‘My lewe is my boodskap’

Henriette Lamprecht

Teen die agtergrond van ’n foto op ’n skerm van haar rooi Land Rover iewers afgeneem tydens een van haar vele reise, is gister in ’n stampvol NG Kerk Eros vir oulaas hulde gebring aan Chrisna Greeff die mens, eggenoot, ma, ouma, sakevrou, baanbreker en die immer plat op die aarde reisiger en avonturier wat in volkleur gelewe het.

Willem Moore, ’n jarelange familievriend en gespreksgenoot, het die diens gelei en begin met die voorlesing van Chrisna se gunstelinggedig “Negester en stedelig” van DJ Opperman en wat onder meer lui: “Voorlopig dan, maar onthou altyd, aan jou dade grens ’n ewigheid; gee sin aan voorgeslagte deur die eeue heen, besef jy is ’n vegter weer van die begin, alleen; en mag die Suiderkruis en Negesterre witter as die stedeligte in jou siel bly skitter.” 

Ingesluit by sy boodskap was onder meer strofes uit Prediker 9 wat op die onvermydelikheid van die dood en onvoorspelbare omstandighede fokus, maar ook om die lewe te geniet en eenvoudige vreugdes te waardeer. 

Verskeie huldeblyke het deel van Chrisna se groet gevorm waaronder haar dogter Christine Hugo wat namens haar en haar sussies vertel het van die krag wat hul ma was, terwyl haar kosbare kleinkinders hul onthou’s oor hul ouma gedeel het. 

In ’n boek met ’n glimlaggende Chrisna, dié keer in ’n geel Land Rover op die voorblad iewers op reis, het familie en vriende hul herinneringe gedeel aan die vrou wat hul lewens vir altyd sou verander. 

Een is Carmen de Villiers van Nakayale Academy wat vertel van die dag 11 jaar gelede toe Chrisna haar groot droom in kleur gedeel het. 

“Die lewe is kort, ons stap met die lig wat ons het en as jy nie ’n lig het nie, kry iemand wat een het. Ons moet die lig in iemand se donkerte wees,” is een van Chrisna se vele wyshede wat sy sal koester. 

Vir Isabel Joubert, ’n universiteitsvriendin wat Chrisna in haar eerste jaar ontmoet het, was sy ’n formidabele vrou wat onverskrokke geveg het vir wat vir haar belangrik is, maar ook ’n liefdevolle, vrygewige en lojale vriendin. 

“Jy het vir my verre horisonne gewys, my vensters oopgemaak sodat die sonlig kon inskyn, vrede gegee.”

James en Henriette Milne, jarelange vriende, onthou haar as vreesloos, onverskrokke, vol moed en met die “magic”-bestanddeel, entoesiasme.

Emeraldsand Platforms (ESP) se uitvoerende hoof, Nangula Nelulu Uuandja, het Chrisna as ouditeur vir Democratic Media Holdings (DMH) in 2010 ontmoet. 

Vir Uuandja is dit veral haar warmte, werklike liefde vir mense en hart vir minderbevoorregtes en ’n diep verantwoordeliksin teenoor die gemeenskappe wat sy gedien het, wat sy sal onthou.

“Vir my los sy meer as ’n merkwaardige nalatenskap van leierskap agter. Sy los die herinnering van ’n wonderlike mens wat met ’n doel gelewe het, diep omgegee het en wat ’n verskil in ander se lewens gemaak het.” 

Volgens Uuandja dien haar lewe as ’n herinnering dat ware leierskap nie net gemeet word aan dit wat jy bou nie, maar aan die lewens wat jy aanraak en die waardes wat jy agterlaat.

Soos deur soveel in hul herinneringe gister gedeel is oor haar lewensmotto “om in die lig te loop”, “een voet voor die ander” het die laaste woorde (geleen van Mahatma Ghandi) aan haar behoort – “My lewe is my boodskap”. 

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-11-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer