• Tuisblad
  • Mense
  • Namibië rou oor ‘singende sendelingsegpaar’

Namibië rou oor ‘singende sendelingsegpaar’

Iréne-Mari van der Walt
“Linda en Eddie los ’n groot leemte in hierdie land. Hulle was en sal legendes bly, hulle het harte oraloor ons land geraak en ook oor grense. Die land is en was lief vir hulle.”

Só sê Alinda Lu’Mar, ’n omroeper by Kanaal 7, wat Eddie en Linda van der Merwe ken sedert sy 18 jaar oud was.

Die Van der Merwe-egpaar, Fritz Brandt van Usakos en twee passasiers in die ander voertuig, Naftalie Ricky Brukeni van Karabib en ’n ses maande oue baba het die afgelope langnaweek tragies in ’n motorongeluk naby Wilhelmstal gesterf. Drie mense, insluitend die bestuurder van die ander voertuig, het die ongeluk oorleef.

Die Van der Merwes, ’n welbekende en geliefde egpaar wat as die “singende sendelingsegpaar” bekend gestaan het, het dekades lank by Christelike kerke oor verskeie denominasies landswyd gedien.

“Hulle was ware kinders van God, hulle het dit gelééf. Met elke tree het hul liefde gesaai, ek wil amper sê – liefde en genade uitgedeel.

“Hulle het soveel lig gebring, hul harte was oop, hul hande was áltyd gereed. Hulle was ’n getuienis vir die koninkryk. Ons harte is seer, maar ons troos is in die wete: hul jubel en juig in die Hemel,” sê Lu’Mar.



MEEGEVOEL

Pastoor Martin van Niekerk, die sameroeper van die predikantebyeenkoms in Swakopmund, wat dekades lank as predikant dien en by verskeie geleenthede die Van der Merwe-egpaar by sy gemeente ontvang het, sê die egpaar sal nog baie lank in Namibië onthou word.

“Hulle het verseker ’n breë spoor, en natuurlik ook diep spore getrap en veral omdat hulle ’n geestelike aanslag gehad het, is dit so dat dit in mense se harte neerslag gevind het,” sê Van Niekerk.

Hy sê hy en sy vrou, Alta, het die ongelukstoneel gesien.

“Dit was vir ons hartseer toe ons van Swakopmund na Windhoek gery het, het ons verby die ongelukstoneel gery. Ons het natuurlik nie in daardie stadium geweet wie in die ongeluk betrokke was nie,” sê hy.

Die Van Niekerks het oor die Van der Merwe-egpaar gesê: “Van ons kant as pastoorpaar het ons hulle altyd as vriendelik ervaar. Hulle het ook by ons gemeente kom bedien en ek onthou sy het so ’n mooi aandrok aangetrek en in ’n stadium het sy liggies aangeskakel wat hulle vooraf om die rok gedrapeer het en dit het ’n baie engelagtige voorkoms geskep.”

Van Niekerk sê die feit dat die egpaar nie hul bediening aan spesifieke kerkdenominasies gekoppel het nie, het hulle merkwaardig gemaak.

“Wat ek dink besonders van hulle was, is dat hulle baie aanpasbaar was wat hulle bediening betref het en dit is dat hulle opgetree het by verskillende kerkdenominasies en by verskillende gemeentes oraloor ons land wat hulle genooi het – en dat hulle altyd nederig en op hul plek was,” sê hy.

“Hulle bediening was ook uit hul harte. Dit was ’n voorreg om na hulle te kon luister en geseën te word deur die verskillende liedere wat hulle gesing het en dan natuurlik mettertyd, soos hulle verskuif het daar na die Spitzkoppe se rigting op Usakos, het hulle ook hul bediening voortgesit soos die Here dit vir hulle moontlik gemaak het,” sê Van Niekerk.

Van Niekerk deel sy innige meegevoel met die egpaar se drie seuns – Edrich, Edlin en Tossie – asook kleinkinders en geliefdes wat die Van der Merwes agtergelaat het. Hul jongste kleindogter, Jasmien, is enkele dae voor die noodlottige ongeluk gebore.

“[Ons wil] hulle verseker dat die Here die een is wat hulle in die holte van sy hand hou en hulle sal vertroos en versterk.

“Mag hulle nalatenskap nog lank in harte voortleef tot eer van die Here,” sê hy.



HULDEBLYKE

Huldeblyke vir die Van der Merwes het van oraloor sosiale media ingestroom.

Jackie Maclean van den Berg het op Facebook gesê: “Dit is hartseer nuus – RIV Eddie en Linda. Nou is julle saam in die hemel om julle krone te ontvang.”

Lynette Rhode sê: “Hulle was altyd saam. So het hulle die lewe ook verlaat. Dis baie hartseer maar hulle is bymekaar na die ewige rus.”

Rina Liebenberg is een van talle sosialemediagebruikers wat warm onder die kraag was oor bewerings dat die bestuurder van die ander voertuig glo onder die invloed van drank was.

“So onnodig en so hartverskeurend dat ’n dronk tor sulke goeie en waardevolle mense se lewens vir die samelewing so wreed wegneem. ’n Onskuldige ou babatjie so wreed vermoor a.g.v arrogante selfsug. Ek is opstandig hartseer en ontsteld hieroor,” skryf sy.

Baie het die ongeluk vergelyk met die ongeluk waarin die Joschko-gesin jare gelede dood is.

Jandré Dippenaar is verlede jaar tot 15 jaar tronkstraf gevonnis op ses aanklagte van moord en talle sosialemediagebruikers meen dieselfde moet in dié saak geld.

Willem J van Rensburg skryf op sosiale media: “Ek sal ook sê die dronk drywer moet vir moord aangekla word en nie strafbare manslag nie. ’n Voertuig is ’n gevaarlike moordwapen as ’n dronk mens dit bestuur.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer