te ondersoek.

Dit was die rede waarom die kommissie nie die plundering van die SME Bank ondersoek het nie, het hy verduidelik.

“Toe die SME-bank geplunder is, het die wet nie aan die ACC die bevoegdheid verleen om direkte of selfstandige sake van geldwassery te ondersoek nie. Daarom het ons nie betrokke geraak nie,” het hy gesê.

Na aanleiding van dié wysigings het die ACC toegewyde afdelings ingestel wat verantwoordelik is vir ondersoeke na geldwassery, die insameling van intelligensie en forensiese ontleding.


PERSONEEL

Ten spyte van hierdie vordering, het Noa gesê die ACC sukkel steeds met ’n tekort aan personeel en die verlies van ervare ondersoekers aan ander instellings, nadat daar aansienlik in hul opleiding belê is.

“Die ACC se personeelkorps is steeds baie beperk. Dit bly baie klein en moet uitgebrei word sodat mense doeltreffend kan werk,” het hy gesê.

Hy het gesê talle voormalige ACC-ondersoekers het later senior bestuursposte elders beklee, terwyl die kommissie steeds die kundigheid verloor wat nodig is om ingewikkelde teenkorrupsie-ondersoeke voort te sit.

Ná byna 20 jaar aan die stuur van die ACC het Noa se ampstermyn in Junie geëindig.

Dit bring ’n einde aan die langste aaneenlopende leierskap van enige teenkorrupsie-agentskap in Namibië se geskiedenis.

[email protected]


Kommentaar

Republikein 2026-07-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer