Kanoniki-padstal kook

Gasvryheid langs die Oranjerivier
Dis ’n unieke gemeenskapsprojek waar ’n ou wynkelder is in ’n ruimte vir kuns, plaaslike produkte en menslike stories omskep is. Dis ’n plek waar gasvryheid en kreatiwiteit saamkom en besoekers ’n eg Noord-Kaapse ervaring bied.
Annemarie du Toit

Die Kanoniki-padstal op Kanoneiland in die Noord-Kaap is veel meer as net ’n gewone padstal langs die Oranjerivier. 

Dis ’n plek waar gemeenskap, kuns, kos en stories saamvloei in iets wat baie nader aan ’n ervaring as ’n besigheid voel.

Die padstal het ontstaan nadat ’n ou wyn- en sapkelder van die Orange River Cellars (OWK) jare lank leeg gestaan het. In plaas daarvan om die gebou agteruit te laat gaan, het Joa Bekker en sy span besluit om dit nuwe lewe te gee. In November 2021 het die Kanoniki-padstal sy deure oopgemaak.

“Ons het toe besluit, hy kan nie so leeg staan nie. ’n Plek wat nie gebruik word nie, verval,” vertel Bekker.

Wat vandag hier staan, is ’n ruimte wat doelbewus rondom mense en die gemeenskap gebou is. Van die begin af, was dit nie net ’n sakeprojek nie, maar iets met ’n groter visie.

“Ons het van die begin af besluit dit moet ’n gemeenskapsprojek wees,” sê hy. 

“90% van die goed wat julle in die padstal sien, word hier gemaak.”

Dit sluit alles in van droëvrugte, dadels en konfyt tot beskuit, koekies en blatjang. Selfs die manier waarop die produkte verpak word, is deel van die konsep – eenvoudig, plaaslik en sonder onnodige vermorsing.

Die kunsgalery wat in die ou wynkelder gehuisves word, is een van die padstal se mees unieke konsepte. Waar wyn eens gestoor is, hang nou werke van kunstenaars uit die streek en oraloor Suid-Afrika.

“Ons het nie genoeg wyn om dit vol te maak nie,” skerts Bekker oor die ruimte, “toe besluit ons, kom ons maak dit ’n kunsgalery.”

Die kuns en produkte saam gee die stalletjie ’n karakter wat sterk in die Noord-Kaap se identiteit gewortel is– rou, kreatief en eg.

Vir Bekker gaan die projek nie net oor kuns of produkte nie, maar oor mense. Vir hom is gasvryheid die kern van alles wat hier gebeur.

“Die eerste ding wat my vang, is of die persoon gasvry is of nie,” sê hy oor die toerismebedryf. 

“En ek dink dis ’n belangrike ding.”

Hy beskryf ook hoe belangrik dit vir hom is om daagliks met mense te werk en hul stories te hoor. 

“Ek ontmoet elke dag nuwe mense en mense vertel baie graag hulle stories. In die stede leef ons net verby mekaar.”

Daardie menslike verbintenis is volgens hom een van die grootste waardes van ’n plek soos Kanoniki-padstal.

Kos bly natuurlik ’n groot trekpleister. Droëvrugte soos rosyntjies, dadels, perskes en mango’s verkoop goed, maar dit is die eenvoud van tuisgemaakte kos wat mense laat terugkom.

“Ek eet graag ’n skaappastei met skyfies,” sê Bekker met ’n glimlag. 

“Ons maak die skyfies vars hier.”

Hy geniet dit veral om mense iets te laat proe en te sien hoe hulle dit waardeer. 

“Dit is vir my lekker om mense te sien geniet wat ons aanbied.”

Die Kanoniki-padstal is ook deel van die groter kokerboomroete, ’n inisiatief wat daarop gemik is om toeriste langer in die streek te hou. 

Baie mense ry eenvoudig deur die Noord-Kaap op pad na ander bestemmings, maar Bekker glo daar is baie meer om te ontdek.

“Mense ry maar net deur. . . en ons werk hard daaraan dat hulle vier of vyf dae hier deurbring,” sê hy. 

“Daar is baie om te doen – fietsry, stap en net die natuur geniet.”

Wanneer hy jongmense in die toerismebedryf raad gee, is sy antwoord eerlik en prakties. Hy waarsku dit is nie ’n maklike bedryf nie, maar beklemtoon egter twee belangrike beginsels.

“Eerstens gasvryheid. En tweedens goeie finansiële bestuur. 

“Jy moet weet wat werk en wat nie werk nie.”

Die Kanoniki-padstal is uiteindelik ’n plek wat nie net oor verkope of toerisme gaan nie, maar oor verbintenis – tussen mense, die bestemming en stories. 

Dis ’n ruimte waar reisigers nie net verbyry nie, maar vir ’n oomblik stilstaan en deel van iets eg en plaaslik word.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-08-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer