Koeksisters egpaar se brood en botter
’n Klein stalletjie by die uitgang van Food Lover’s Market in Swakopmund vertel ’n groter storie van volharding van Boebels en oom Jan Verster.
Hier bou hulle elke dag aan hul bestaan met vars, tuisgebakte koeksisters, mosbeskuit en hawermoutkoekies. Die eenvoudige tafel met ’n kokbeeldjie wat hul naam vertoon, het oor byna ses jaar deel geword van die daaglikse roetine van kliënte wat verbybeweeg.
Boebels Sweets Enterprises het in 2020 ontstaan nadat die Covid-tyd hul inkomste weggeruk het. Boebels vertel sy het vir jare gebak, maar nooit voltyds nie.
“Ek het altyd ’n werk gehad,” sê sy.
Toe die restaurant waar sy gewerk het se besigheid verswak het, moes die egpaar vinnig aanpas.
“Toe Covid kom, het ek my werk verloor en ons moes iets doen om ’n inkomste te kry,” vertel Boebels.
Met net ’n klein pensioen en ’n lening van N$500 om bestanddele te koop, het sy begin bak en op sosiale media geadverteer. Die eerste dag het sy vyf pakkies koeksisters verkoop.
“’n Week later het ons al by 30 pakkies ’n dag gekom,” sê sy.
Vandaar het die vraag stadigaan gegroei totdat ’n vaste plek by die winkel se uitgang moontlik geword het.
Die dag begin lank voor sonsopkoms.
“Ek begin tweeuur in die oggend met beskuit,” verduidelik sy.
Die deeg moet rys, die oond is klein en net ’n paar panne kan op ’n slag gebak word. Later volg die koeksisters, vars voorberei vir die dag se verkope. Dis handearbeid – geen masjiene nie, net hande en geduld. Slaap kom in kort rukke tussenin, met ’n wekker wat weer roep wanneer die volgende skof begin.
Oom Jan, self ’n pensioenaris, sit elke dag agter die tafel en verwelkom kliënte. Die klein stalletjie het vir baie gereelde besoekers ’n bekende gesig geword.
Volgens Boebels is varsheid hul grootste geheim.
“Dit word elke dag vars gebak,” sê sy. “As ons gemors aan mense verkoop, gaan ons nie ons geld maak om ons uitgawes te dek nie.”
Die onderneming is vandag hul enigste bron van inkomste, buiten die pensioen. Die verkope moet huur, water, krag, petrol en nuwe bestanddele betaal.
“Elke dag is nie ’n goeie dag nie, maar ons hou aan,” volgens Boebels.
Ten spyte van die uitdagings sê die egpaar die ondersteuning van die gemeenskap en die winkel self het ’n groot verskil gemaak.
Hul pad was nie sonder dorings nie. Daar was fases waar hulle selfs hul woonplek moes opgee en by familie gaan bly het. Die aanpassing was swaar, maar het hulle gemotiveer om weer selfstandig te werk. Vandag kyk hulle terug op byna ses jaar se volgehoue arbeid en sê dit bewys dat nuwe beginne moontlik is.
Vir Boebels gaan dit uiteindelik oor meer as net gebak. Sy glo mense moet hul eie vermoëns ontdek, selfs wanneer omstandighede druk.
“Dit is nie maklik nie, maar dit is doenbaar,” sê sy.
“Ek dink elke mens het iets wat hy kan doen en die wêreld vierkantig in die oë kan kyk.”
By die uitgang van Food Lover’s Market bly die klein tafel elke oggend staan – ’n herinnering dat harde werk, eenvoudige produkte en volharding steeds ’n bestaan kan bou.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie