Lüderitz wil Lubowski vereer

Weduwee gee glo haar goedkeuring
’n Gemeenskapsaktivis het ’n inisiatief begin om die Lüderitz-lughawe en die hoofstraat van die hawedorp na die Namibiese anti-apartheidaktivis te hernoem.
Otis Daniels

’n Voorstel om die Lüderitz-lughawe en die hoofstraat (Bismarckstraat) van die hawedorp na die ontslape anti-apartheidsaktivis, Anton Lubowski, te hernoem, kry al hoe meer momentum. 

“Om Lubowski op so ’n sigbare en blywende wyse te vereer, sal nie net sy nalatenskap bewaar nie, maar sal ook as ’n opvoedkundige en inspirerende simbool vir toekomstige geslagte dien,” sê die gemeenskapsaktivis Ndeshipanda Akwenye, die man agter die idee.

“Dit sal verseker dat die jeug van Namibië en veral dié in Lüderitz, grootword met ’n duidelike begrip van die opofferings wat vir hul vryheid gebring is en van die individue wat die land se geskiedenis gevorm het. 

“Jou ondersteuning en aktiewe betrokkenheid in hierdie saak sal deurslaggewend wees om hierdie erkenning wat lank uitstaande is tot verwesenliking te bring,” het Akwenye die Lüderitz-gemeenskap verlede oor die inisiatief ter ere van Lubowski ingelig.

Hy het gesê hy glo sterk dat hierdie dade van erkenning lankal moes gebeur het, veral gegewe Lüderitz se verbintenis met Lubowski se vroeë lewe en herkoms.

“Hierdie voorstel beoog om die nalatenskap en bydraes van Anton Lubowski te eer.” 

Volgens Akwenye is sommige (die meeste) ten gunste van die idee en ander is gekant daarteen. 

’n Konsultasiesessie met die gemeenskap word beplan. 

“Sulke eerbewyse sal nie net sy nalatenskap bewaar nie, maar ook as ’n blywende herinnering vir toekomstige geslagte dien aan die opofferings wat vir Namibië se vryheid gemaak is,” het hy op sosiale media gesê. 

Akwenye het die voorstel, vergesel van ’n seënbrief van Lubowski se weduwee, Gabrielle, ter ondersteuning van hierdie inisiatief by relevante owerhede ingedien, insluitend die kantoor van die president, Lüderitz se Swapo-takkantoor en die kantoor van die uitvoerende hoof van die Lüderitz-stadsraad. 

Die aktivis het ongeveer vyf jaar gelede in gesprek met Gabrielle getree en uitgevind dat daar strate in Windhoek en Swakopmund is wat na Lubowski vernoem is. 

“My ma en die ouer mense het altyd oor Lubowski se lewe in Lüderitz gepraat. Hy was die wit man wat vir die regte van swart mense opgestaan het. Ek het behep geraak daarmee om te weet wie hom vermoor het,” het Akwenye gesê. 

“My suster het dit besef en my aangeraai om eerder iets te doen om sy nalatenskap te eer. Ek kan nie toelaat dat sy herinnering vervaag nie.” 

Volgens Akwenye het Gabrielle die inisiatief ondersteun om haar man te vereer deur ’n straat en selfs die lughawe op die hawedorp na hom te vernoem. 

Lubowski is op 3 Februarie 1952 op Lüderitz gebore. Die ikoon was ’n anti-apartheidsaktivis, advokaat en ’n lid van Swapo. Hy is op 12 September 1989 deur agente van Suid-Afrika se burgerlike samewerkingsburo by sy huis in Windhoek doodgeskiet.

In 2015 is hy tot ’n nasionale held verklaar en sy liggaam is by die Heldeakker buite Windhoek herbegrawe.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-06-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer