Namibië tydloos vasgevang

Iréne-Mari van der Walt
’n Rolex Submariner 116610-horlosie het onlangs ’n spoggerige nuwe baadjie gekry wat jou aan Namibië herinner.

Die horlosie, wat Artisans de Genève op bestelling vervaardig, se wyserplaat is ’n stukkie van die Gibeon-meteoriet wat 0,3 mm dik is.

Die horlosie het ’n maanfase-aanwyser wat nacre (mother of pearl) gebruik vir die maan en ’n vorm van kwartiet (aventurine) vir die lug.

Paulo Coelho, ’n Namibiër wat in luukse horlosies handel dryf, sê dat die nacre en kwartiet asook witgoud wat vir die horlosie gebruik is, van Namibië kom.

“Dit is eenvoudig ’n pragtige horlosie en ek was so beïndruk,” sê hy.

Hoewel die Heart of Namibia ’n unieke horlosie is, sê Coelho die eienaar van die oorspronklike horlosie het ingestem dat Artisans de Genève ook ’n Rolex Submariner 116610 vir hom mag oordoen om soos die Heart of Namibia te lyk.

“Mense moet verstaan dat horlosies ’n belegging is – hulle waarde neem mettertyd toe. Horlosies verloor nie waarde soos ’n voertuig wat 10% of 20% verloor sodra jy dit van die verkoopslokaal ry nie," sê hy.

Coelho sê sy bekoring met horlosies het in sy kinderdae begin.

“My ma het ’n klein gastehuis in Pionierspark (Windhoek) en ons het baie Angolese gaste gekry en hulle het altyd groot, spoggerige horlosies gedra,” vertel hy.

Later het sy ma vir hom ’n Casio G-Shock-horlosie gekoop. Hy besit steeds hierdie horlosie en het sedertdien verskeie ander horlosies by sy versameling gevoeg wat hom herinner aan belangrike mylpale en gebeurtenisse in sy lewe.

Coelho het ook nog 'n horlosie geërf wat sy oupa in 1942 gekoop het. Hierdie Rolex Submariner 116600 is sedertdien aan sy pa en later aan hom oorgedra.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer