FOTOu2019S CARLI ABRANTES
FOTOu2019S CARLI ABRANTES

Jou oase in the Kalahari

’n Besonderse toevlugsoord
Die African Vineyard-boetiekhotel, sowat 25 km vanaf Upington in die Noord-Kaap, is tussen wingerde op Kanoneiland geleë.
Annemarie du Toit

Net buite Upington, tussen rye en rye wingerde en die Oranjerivier, lê ’n versteekte oase waar gaste kan ontspan, trou, kuier en net weer asem kan skep. 

African Vineyard Boutique Hotel & Spa op Kanoneiland bied gaste ’n verblyf-ervaring wat hulle nooit sal vergeet nie.

Elmarie de Bruin, die eienaar, het hierdie unieke venue in ’n besonderse toevlugsoord in die Noord-Kaap omskep.

Die boetiekhotel, sowat 25 km van Upington, is tussen wingerde op die eiland in die Oranjerivier geleë en word as “jou oase in the Kalahari” beskryf. 

Die venue bied luukse kamers, ’n spa, ’n restaurant, trou- en konferensiegeriewe en pragtige tuine vol voëllewe.

Vir Elmarie gaan dit egter oor meer as net verblyf.

“Ek sê altyd my hele idee is om my private ruimte te deel sodat jy kan tuis voel,” vertel sy. 

“Dis presies wat ek wil hê die gas moet ervaar.”

Daardie gevoel van tuiskoms is doelbewus geskep. Volgens Elmarie is elke kamer uniek, want elke mens is uniek. 

“Elke kamer is anders, want elke bruid is anders, elke gas is anders.”

African Vineyard het 14 luukse suites en kamers en is ’n gewilde oornagplek vir reisigers op pad na die Kgalagadi-oorgrenspark, die Augrabies-waterval Nasionale Park, die Richtersveld en Namakwaland.

Nog ’n groot trekpleister is die kunsgalery op die perseel, wat die werk van plaaslike kunstenaars ten toon stel. Elmarie het reeds in 2014 begin om kunsgeleenthede aan te bied nadat sy besef het hoeveel talent in die streek versteek was.

“Daar was ongelooflik baie talent, maar nie noodwendig blootstelling nie,” sê sy. 

“Ons het klein begin, maar dit het elke jaar gegroei.”

Later het sy musiek en kuns gekombineer deur Arts in Music-geleenthede aan te bied, waar kunstenaars en sangers saam optree.

Die bekende Suid-Afrikaanse kunstenaar Nataniël het ook al die galery besoek en twee kinderskilderye gekoop. Volgens Elmarie het hy gesê kinders skilder sonder om voor te gee – reguit uit die hart.

Troues vorm egter steeds ’n groot deel van African Vineyard se identiteit. Met seremonie-areas langs die rivier, tuinonthale en ’n elegante saal, kan die venue klein intieme troues of groter funksies van tot 200 gaste akkommodeer.

“Ek is ’n romantikus,” lag Elmarie. 

“My dogter sê altyd ek het nie net een dogter nie – ek het honderde dogters, want ek hou so baie van troues.”

Vir haar gaan ’n venue nie net oor dekor nie, maar oor die gevoel.

“Vir my gaan alles oor emosie. Jy hoef nie baie te doen om die regte atmosfeer te skep nie.”

Die spa bly egter haar “hart”. Die welstandspa bied behandelings met Kalahari-produkte en fokus op rus, herstel en stilte. Gaste kan behandelings binne of buite geniet, met uitsigte oor die wingerde en die getjirp van voëls in die agtergrond.

Elmarie vertel dat selfs mans al deur die ervaring verras was.

“Hulle stap onseker in en stap glimlaggend uit.”

African Vineyard is nie net ’n stopplek langs die pad nie – dis ’n bestemming.

’n Plek waar kuns teen die mure hang, waar troufoto’s tussen wingerde gekiek word, waar sjampanje op ys wag en waar die stadige ritme van die Noord-Kaap ’n mens uiteindelik inhaal.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-05-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer