Jong plaaslike modelle pronk op SA loopplank

‘Daar is vooruitgang in die bedryf’
Jong modelle hou Namibië se naam hoog tydens 'n gesogde modelkompetisie in die buurland.
Iréne-Mari van der Walt
Ses-en-twintig jong Namibiese modelle het onlangs aan die Global Student Model of the Year-kompetisie in Suid-Afrika deelgeneem.

Faith Niigambo (9) is as die wenner in die meisies se kommersiële kategorie (7 tot 9 jaar) gekroon en Giana van den Heever (6) as die wenner in die meisies se vaardigheidskategorie (2 tot 6 jaar).

Die kompetisie bestaan uit drie kategorieë, naamlik vaardighede, mode en kommersieel.

“Die vaardigheidskategorie word as een van die moeilikste kategorieë beskou, aangesien modelle die perfekte uitvoering van alle tegniese vaardighede wat hulle tydens hul opleiding geleer het, moet demonstreer.

“Slegs modelle wat foutloos presteer, word met plasings beloon,” het Juanita Dahms, die direkteur van die modelle se agentskap, Figures Models Namibia, gesê.

Behalwe Van den Heever, is twee ander plaaslike modelle, Selena de Barros (7) en Johaney Greeff (16), as naaswenners in die vaardigheidskategorie vir onderskeidelik 7 tot 9 jaar en 16 jaar en ouer gekroon.

Erika Rasch (18) het derde in die modekategorie vir modelle van 16 jaar en ouer geëindig.

“Die modekategorie fokus op looptegniek, postuur, selfvertroue en algemene teenwoordigheid, waar professionele standaarde en lengte ’n belangrike rol speel,” verduidelik Dahms.

In die kommersiële kategorie het drie modelle – Lecelia Bezuidenhoudt (7), Franja Gericke (11) en Melissa du Toit (14) – hulle ook goed van hul taak gekwyt.

Bezuidenhoudt het derde gekom in die groep 7 tot 9 jaar, Gericke is as naaswenner in die groep 10 tot 12 jaar aangewys en Du Toit het derde in die groep 13 tot 15 jaar geëindig.

“Die kommersiële kategorie beklemtoon algemene markaantreklikheid, insluitend gelaatstrekke, vel, hare, postuur en algehele aanbieding, wat geskiktheid vir advertensies en kommersiële werk weerspieël,” sê Dahms.

Le-Roshaan Julius het in die derde plek geëindig in die onderwyserskategorie.

UITDAGINGS

Volgens Dahms belemmer onder meer beperkte internasionale geleenthede tans hierdie bedryf.

“Modelwerk in Namibië kan uitdagend wees, maar deur gestruktureerde opleiding en internasionale geleenthede help ons modelle om grense oor te steek en wêreldwye ervaring op te doen, terwyl hulle steeds hul land trots verteenwoordig,” het sy gesê.

Dahms meen egter daar is vooruitgang in die bedryf ten spyte van verskeie uitdagings.

“Daar is nog faktore wat modelle in Namibië kan terughou, maar die bedryf is stadig besig om te verbeter.

“Met verhoogde professionaliteit, internasionale samewerking en volhoubare ontwikkelingsplatforms sien ons reeds positiewe groei.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-03-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer