Medikasie stop Namibië se Beatrice

Eliot Ipinge

Een van Namibië se mees gevierde jong naellopers en ’n Olimpiese finalis, Beatrice Masilingi, het effektief uit mededingende atletiek getree. 

Dit volg op haar besluit om nie meer die medikasie te neem om haar testosteroonvlakke te onderdruk wat deur Wêreldatletiek se regulasies vir atlete met verskille in seksuele ontwikkeling (DSD) vereis word nie.

In ’n onderhoud met Republikein het die 23-jarige Beatrice gesê dat sy al byna ’n jaar lank nie meer oefen of aan kompetisies deelneem nie, nadat sy weens gesondheidsredes opgehou het om die medikasie te drink. Weens dié besluit, mag sy volgens die huidige reëls nie meer aan wedlope deelneem nie.

Volgens Beatrice sou sy graag na die wêreldverhoog wou terugkeer, maar is nie bereid om dit onder omstandighede te doen wat haar verhoed om vrylik mee te ding nie.

“Soveel as wat ek regtig graag op die wêreldverhoog sou wou hardloop en meeding, lyk dit asof ons nie welkom is nie,” het sy gesê.

Op die vraag of haar vele aanhangers kan verwag dat sy na kompetisies sal terugkeer, het Beatrice gesê dis onwaarskynlik, tensy die regulasies verander. 

“Tensy hierdie regulasies in die nabye toekoms verander, dink ek nie ek sal wil teruggaan nie. As ek nie vrylik gaan hardloop nie, verstaan jy? Ek sal eerder net terugstaan,” het sy gesê.

Wêreldatletiek het DSD-regulasies in 2021 ingestel wat vereis dat sekere vroueatlete hul natuurlike testosteroonvlakke deur middel van medikasie verlaag om aan spesifieke vroue-atletiekitems deel te neem. Die reëls het beide Beatrice en haar mede-Namibiese naelloper Christine Mboma geraak. Die regulasie het albei vroue gedwing om uit hul voorkeur 400 m-item te onttrek en aan korter afstande deel te neem.

Beatrice het daarna die finaal van die vroue-200 m by die 2020 Olimpiese Spele in Tokio – wat in 2021 plaasgevind het – gehaal, nadat sy van die 400 m oorgeskakel het. Sy het ook silwer by die o.20-wêreldatletiekkampioenskap gewen en haarself as een van Namibië se vinnigste vrouenaellopers gevestig.

Volgens Beatrice het die afname in haar openbare profiel ook korporatiewe ondersteuning beïnvloed.

“Vandat ons nie meer in die kollig was nie, was daar geen ondersteuning van maatskappye nie,” het sy gesê met die laaste borgskap wat sover sy kan onthou in 2023 was.

Beatrice fokus nou op haar lewe weg van die atletiekbaan en het die sakewêreld betree nadat sy ’n Wêreldatletiek Vlak 1-afrigtingskursus voltooi en onlangs haar eie naelloopakademie begin het.

“Aangesien ek nie kan hardloop nie, wil ek liewer my kennis aan die volgende generasie oordra,” het sy gesê.

Sy hoop dat afrigting haar steeds aan die sport sal verbind, terwyl dit jong atlete help om hul eie doelwitte te bereik.

Beatrice het Namibiërs vir hul ondersteuning aan haar en Christine tydens hul roemryke loopbane op die internasionale verhoog bedank.

“Ek waardeer die ondersteuning wat hulle aan my en Christine gegee het. Dit was regtig wonderlik om die land op die internasionale verhoog en Namibië as ’n nasie te verteenwoordig,” het sy gesê.

“Maar hulle sal my waarskynlik binnekort saam met my atlete sien!” – [email protected]



Kommentaar

Republikein 2026-09-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer