Namibië rou oor Johnny Davids
Beide Namibiërs en Suid-Afrikaners rou oor die afsterwe van die bekende televisie-aanbieder, radiopersoonlikheid, sportkommentator, sanger en skrywer Johnny Davids (48).
Hy het gister in die vroeë oggendure aan ’n hartaanval beswyk.
Huldeblyke stroom van oraloor in met baie wat sê sy nalatenskap en getuienis sal vir nog baie geslagte voortleef.
Johnny het bekendheid verwerf nadat hy die sangkompetisie Zing! saam met Vivian Molauly gewen het, voordat hy hom as solo-kunstenaar gevestig het met ’n fokus op Afrikaanse en gospelmusiek.
Benewens musiek het hy ’n erkende televisiepersoonlikheid geword deur sy rol as aanbieder op Kwêla en het hy ’n parallelle loopbaan in sportuitsending op platforms soos SuperSport en RSG opgebou. Johnny het ook tot die letterkunde bygedra deur sy outobiografie Boytjie, waarin hy sy kinderjare in die Narraville-woonbuurt op Walvisbaai en sy reis deur teëspoed tot nasionale erkenning dokumenteer.
Familievriend Donovon Paulse vertel dat hy en Johnny saam in Narraville grootgeword het.
“Daar is so baie om te sê. Johnny was maar net Johnny. Wat hy en Vivian bereik het; en toe besluit het om nie net daar te stop nie – hy het gegaan vir die 'ultimate',” sê Donovan.
KOMVANDAAN
Hy sê dat Johnny se lewe ’n goeie bewys en les is dat jou komvandaan nie jou toekoms hoef te bepaal nie.
“Die belegging wat hy in my persoonlik gemaak het – as rugbykommentator kon ek met hom gesels en hy kon my wys maak op daardie ‘finer details’. Hy het ’n groot hart gehad vir Narraville en die mense van Narraville. “Hierdie plek, waar hy grootgeword het, was nog altyd ’n prioriteit vir hom. Hy het altyd uitgekyk vir Narraville se kinders.”
Daar is tans sprake van ’n plaaslike diens.
Jossie en Romie van Wyk, plaaslike organiseerders van die Mighty Men-konferensie wat van 1 tot 3 Mei op Langstrand, Walvisbaai, sal plaasvind, het gesê Johnny sou as spreker optree en sy storie op Saterdag 2 Mei deel, soos vervat in sy boek, Boytjie.
“Hy het ook belowe om sy nuwe lied vir die eerste keer op die verhoog te sing. Almal het uitgesien na die liedjies wat hy en Vivian Molauly saam sou doen.
“Dit sou ’n baie spesiale oomblik wees, aangesien hulle saam die Zing-kompetisie gewen het en ná soveel jare weer saam op ’n verhoog sou wees,” het hulle gesê.
Volgens Jossie was hulle nog Dinsdagaand in gesprek met Johnny en het hulle na ’n video van sy nuwe liedjie geluister, In ’n oomblik soos dié het ek U nodig.
“Sy heengaan is ’n groot en persoonlike verlies. Op hierdie stadium sit die komitee koppe bymekaar om tydens die saamtrek op ’n gepaste wyse hulde te bring aan ’n man wat soveel Namibiërs bemoedig het.
“Soos hy self in ’n video gesê het waarin hy Namibiërs na die saamtrek genooi het, het hy gesê hy kom huis toe om sy storie te deel.
Hulle doen ‘n beroep op Namibiërs om vir Johnny se vrou, Liezel, en sy kinders te bid.
Johnny sou ná Mighty Men nog ’n week op Rehoboth deurbring om die Sam Khubis-verrigtinge te verfilm. Namibiërs word steeds uitgenooi om die Mighty Men-geleentheid en die Sam Khubis-saamtrek by te woon en God se naam te verheerlik.”
NAMIBIESE RUGBY-UNIE
Die Namibiese Rugby-unie (NRU) het ook hul medelye uitgespreek.
“Ons deel in julle hartseer en hou julle in ons gedagtes en gebede terwyl julle die verlies van ’n geliefde betreur. Mag julle vertroosting vind in die herinneringe wat gedeel is en krag in die ondersteuning van familie en vriende. Namens die Namibiese Rugby-unie-gemeenskap betuig ons ons innige simpatie.”
Saterdag het Johnny aangekondig dat hy aan ’n nuwe liedjie werk wat binnekort vrygestel sou word, getiteld Gee my weer lewe.
Hy het op Facebook geskryf dat hy hom onlangs op ’n plek bevind het “waar ek gevoel het dat die vyand die lewe uit my suig. Niks wat ek doen wil floreer nie.
“Vir die ou daar buite lyk alles okay, maar diep binne my siel worstel ek met diep en onverklaarbare dinge. Die interne geestelike stryd het my lam gelaat,” het Johnny geskryf en die lirieke van sy liedjie bygevoeg:
“Hier is ons weer op hierdie plek
Met ons harte oopgevlek
Net op U, Heer, wag ons nou
Laat U teenwoordigheid neerdaal
Soos reën
Elke vrees word nou oorheers
En U vrede vul my gees
Ons is hier en ons is reg
O Here, wys ons U weg
Sonder U, Heer, is ons niks
Kom vat ons aan die hand
En lei ons, lei ons, lei ons
Kom blaas oor my, Heilige Gees
Kom blaas oor my
Kom gee my weer lewe en hoop
Kom blaas oor my”


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie