Lig gaan aan vir San-gemeenskappe
Hoofredaksie – Sowat 140 San-gemeentes bring na raming elke Sondag minstens 4 500 mense bymekaar.
Daarbenewens groei die San se NG kerke teen ’n fenomenale tempo, met ’n “ontploffing” wat in lidmaatgetalle onder die Khwe-mense in Wes-Zambezi gesien word en die gebied alleen wat reeds 23 predikante in opleiding het.
Nog ’n voorbeeld hiervan is die San-bediening op die plaas Henta in die Grootfontein-omgewing, wat oor die afgelope drie jaar sowat 400 dooplidmate bygekry het.
Ds. Regina Nauses, wat die bediening saam met plaaseienaar Benna van Wyk behartig het, is ongelukkig vroeg in Junie oorlede.
Só gesels ds. Andries Gous wat aan stuur van sake by Degnos, die NG kerk geaffilieerde sendelingassosiasie staan. Degnos is kort vir diens en getuienis – noordoostelike streek.
“As ek hier op Grootfontein wegtrek en ek ry by al die gemeentes om, is dit ’n pad van 4 200 km. Die gebied waarin ons werk is 80 000 vierkante kilometer groot,” vertel Gous.
Hy vertel van die broers Atrabe en Totti Tsam, een van die eerstes wat onder die Hai//om San-gemeenskap tot bekering gekom het en per geleentheid in Pretoria aan NG Kerk-gemeentes vertel het van die “wonderlike lig wat vir die Hai//om-volk aangegaan het”.
“Atrebe het later sy kerkraad herinner hulle moet nooit die lig laat uitdoof wat die Here 50 jaar gelede vir hul volk aangesit het nie,” vertel Gous.
Degnos bedien amptelik vier San-kerke, maar weens lidmate wat in afgeleë gebiede woon en moeilik reis, het hulle hulself reeds in 140 kleiner kerkies opgedeel. Hulle werk onder vyf San-groepe in die land, van so ver as Tsumkwe, die Zambezistreek tot Mangetti Duin en Tsintsabis.
“Hierdie San-groepe se tale verskil soveel van mekaar dat as ons bymekaar kom, praat hulle Afrikaans,” sê hy.
Degnos, wat deur die NG Kerk ontstaan het en reeds 65 jaar oud is, het sowat 11 jaar gelede ’n assosiasie op sy eie geword en het tans 56 mense in diens.
“Die totale hoeveelheid voete wat Degnos op die grond het, is rondom 300 mense. Dit sluit kerkraadslede, ouderlinge, diakens, evangeliste en jeugwerkers in,” verduidelik hy.
Degnos is begin toe Ferdi Weich in 1961 deur die Sinodale Sendingskommissie geroep is vir sendingwerk in Tsumkwe onder die Ju//Hoansi-volk.
Die NG gemeentes van Otavi, Grootfontein en Tsumeb was baie nou by die versorging van die werk in die Tsumkwe-omgewing betrokke.
BAIE MENSE WAT NOG MOET HOOR
Toe Gous in 2012 van Windhoek na Tsumeb verhuis het as areabestuurder vir ’n vervoermaatskappy wat ook op die Tsumeb-myn werksaam was, het hy geen behoefte gehad om predikant te word nie.
Op ’n Woensdagmiddag in 2014 gaan hy egter saam met die Tsumeb-predikant ds. Johannes de Koning vir Bybelstudie op Tsintsabis, toe ’n ou San-man, Karel Ganseb, hom vra wat hy op Sondae doen.
Hy en Karel het toe saam die Woord aan die Hai//om-mense in die omgewing gebring, met Karel wat hom soms tot vier keer op ’n dag laat preek het.
“Sodra ons klaar gepreek het, kyk Karel hoe hoog sit die son en sê dan: ‘Daar is nog tyd. Daar is meer mense wat nie die goeie boodskap gehoor het nie.’
“Aan die begin het ek waarskynlik foute gemaak, maar Karel het alles reg getolk. Hy het nie baie skoolgegaan nie en kan nie lees of skryf nie, maar hy het ’n ongelooflike verhouding met die Here,” vertel Gous.
Eindelik is nog twee gemeentes op Oerwoud en Ou Pos gevestig. Toe die Tsumeb-gemeente Gous as sy verteenwoordiger na Degnos se jaarvergadering stuur en hy boonop tot die beheerraad verkies word, het hy besluit om homself vir Degnos se teologiese opleiding in te skryf en het eindelik as ’n standplaasleraar gekwalifiseer.
“In 2020 het die Here my voltyds vir die bediening by Degnos geroep.”
Op die manier het sy pad met uitsonderlike mense gekruis, insluitende dié van Josef Kapinga, ’n gelowige man onder die Khwe-mense, wat ná onafhanklikwording in die destydse Wes-Caprivi-gebied agtergebly het toe die Suid-Afrikaanse weermag en sy kapelaandienste uit die gebied onttrek het.
“Josef het op die een of ander manier sy kerk vir 25 jaar alleen in stand gehou in ’n gebied wat baie ‘donker’ is. Net hy en die Here weet hoe hy dit gedoen het, want hy kan nie lees of skryf nie en kan ook nie werklik vir hulle preek nie,” vertel Gous.
Kapinga is uiteindelik in 2022 as die predikant van die gemeente bevestig.
Oupa Tokkelos, ’n toordokter van die Omega 3-omgewing het op die ouderdom van 103 tot bekering gekom. Sowat drie maande later is hy met kanker in beide sy oë gediagnoseer en hy is tans heeltemal blind.
“As jy by hom kom sê hy egter hy sien nou in die lig, nie meer die donker nie.”
Nog ’n uitsonderlike man is die 96-jarige Johannes Kapanza van Bravo, ook heeltemal blind weens ouderdom, maar wat volgens Gous waarskynlik meer kerke in die noorde van die land geplant het as enige ander sendeling.
Kapanza, wat 14 tale kan praat, preek nog steeds elke Sondag vir sy gemeente – so uit die vuis uit.
SKOOLTJIES VIR VROEë KINDERONTWIKKELING
Degnos fokus op die ontwikkeling van gemeentes en gemeenskappe.
Altesaam 28 van die 56 mense wat by Degnos in diens is, is onderwysers. Degnos het tans 16 vroeë kinderontwikkeling (ECD)-skole, met die eerste wat in 1992 begin is.
“Volgens die jongste statistiek tot ons beskikking, het minder as 10% van die San-gemeenskap tot graad 5 skool gegaan. Een van die hoofredes is die probleem met hul taal en min onderwysers wat dit magtig is en tweedens voeding,” sê Gous.
Hy verduidelik in ’n tradisionele gemeenskap van jagterversamelaars, kry die produktiewe lede altyd eerste kos. Kinders kry laaste kos, want hulle is meer vervangbaar as ’n goeie jagter.
“Van die tradisies het al verander, maar plek-plek steek dit vas. As kinders tussen die ouderdom van 0 en 7 jaar nie genoeg kos kry nie, ly breinontwikkeling daaronder. Boonop is San-mense van die armstes in die land, wat tot die voedingsprobleem bydra.”
Die ECD-skole spits hulle toe op kinders van 4 tot 6 jaar. Degnos identifiseer ’n onderwyser uit hul gemeenskap wat hul taal praat en reeds op een of ander manier betrokke is om kinders te leer.
“Ons stuur hulle vir opleiding, registreer en bou vir hulle ’n skooltjie en die onderwyser is dan verantwoordelik vir die kinders in die omgewing.
“Ons lewer ook maandeliks kos by die skole af om seker te maak elke kind kry elke dag ’n bord kos. Tans voed ons daagliks sowat 450 kinders by die skooltjies.”
Degnos het ook ’n ondersteuningsprogram, Scholarship Assist, om te help om kinders op skool te hou, veral omdat talle San-kinders weens maatskaplike of finansiële redes meestal nie verder as laerskool vorder nie.
Hul landbou-ontwikkelingsbeen help mense om hul eie tuine te vestig en deur hul handelsbeen maak hulle nou kerkwinkels oop om mense te leer om nie op skuld te lewe nie.
Om die gemeentes te help om finansieel onafhanklik te word, het Degnos gastehuise op Tsumkwe en Mangetti Duin ontwikkel en word daar ook nou kamertjies op Omatako gebou.
ONDERSTEUNING AAN GEMEENTES
Degnos is ’n amptelike vennoot van die NG Kerk van Namibië om standplaasleraars op te lei en hoop om ’n opgeleide geestelike leier in elk van die San-kerke te plaas.
“Dit beteken ons moet 140 predikante oplei!” sê Gous.
“Die proses begin met breë evangelisasie-opleiding vir ’n gemeente. Die probleem is dat baie min van ons mense kan lees en skryf en dat die Bybel nie in hul taal beskikbaar is nie.
“Degnos-opleiers teken prente wat die mense moet onthou om die Bybelverhale te leer ken,” verduidelik hy.
“Uit hierdie groepe identifiseer ons mense wat die potensiaal het om verder opgelei te word en hulle kom dan Grootfontein toe. Ons het tans 65 studente op Grootfontein wat in hul eerste jaar van teologiestudies is.”
Gous sê Degnos moet aan sekere akademiese vereistes voldoen, maar omdat hul studente dikwels nie werklik kan lees en skryf nie, maak hulle gebruik van uitkomsgebaseerde opleiding.
“Ons vereis nie dat hulle goed hoef te kan lees nie, hy moet egter ’n nabye verhouding met die Here hê en die Bybel kan lees. Dit beteken baie van hulle leer tydens die opleiding vir die eerste keer lees.
“Hulle moet ook ’n gesonde teologiese onderbou hê en die Woord kan verduidelik. ’n Dominee se opleiding duur altesaam tien jaar – vier jaar behels evangelisasie-opleiding en die res is teologiese opleiding. “Dan het hulle dieselfde status binne hul gemeente as enige ander NG predikant in die land,” sê hy.
Degnos probeer om sy gemeentes te help om selfstandig te word, wat beteken hulle moet hul eie administrasie en finansiering behartig en hulle moet die Bybel binne konteks kan verduidelik en nuwe lidmate werf as gevolg van die verkondiging van die Woord. Hulle moet ook ’n eie kerkkultuur ontwikkel.
“Ons sukkel baie met hul selfadministrasie en -finansiering, maar hulle vaar dikwels baie beter as
baie ander kerke as dit kom by selfevangelisasie of om die evangelie uit te dra.”
Degnos het ook ’n sterk en dinamiese jeugbediening.
“Op Mangetti Duin onder die Vasikela !Kung-mense is daar dikwels tot 280 of 300 kinders in die kerk.
Ons lei jeugleiers op: Drie van hulle is byvoorbeeld deur Child Evangelism Fellowship in Suid-Afrika opgelei om spesifiek met tieners te kan werk en nog 11 is in jeugevangelisasie opgelei.
“Ons hou ook jeugkampe. Vanjaar het ons reeds vyf gehou wat deur sowat 270 kinders bygewoon is.
“Ek glo as jy in die noorde van die land elke 50 km ’n Bybelskool oopmaak, sal jy voltyds studente hê.
Die mense is honger vir die Woord,” sê Gous.
TOEKOMSBLIK
“Ons sal suksesvol wees as onsself uit ’n job gewerk het. Solank mense van ons afhanklik bly, doen ons nie ons werk reg nie,” sê Gous oor sy toekomsverwagtinge vir Degnos.
Hy sê hulle kan insien dat hul Luebo-noord-gemeente binne vyf jaar grootliks op hul eie sal kan funksioneer, terwyl die vinnig groeiende Wes-Caprivi-gemeente moontlik ook vinnig onafhanklik kan word, juis omdat hulle van die San-gemeenskappe is wat oor groter geletterdheid beskik en talle kinders goeie skoolonderrig ontvang.
“Die Wildevy-gemeente in die Tsumeb-Grootfontein-gebied het goeie leiers, maar logistiek is vir hulle ’n groot uitdaging en dit is minder waarskynlik dat hulle vinnig onafhanklik sal kan funksioneer.
“Die Tsumkwe-gemeente sal ook nog ’n ruk lank hulp nodig hê, want die mense hier het baie uitdagings – hulle leef ook afgeleë en hou nog baie aan tradisionele gelowe vas.
“Wat geestelike ontwikkeling betref, voorsien ons dat baie gemeentes binne die volgende tien jaar vir hulself sal kan sorg.
“Finansiële sorg is egter ’n kwessie, want die San-gemeenskappe in die Ooste is arm, infrastruktuur is swak ontwikkel en daar is nie werksgeleenthede nie. Dit is moeilik om hulle te kry om ekonomies te ontwikkel,” sê Gous.
Hulporganisasies wat inkom en net kos uitdeel, help nie om die gemeenskap oor die langer termyn selfvoorsienend te maak nie.
“Uit beginsels help ons oumense en kinders met kos en bied opleiding aan die ander. Degnos sal moontlik oor die volgende tien jaar sterker op die ontwikkeling van mense kan toespits, want die geestelike ontwikkeling vaar reeds baie goed,” sê hy.
Gous of Degnos kan by 081 361 2480 of [email protected] gekontak word.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie