’n Ystervrou met moed

Namibiër pak wedlope met durf aan
Marietjie du Plessis was onlangs die tweede vroue-atleet oor die wenstreep in die 120 km Salomon Cappadocia Ultra-Trail-veldhardloopbyeenkoms in Turkye.
Tanja Bause
“Dit was my eerste 120 kilometer en eerste internasionale wedloop en ek wou net hardloop. Yekta – wat ek sowat 30 kilometer na die wegspring ontmoet en saam met wie ek gehardloop het – was die hele tyd oortuig ek kan die podium haal; toe kom ek tweede,” het Marietjie du Plessis (31) gesê.

Sy was onlangs die tweede vroue-atleet oor die wenstreep in die 120 km Salomon Cappadocia Ultra-Trail-veldhardloopbyeenkoms in Turkye.

Marietjie, ’n kraamsaalverpleegster in Windhoek, het drie jaar gelede begin om veldhardloop te beoefen.

“Ek het altyd fiets gery, maar nie rêrig daarvan gehou nie omdat ek die heeltyd omgeval het. Ek het dit gedoen omdat almal dit doen. Ek het twee jaar in Nederland gewoon en daar besluit om iets anders aan te pak. Ek het my eerste halfmarathon gehardloop en al was dit net rondom ’n dam, was ek nog steeds trots op myself. Padhardloop was ook baie vervelig, maar veldhardloop in die natuur en vars lug is meditatief.”

Verlede jaar wou sy die Visrivier Ultra hardloop, maar dit is gekanselleer en sy en ’n vriend het besluit om die Cederberg Traverse in Suid-Afrika te hardloop.

“Hy het my oortuig dat ek die 100 kilometer kan voltooi. Dit was ’n baie tegniese resies want die meeste van die tyd was daar nie eens ’n pad nie. Ons het dit in 23 uur gedoen.”

Marietjie sê sy het sowat drie dae nִá sy dié wedren voltooi het na die volgende een begin soek.

“Ek het dit baie geniet en ek sê altyd vir mense jou liggaam word so rondom die 40 kilometer-merk seer, maar dit word nie seerder nie. Jy leer jou liggaam goed ken. Jy weet presies wat en wanneer jy moet eet. Wanneer jy by 40 kilometer kom, het jy al jou probleme in jou kop klaar uitgesorteer en jy kan begin om die resies, die buite wees, die natuur en omgewing te geniet.”

TURKYE

“Ons wou in elk geval ’n familievakansie gaan hou en het besluit om dit met die Salomon Cappadocia Ultra-Trail te kombineer. My man Andro en my swaer Francois het vir die 63 kilometer ingeskryf en ek vir die 120 kilometer. Ek was bietjie bang vir die afstand, maar het besluit om dit te doen en te geniet.”

Marietjie was die enigste Namibiër uit die 75 lande wat deelgeneem het.

“Die atmosfeer was ongelooflik en dit was my eerste internasionale byeenkoms en ek het net begin hardloop. Ek het gedink ek is dalk bietjie te vinnig aan die begin, maar ek het dit net so geniet en aangegaan.”

Dit is toe Yekta Dinc van Turkye by haar verbyhardloop en sê: “Jy hardloop ’n baie goeie resies. As jy so aangaan kan jy ’n medalje wen.”

“Ek het net gelag en geantwoord dat ek twyfel of ek die pas kan volhou, maar kom ons probeer. Hy het die resies al die jaar voor dit gedoen en hy wou dit in 16 uur voltooi. Hy het gesê as ek wil, kan ek saam met hom hardloop. Hy was ongelooflik gaaf. Hy het gesê ‘eet gou iets ons moet klim’ of ‘ons kom nou by ’n kontrolepunt, maar ons hoef nie te stop nie’. Dit was die tipe raad wat van onskatbare waarde was.”

Toe die twee by die sewende kontrolepunt aankom, het die mense vir Marietjie gesê sy is tans die vierde vrou.

“Ek was baie geskok. Ek was 51 minute agter die eerste vrou en ek het gedink vierde plek is meer as wat ek ooit gedink het ek sal behaal. Yekta het net gesê ‘nee’ nou gaan ons nommer drie inhardloop. Toe ons by haar verbyhardloop het hy gesê ‘nou moet jy slim wees’. Ek het net geantwoord dit is baie druk. Daar is nog meer as 30 kilometer van die resies oor, maar nie baie brein nie. Nie te min sal ek my bes gee.”

Hulle het by ’n kontrolepunt gestop, sop geëet en sand uit hul skoene gehaal voordat Yekta gesê het nou haal ons nommer twee in.

“Ek het gedink die man is baie ambisieus om te dink ’n amateur van Namibië kan tweede kom. Ek het begin wonder waar al die vroue-hardlopers is. Ek het gewonder of hulle siek geword het, of beseer is en hoekom hulle uitgeval het.”

Hul paaie het geskei omdat Yekta die mans wou inhaal sodat hy onder die eerste tien kon eindig.

“Hy het toe ook vir my gesê om nie by die laaste kontrolepunt te stop nie omdat daar net agt kilometer oor is en ek reg is. Die laaste twee bulte was baie tegnies. Die eerste een was sanderig met los klippe. Ek hou van sulke tegniese uitdagings en dit was lekker. Ek dink dit is waar ek bietjie tyd opgemaak het want die ander vroue het baie oor die afdraande gekla. Ek het die vrou in die tweede plek gesien en haar probeer inhaal. Dit het vir my gevoel asof ek teen ’n slakkepas hardloop en haar baie stadig verbysteek. Sy het agterna vir my gesê: ‘Jy het van nêrens af gekom en my soos ’n wapen verbygesteek’.”

Die laaste afdraande na die wenstreep was oor ou kleistene en Marietjie onthou die klomp slapende rondloperhonde wat op die wenstreep gelê het en al die mense wat hande geklap het.

“Ek was so opgewonde. Ek het vyf minute agter die eerste vrou geëindig in ’n tyd van 16:28 uur. Ek het algeheel 30ste geëindig. Niemand kon dit glo nie en almal wou weet wie ek is en waar Namibië is. Die meeste van die topvroue is professionele hardlopers. Dit is wat hulle vir ’n lewe doen. Ek het ’n voltydse werk en oefen na werk. As verpleegster kry ek nie baie tyd om te oefen nie, maar ek dink die ure op my voete het vir my die uithouvermoë gegee.”

Yekta het 11de geëindig en Marietjie voel bietjie skuldig en dink as hy vroeër van haar weggebreek het, sou hy onder die top-10 geëindig het.

TOEKOMS

Marietjie wil graag eendag die UTMB in Frankryk doen en die Western States Endurance Race is ook in haar visier.

“Ek sal dit egter nog so ’n jaar gee en eers nog ’n paar 100 kilometer wedlope in Suid-Afrika en oorsee doen voordat ek die twee 100 myl-marathons aanpak.”

RAAD

“Ek hou daarvan om saam met nuwe mense te hardloop. Ek kan nie waarborg dat die roete veilig is nie, maar in ’n groep is dit altyd beter. Ek is altyd bereid om saam met vroue wat veldhardloop wil doen te hardloop. Ons het ook die Wednesday Social-groep wat Woensdae net voor 18:00 by Eagles in Avis bymekaarkom en hardloop of stap. Almal is welkom en niemand is te stadig nie. Daar is baie mense wat verskillende afstande loop of hardloop en agterna drink ons saam ’n koue bier.”

Kommentaar

Republikein 2022-12-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer